Eg Griekse Toula’s verfeniks in Shere PDF Print E-mail
News - Vreethans
Sunday, 30 April 2017 15:23
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Ons bevind ons op ‘n stil Dinsdag in Shere by In Shere. Ja, dit is die amper-nuwe sentrumpie, vlak langs Lynnwoodweg-verlenging se naam: In Shere – in Engels en in Afrikaans ook.

In Shere huisves ‘n aantal kuierplekke van uiteenlopende aard, maar toe ons die Griekse restourant, Toula’s, eers onder die oog kry, laat dit my met min twyfel oor waar ons vandag sou aansit. Metgesel is meer as partydig vir Griekse kos.

Toula’s in Shere is die verfeniksing van die gewilde Toula’s Tavern wat ‘n 13-stuks jaar gelede in Hatfield toegemaak het. Die eienaar, Paul Fagas, het sy oorspronklike kuierplek na sy peetma, Toula, vernoem en die naam behou toe die plek weer in Shere herrys.

Paul het hom in die 13 Toula’s-lose jare besig gehou met die bedryf van ‘n konsessie-seekosrestourant. Hy wou lankal al Toula’s laat herleef, maar kon net nie die regte perseel kry nie, totdat In Shere in Shere staangemaak is, vertel die gemoedelike Paul ons.


Vyf lywige, lekker koninginne

Die atmosfeer en allemintige meze-spyskaart van die nuwe Toula’s is so Grieks as wat dit kan kom – met hier en daar ‘n ietsie uitheems ingewerk. Jy kan in die netjiese binneruim plaasneem of jou sit buite onder ‘n Middellandse-seeblou sambreel kry. Ons sit buite. In die agtergrond speel Griekse musiek. Die ‘gevoel’ is rustig en reg.

Meze, of mezedes, is ‘n keuse van kleiner porsies eg Griekse geregte. Amper soos die Spaanse tapas, net baie lekkerder – luidens Metgesel. Die eetgewoonte het sy oorsprong in die Grieke se vreemdsoortige gebruik om nie ouzo te drink sonder om tussenin te eet nie. Ek het nie getel nie, maar die geregkeuses is legio en ek gaan net hier en daar vlugtig stilhou op die lang reis deur die meze-spyskaart:

Pita-broodjies van verskillende aard kan teen tussen R12 en R19 aangeskaf word. Dan volg ‘n hele rits gereggies wat volgens die spyskaart heerlik saam met die pita sal afgaan:

‘Taramasalata’ is die knetternaam vir ‘n gereg van geklopte viskuit (eiers) van kabeljou. Tzatziki (Griekse jogurt met knoffel en komkommer), aangevulde tzatziki, melitzanosalata (eiervruggereg) en ‘n paar hummusverbuigings tel onder die pita-bygeregte wat almal inweeg teen R29.

Die goeie keuse van slaaikos kan in groter of kleiner porsies bestel word en Griekse slaai en haloumi-slaai is na verwagte hierby ingesluit.


n Bakkie spanakorizo en gebakte bokmelkkaas in fillodeeg

Allerlei gegeurde, gekruide en aangevulde kase (veral feta), toegewoel in fillodeeg, of gebraai of gebak (haloumi) en saam met lekkernye soos neute voorgesit met broodjies soos bruschetta, kos R45 per porsie.

Hoenderkebabs, -blokkies of -repies kan Grieksgemaak op ses maniere teen tussen R45 en R55 geniet word. Twee hiervan kom saam met pasta.

Lam, bees of vark word op ‘n magdom verbeeldingryke maniere voorgesit. Jou voorkeur van souvlakia (sosaties), oondgebakte lam (youvetsi), reuse Griekse frikkadelle (keftedes) gevul met feta onder ‘n uie-en-sampioensous, beeshaasrepe met ‘n keuse van sousies saam met pasta, lamslewer, mousaka en lamstjops is enkeles. Dit kos tussen R49 en R79.

Vars oesters, mossels, garnale, calamari, koningklip en gerookte salm is van die seekoskeuses. En dis net hier waar ek my keuse vir die dag kry. Ek was nie spyt nie.

Ek bestel die knoffelgarnale met gerasperde feta teen R85. Vriendelike kelner bring vyf lywige koninginne aan en wat veronderstel is om ‘n peuselgereg te wees, lewer ‘n heerlike vullende maaltyd op.

Die geure en tekstuur is perfek in ‘n Griekse wip vasgevang. Jammer kelner het nie ‘n jammerlappie of vingerspoelbakkie saamgebring nie.


Die ingang na ‘n Griekse belewenis by In Shere, in Shere

In die aansienlike aantal jare wat ek en Metgesel vreetsaam saam verkeer, het sy nog nooit só lank gevat om te besluit wat sy wil wegwerk nie. Dis nie dat sy nie kan besluit wat om te bestel nie, dis omdat sy nie kan besluit wat om nie te bestel nie, verduidelik Metgesel.

Onder die afdeling vir groentes et al, bestel sy ‘spanakorizo’. Dit is ‘n geurige rysgereg met spinasie, tamatie, uie en sampioene en later sê sy met oortuiging dat geen Spaanse paella eers naasteby so lekker kan wees nie. Soos al die groentegeregte kos die spanakorizo R25.

By haar rysgereg geniet Metgesel drie ‘fillodeegsigare’, gevul met bokmelkkaas, olyfsnysels en songedroogde tamatie en in die oond tot goudbruin gebak. Ek het geproe. Sy oordryf nie as sy meen dis hemels nie.

Ons bestel nagereg en besluit om nie die gebruiklike baklava te beproef nie. ‘n Galaktoboureko (phew!) vir Metgesel en ‘n gerolde fillodeegsigaar gevul met bokmelkkaas en swart kersies saam met donker sjokolade vir my. Metgesel se Grieksvirmywoordpoeding bestaan uit romerige vla, toegevou in fillodeeg en met vrugte en stroop bedek. Ons stem saam dat min goed binne die wet so lekker kan wees. Al die nageregte kos R48.


Kenmerkende kenteken van Toula’s

Toula’s bied ‘n twaalfstuks koffiekeuses aan en het daarby ‘n volwaardige dranklisensie wat ook verbeeldingryk aangewend word.

Jy kan groter enkeldisse (soos Griekse ribbes of ‘n titan T-been) van ‘n ander spyskaart af bestel of spesiale disse van die dag van ‘n swartbord af. ‘n Heel silwervis teen R85 was onder die dag se swartbordkeuses. Ons weet nou waar om te gaan as ons die lywe Grieks wil hou.

O ja, die plek huisves ook ‘n aparte sushi-restourant genaamd Chop Chop, sou jy belangstel.

Toula's is oop van 11 vm tot 10 nm en op Sondae tot 8.30 nm. Jy kan hulle bel by 012-809-1805.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online