Baardvrou was dogter van Pretoria se eerste inwoners PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Sunday, 30 April 2017 15:24
Untitled Document

Angie Kleijn

Bykans vyftig jaar ná Pretoria se ontstaan het ‘n bekende kleremaakster se baard vir groot konsternasie in die Engelse Oorlog gesorg. Lord Kitchener se tuiswag wou haar telkens gevange neem en dan moes sy bewys dat sy, baard of te not, nie ‘n vermomde manlike spioen was nie.

Aletta Maria was die oudste dogter van Hendrik en Johanna Vermeulen, vroeë inwoners in die distrik van dit wat in die 1850’s Pretoria sou word. Sy het nooit haar baard geskeer nie, maar ongelukkig is die enigste beskikbare foto van haar so dof dat die baard skaars daarop wys.

Baardvroue is sedert die 1400’s beskryf en geskilder; die eerste een wat aan ons bekend is, was ‘n vrou genaamd Wilgefortis. Helena Antonia was ‘n baardvrou uit die 1500’s en Magdalena Ventura se portret is in 1631 deur Jusepe de Ribera geskilder.

In die 1800’s en vroeë 1900’s het die term ‘bearded lady’ ‘n cliché geword wat na vreemde vertonings by karnavalle en sirkusse verwys. Bekende baardvroue was Barnum se Josephine Clofullia, Ringling Bros se Jane Barnell en Annie Jones Elliot, ‘n Amerikaanse baardvrou wat van 1865 tot 1902 gelewe het en saam met PT Barnum se sirkus getoer het.

‘n Klein persentasie vroue begin met puberteit om ‘n vol baard te groei. Dit is soms die resultaat van ‘n hormoon-wanbalans (gewoonlik ‘n oordaad androgeen) of ‘n rare genetiese afwyking (hipertrichose). Deesdae kan dit ook deur die gebruik van anaboliese steroïede veroorsaak word.


Catharina Elizabeth Vermeulen en haar man Guillaume Schoonbeeck Pretorius, ‘n seun van kommandant-generaal Andries Pretorius se broer, Bart
Foto: S du Preez

Aletta Maria, oudste dogter van Hendrik en Johanna Vermeulen, het nooit haar baard geskeer nie
Foto: G Engelbrecht
.
.

Nagmerrie
Baardvrou Aletta is in 1845 in die Kaapkolonie gebore. Haar lewenspaadjie was nie ‘n maklike een nie en Harry Struben skryf oor haar nagmerrie-ondervinding in sy boek, ‘Recollections of adventures – Pioneering and development in South Africa: 1850-1911’.

Ná haar grootword-dae in die Pretoria-omgewing het sy met Jan Gabriël Marais getrou en hulle het op Heidelberg gewoon. Jan is met ‘n jagekspedisie voor Aletta en haar sesjarige seuntjie, glo ook Jan genoem, deur die weerlig doodgeslaan. Daar was niemand om te help nie en dié twee moes Jan se lyk op die wa gelaai gekry en twee agterosse, wat ook deur die weerlig doodgeslaan is, lossny. Daarná moes hulle die swaar-gelaaide wa reggedraai kry om die ander osse weer in te span.

Aletta het ook twee dogters by Jan gehad: Johanna S en Cornelia Jacoba. Ná Jan se dood het sy en haar kinders by haar ouers op die plaas Hartebeestpoort, waar Silverton jare later aangelê is, gaan woon tot sy op die ouderdom van 28 jaar met die wewenaar Gerhardus Johannes Engelbrecht getroud is.

Hulle het ‘n seun en drie dogters gehad: George Diederik, Aletta Maria, Catharina Elizabeth en Adriana Stephina. Toe Gerhardus in 1896 oorlede is het Aletta haar as kleremaakster in Pretoria gevestig.


Hendrik en Johanna Vermeulen se drie seuns, van links na regs: Hendrik (Hennie-Boet),
Jan Albert en Guillaume
Foto: S du Preez

Vermeulens
Sophia du Preez se navorsingsartikel, ‘Die eerste bewoners van Kerkplein, Pretoria’ vertel waar Aletta en haar Vermeulen-voorvaders vandaan gekom het. Sophia se artikel het in die Afrikana Tydskrif van 1988 verskyn en berig dat die Vermeulens ‘n lang trekker-familiegeskiedenis het.

Aletta se oupa, Guilliam Christoffel Vermeulen, het in die vroeë 1800’s in die oostelike Karoo geboer. Hy was ‘n trekboer wat jare voor die Groot Trek elke nou en dan beter weivelde buite die koloniale grense gaan soek het. Guilliam is op 3 April 1809 met Johanna Philippina Wolfaardt getroud en hulle het vier seuns en drie dogters gehad.

Guilliam en sy boesemvriend, Frederik Coenraad de Beer, en hulle gesinne het stadig noordwaarts begin trek. Guilliam se oudste dogter, Catharine Elizabeth, is op 12 Junie 1836 met Frederik Jacobus Matthys de Beer getroud. ‘n Paar jaar later het haar suster met ‘n broer van haar man getrou. Maria Adriana is op 2 Oktober 1843 met Matthys Johannes de Beer getroud.

Ná die slag van Boomplaats het Guillaume en sy twee jongste seuns, Hendrik Johannes en Jacobus Gerhardus (Kootjie), sowel as Frederik de Beer en sy twee seuns, wat met Guilliam se twee dogters getroud is, na die Magaliesberg verhuis.


Kerkplein, Pretoria, 1857. Dié potlood- en waterverf-skildery van Marianne Churchill is die oudste afbeelding van Pretoria
Foto: Stadsraad van Pretoria

Trou
Kootjie is aanvanklik in Colesberg met Heiltje Magdalena Esterhuizen getroud en ná haar dood, het hy op 29 Mei 1848, ook in Colesberg, met Philippina Susanna van der Walt getrou. Sy was die dogter van Andries Petrus van der Walt, Pretoriase veldkornet, en Cornelia Magdalena, ‘n nooi Potgieter.

Kootjie het vier seuns gehad, waarvan net die oudste, Guillaume Christoffel, en die jongste, Thomas Benjamin, oorleef het. Daar was ook vyf dogters.

Sy broer Hendrik is met Johanna Sophia van Niekerk, dogter van Jan Albert van Niekerk en Aletta Margaretha Maria, ‘n nooi van der Merwe, getroud. Hulle het ses kinders gehad. Aletta Maria (die baardvrou), Catharina Elizabeth (later Pretorius), Guilliam Christoffel, Johanna Sophia (later Fourie), Jan Albert en Hendrik Johannes (Hennie-Boet).


Hendrik en Johanna Vermeulen en hulle jongste seun en dogter in ongeveer 1860
Foto: S du Preez

Pretoria
Plase in die Pretoria-omgewing is reeds in 1841 uitgemeet en Sophia du Preez skryf dat Hendrik en Kootjie hulle op ‘n hoogtetjie naby die Apiesrivier, waar Kerkplein vandag is, gevestig het.

Die vroeë inwoners van dié gebied het seker gemaak dat hulle naby ‘n fontein woon. In dié omgewing was daar ‘n fontein oorkant dit wat ons vandag as die Provinsiale Administrasiegebou in Pretoriusstraat ken; nog een by Volksstemlaan, wat eers Fonteinlaan geheet het; en een wat in Burgerspark ontspring het.

Vermeulenstraat is na Hendrik en Kootjie vernoem. Hulle het ‘n aandeel in die aanlê van ‘n watervoor na Kerkplein gehad. Hendrik se huis was op die plek waar die Paleis van Justisie later gebou is. Kootjie het in ‘n baksteenhuis gewoon waar die Capital Teater later was – langs die oostelike ingang na die Transvaalse Provinsiale Administrasiegebou. Hy het etlike persele in die nuwe dorp gekoop en verkoop.


Annie Jones Elliot, ‘n Amerikaanse baardvrou wat saam met PT Barnum se sirkus getoer het
Foto: Wikipedia

Hendrik en Kootjie kon altwee messelwerk doen en het met die bou van die eerste kerkie van die gemeente Pretoria Philadelphia Broederschap op Kerkplein, gehelp. Kootjie was ook lank koster van die gemeente.

Hendrik het perdekoetsritte na die Oos-Transvaal gebied; hy was lid van die landskommissie en heemraadslid. Die vergadering van die kommissieraad van die volksraad, wat bepaal het dat Pretoria hoofstad sou word, is van 27 tot 30 Mei 1856 in Hendrik se huis gehou.


Mathys Johannes de Beer
Foto: MyHeritage
.

Hendrik en Kootjie Vermeulen se jongste suster, Maria Adriana de Beer. Haar man het die plaas Garstfontein besit
Foto: G de Beer

Hartebeestpoort
In 1853 het Hendrik en Kootjie se pa, Guilliam, en sy skoonseun, Frederik Jacobus Matthys de Beer, die plaas Hartebeestpoort van David Adolph Michael Botha gekoop. David het die 1 800 morg grootte Hartebeestpoort in 1848 daar uitgemeet. Dit is waar die pioniers-opelugmuseum in Silverton vandag is.

In 1859 het Hendrik die suidelike deel van die plaas by sy pa geërf. Die oordrag van die plaas op sy naam was op 28 Oktober 1859. Frederik de Beer, wat op die noordelike deel van die plaas geboer het, het die plaas in 1872 aan Cornelis Moll verkoop.

In 1873 het Hendrik sy gedeelte aan sy seun Jan Albert Vermeulen en sy skoonseuns Guillaume Schoombee Pretorius en Willem Adriaan Fourie vir £105 elk verkoop. Op 25 September 1874 het dié drie die plaas aan die Duitser, Hans Heinrich Mundt, vir ’n bedrag van £1 400 verkoop. Oordrag van die eiendom was op 22 Maart 1875.


Die eerste kerk in Pretoria in 1857, die Nederduitsch Hervormde kerk “Pretoria-Philadelphia”. Dié kerk het in 1882 afgebrand
Foto: Gereformeerde Kerk, Pta

Oorlede
Hendrik het tot met Johanna se dood in 1872 op Hartebeestpoort gewoon. Hy het op 3 Junie 1873 op Potchefstroom met Johanna van Tonder, die weduwee van Pieter Cornelius Oosthuizen, getrou en het tot sy dood op 4 Januarie 1895 in die wyk Gatsrand, Potchefstroom-distrik gewoon.

Kootjie het later na Rietfontein getrek. Sy vrou Philippina is in 1889 oorlede en Kootjie in 1898.

Baardvrou Aletta Maria is op 31 Maart 1915 in die ouderdom van 70 jaar op Leeufontein 568, Pretoria-distrik, oorlede. Ná Gerhardus Johannes Engelbrecht se dood het sy nooit weer getrou nie.


‘n Toneel uit ongeveer 1865 wys die eerste kerkie op Kerkplein
Bron: Tony McGregor

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online