Ongeluk-raaisel opgelos PDF Print E-mail
News - Briewe
Monday, 29 May 2017 13:58
Untitled Document

Karen Stadler van Bashewa skryf:
Ons bly al tien jaar lank uit op Garstfonteinweg en dit is ‘n pad wat ek bykans elke dag ry. Ek het al soveel kere gesien dat daar karwrakke op een spesifieke plek langs die pad lê en het altyd gewonder hoekom.

Vandag verstaan ek presies wat met dié noodlottige ongelukke gebeur en ek sal graag wil praat want dié wat in die ongelukke dood is, kan nie sê wat gebeur het nie.

Ek het altyd gewonder hoekom die ongelukke gebeur op ‘n draai wat nie eers so skerp is nie. Dit is die draai wes van waar Newlands Staal destyds handel gedryf het.

As jy wes met Garstfonteinweg-verlenging ry is daar so ‘n klomp pyltjies wat die draai aandui. Die ongelukke gebeur aan die einde van daardie pyltjies, waar daar ‘n bord op is wat sê ‘Rietfontein’. Jy kan dit net kan sien as jy klaar bykans bo-op die afdraaibord is. Dis daar waar ‘n skietbaan is. Die karre lê gewoonlik ná dié bord aan die ander kant van die pad teen ‘n wal af.

Dit het amper met my gebeur. Ek het 80 km/h om dié draai gery toe die kar voor my dood gestop het. Die kar het stilgestaan in die pad om by die Rietfontein-pad in te draai, maar kon nie, want daar is ‘n groot gat in die pad.

Nou weet ek hoekom die mense daar doodgaan. Jy kan nie sien dat daar ‘n pad is nie en niemand verwag dat ‘n kar daar gaan afdraai of doodstil gaan stop nie. Ek het dit reggekry om verby te swaai en op die grondpad-skouer langs die teer verby te ry.

Ek sal voorstel dat daar waarskuwingsborde opgesit moet word, anders gaan mense aanhou om daar dood te gaan en hulle geliefdes sal aanhou wonder hoekom hulle juis daar van die pad afgery het, oënskynlik sonder enige rede.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online