“Hoe meer dinge verander, hoe meer bly alles net soos dit is.” Die waarheid van hierdie woorde wat aan die 19e eeuse Franse joernalis, Jean-Baptiste Alphonse Karr, toegedig word, kan goed versinnebeeld word deur sekere onderstrominge van die afgelope 15 jaar in die Bronberg-gebied.
Ontwikkeling het wel die gesig van ons kontrei op plekke onherroeplik verander, mense het gekom en mense het gegaan, owerhede en leiers het verander. Maar die hart en siel van ons mense (goed en sleg) en ons probleme, frustrasies en vreugdes het maar net dieselfde gebly. Soos die wyse Salomo baie lank voor monsieur Karr gesê het: “Daar is niks nuuts onder die son nie.”
Blaai jy deur die Bronnies van die afgelope anderhalf dekade, vind jy dat die gebied van meet af aan geteister word deur morsjorse en rommelstorters. Veral die selfsugtige gewoonte van sekere voorstedelinge om hulle ongewenste gemors langs hulle bure se landelike paaie, of sommer op hulle eiendomme af te laai, blyk onveranderbaar te wees.
Wat ook dieselfde gebly het, is die landelike gemeenskap se volharding daarmee om die morsjorse vas te vat en tot reiner insigte te probeer bring.
Van ons bestaansjaar af reeds, het mense oorlog gevoer teen morsjorse. Die oorsprong van die afgegooide rommelhope op of naby hulle eiendom is nagespoor en die rommelstorters is gekonfronteer en soms deur die Bronnie ontmasker. Self het ons by die Bronnie oor die jare ‘n hele paar rommelboewe opgespoor en vasgevat.
Ook in hierdie uitgawe berig ons oor ‘n morsjors wat sy rieme op Zwavelpoort styfgeloop het toe ‘n lid van die gemeenskap hom betrap en gedwing het om sy gemors weer op te tel en saam met hom te vat. Niks is inderdaad nuut onder die son nie.
Die vraag is nou of dit enigsins die moeite werd sou wees om deurlopend te skop teen dié uiters onbedagsame gewoonte van sommiges wat ander se omgewing en lewens met hulle vuil rommelgewoontes versuur? Hoe meer dinge verander, hoe meer bly dit tog maar net dieselfde? Natuurlik is dit die moeite werd, is die antwoord.
Die aktiewe teenkanting van rommelstorting en van ander ongewenste optredes en gewoontes binne ons gemeenskap, gaan bes moontlik nie die probleem in sy geheel die niet in laat verdwyn nie, maar dit gaan beslis ‘n verskil maak en verhoed dat dit heeltemal hand uitruk.
Hier is dit, met apologie aan die heer Karr, ‘n geval van: Hoe meer gedoen word om dinge te probeer verander, hoe nader aan aanvaarbaar en draaglik sal alles ‘wat dieselfde bly’, dalk word. |