Pienaarspoorters baklei vir brulpadda en omgewing PDF Print E-mail
News - Aktueel
Monday, 23 February 2009 20:23
Untitled Document

Pienaarspoorters is raadop. Hulle vrees dat die Avondzon Brulpadda Bewarea en sy amfibiese en menslike inwoners se dae getel is en dat sy landelike bedrywighede tot ’n einde gaan kom.

Volgens Annemarie Towsen, projekbestuurder van die Avondzon Brulpadda Bewarea, word dié bewarea bedreig deur ’n nuwe Pienaarspoort behuisingsprojek en motorfietsryers wat by Sambok Bar, waarvan sanger Bok van Blerk ’n vennoot is, bymekaarkom oor naweke.

Die motorfietsverkeer rondom Sambok Bar het die afgelope ruk drasties toegeneem sedert Bok, bekend vir die gewilde lied ‘Delarey’, op KykNet vertel het dat hy een van die eienaars van dié kuierplek is, hoofsaaklik omdat hy dit geniet om daar te gaan motorfietsry.

Selfs Die Bronberger se webwerf, waarop Sambok Bar onder die Vreethans-afdeling verskyn, het ’n groot toename in besoekers ontvang. Dié spesifieke Vreethansrubriek is binne ’n week meer as ’n duisend keer gelees. Honderde mense het Die Bronberger gebel om uit te vind hoe ’n mens by die kuier en motorfietsplek uitkom.


Reuse brulpaddas op ?n Pienaarspoort-plot
Foto: Annemarie Towsen

Toename
Annemarie sê dat die probleem hand uitgeruk het met die toename van motorfietsryers by die sandgate. “Hulle veroorsaak beserings aan diere in die omgewing wat skrik as die motorfietse verby hulle jaag. Die ryers vloek en skree op ons indien ons hulle versoek om stadig te ry,” sê sy.

Annemarie het op meer as een geleentheid beswaarskrifte per hand by Sambok Bar gaan aflaai. Die briewe meld dat die bewarea nie sal huiwer om regstappe te oorweeg as die probleem nie uitgesorteer word nie.

Die reuse brulpadda, Pyxicephalus adspersus, is die enigste van die 125 paddaspesies in ons land wat op die rooidatalys is. Twee-en-dertig brulpaddas is einde Januarie verlede jaar op slegs een van die Pienaarspoortplotte naby aan die sandgate getel.

’n Motorfietsryer wat in dié omgewing gaan ry, wys egter daarop dat ’n motorfietswiel baie minder skade as ’n voertuig, of selfs ’n ‘quad’ se vier breër wiele aanrig. Hy sê dat die ‘quad’-ryers meer geneig is om op een plek soos die sandgate in die bewarea saam te vertoef.

Volgens motorfietsryers het die myn baie meer verwoesting gesaai as wat ’n twee-duim rubberwiel kan doen. Petro Lemmer, spesialis botanikus wat in Pienaarspoort woon, sê egter dat brulpaddas nie natuurlike vleilande van mensgemaakte vleilande kan onderskei nie. Daarom broei hulle in die vlakker sandgate. Dié sandgate vorm juis deel van die brulpaddas se verspreidingsgebied.

Behuising
Die tweede bedreiging vir Pienaarspoort se brulpadda bewarea kom in die vorm van die Pienaarspoort behuisingsprojek. MPM Omgewingskonsultante, aangestel deur Krysanthe Ontwikkelings, is besig met die tweede-fase omgewingsimpakstudies vir die ontwikkeling van ’n residensiële dorp op dele 66 en 67 van die plaas Pienaarspoort. Die eerste fase omvangstudie is reeds goedgekeur deur die Gauteng Department van Landbou, Bewaring en die Omgewing (GDACE).

Dele 66 en 67 is net suid van die spoorlyn wat die Tshwane Metroraad se gebied skei van Nokeng Tsa Taemane. Mamelodi Uitbreiding 18 is noord van die spoorlyn. Die gebied is 215 ha groot, en omtrent 174ha daarvan gaan as volg ontwikkel word: 2 073 residensiële erwe, ses verdere residensiële erwe waarop 1 170 wooneenhede gebou sal word; 2 sake erwe, 37 oop erwe, 4 erwe vir kerke en drie vir skole. Lede van die Avondzon Brulpadda Bewarea is bekommerd oor die effek wat só ’n ontwikkeling op die brulpaddas, wat in dié omgewing broei, sal hê.

Petro Lemmer noem dat die dreineringslyn wat deur die middel van die beoogde ontwikkeling loop, ’n vertakking van die Edendale spruit is wat ’n vleiland in sommige plekke vorm. Sy sê dat die Nasionale Waterwet ’n buffersone van ten minste 30 meter rondom so ’n vleiland voorskryf.

Petro berig dat die eerste rondte van die omvangstudies vir dié ontwikkeling maar redelik oppervlakkig gedoen is. Na slegs twee ure het sy dubbel soveel plante op die terrein gelys as wat in die plant-spesialis se verslag is. Die fauna spesialis het nie eers die dreineringslyn en vlei wat deur die terrein loop raakgesien gesien nie.

Volgens Petro help dit nie om net beswaarskrifte in die media te plaas hieroor nie. Die groen skerpioene reageer slegs op ’n spesifieke vorm wat ingevul moet word en in die tweede rondte van omgewingsimpakstudies ter sprake sal kom.


Lugfoto van die Pienaarspoort-omgewing met distriksgrense

Verkeer
Inwoners noem ook dat die verkeersimpakstudie vir pad D771 nie korrek is nie. Hulle sê dat die pad reeds nie die verkeer kan dra nie en dat klagtes oor die afgelope vyf jaar aan die verkeersafdeling en TPA asook die provinsiale regering deurgestuur is.

Intussen het Delf Sand aangekondig dat hulle aansoek gedoen het vir goedkeuring om silika op ’n groot skaal te myn in Pienaarspoort noord van die spoorlyn. Die omgewingsimpakstudies is reeds gedoen en goedkeuring word binnekort verwag. Dit sal ook toenemende verkeer op pad D771 veroorsaak.

Wolf Snyckers, voorsitter van die Magalies-Bronberg Grondeienaarsvereniging, het infrastruktuur-probleme, soos paaie, water, elektrisiteit en riolering, onder die omgewingskonsultante van die behuisingprojek se aandag gebring. Hy sê dat sekuriteit ’n groter probleem gaan word, veral met die konstruksiefase van dié projek.

Eienaars van sake-ondernemings in Pienaarspoort is bevrees dat toestande so drasties mag agteruitgaan, dat hulle hul ondernemings sal moet skuif. Annemarie Towsen, eienaar van Enduro Ryskool, sê dat sy en haar man die ryskool op hul plot begin het omdat dit ’n rustige landelike omgewing is. Perde is egter senuweeagtige diere en met die toename in geraas, motorfietse en verkeer, sal dit nie meer veilig wees om ’n ryskool vir kinders daar te bedryf nie.

 

© 2019 Die/The Bronberger