Daleen terug by haar ‘dam se eende’ PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Sunday, 30 April 2017 15:23
Untitled Document

Daleen terug by haar ‘dam se eende’

Daleen Botes is in Maart as Kungwini Welsynsorganisasie (KWO) se nuwe uitvoerende hoof aangestel. Sy is ‘n ou bekende in dié organisasie en het van 1997 tot 2012 saam met direkteur Thea de Bruyn daar gewerk. Thea se onverwagse afsterwe in Mei verlede jaar het ‘n reuse leemte in dié organisasie gelaat.

Daleen het in 1997 as huishoudingsbestuurder by die Paul Jungnickelhuis in Zwavelpoort begin werk. Al KWO se welsynsprojekte het oor die jare uit dié tuiste vir 140 volwassenes met gestremdhede gegroei.

Daleen sê sy onthou dat Thea op haar eerste dag by Paul Jungnickelhuis vir haar gesê het dat die organisasie slegs R2.30 ‘n dag vir elke inwoner se drie maaltye het. “Nodeloos om te sê het ek geen idee gehad hoe enige mens dit sal kan regkry nie, wat nog van my. Daar was menige dag in hoofletters gebid vir wysheid en deursettingsvermoë om die wa deur die drif te trek.”


Daleen Botes, KWO se nuwe uitvoerende hoof

Gemeenskap
Daleen en haar man Pierre is al 25 jaar lank deel van die Bronberg-gemeenskap en Daleen verduidelik dat KWO soos haar “dam se eende” voel. Die Botes-gesin woon op ‘n klein plasie in Boschkop, waar hulle met Angus-beeste boer. Hulle het ook varke, ganse, boerbokke en hoenders net om die woord ‘boer’ ten volle te kan uitleef.

“My wonderlike man Pierre ondersteun my nog altyd in my droom om ‘n verskil te maak. Na 27 jaar se huwelik het hy gelukkig al geleer dat ek altyd die ‘stukkende en weggooi-mense’ onder my vlerk wil neem.”

Daleen en Pierre het twee kinders: E’Louise doen haar PHD in bedryfsielkunde in Luxembourg en Stewan is in sy finale jaar met siviele ingenieurswese by die Universiteit van Stellenbosch.

Terug
Daleen is in 2012 na ‘Reach For A Dream Foundation’ as die Pretoriase takbestuurder. Sy het gekies om vanjaar terug te keer na KWO, wat gegroei het om, behalwe die Paul Jungnickelhuis, ‘n verskeidenheid projekte te bedryf.

Daar is die Kungwini Kinderhuis vir 20 tieners met intellektuele gestremdhede. Dié huis is die enigste van sy soort in Suid-Afrika en Daleen sê dit is ‘n eer dat die Departement van Welsyn KWO gekies het om die loodsprojek te doen. Hierdie kinders pas moeilik aan in ‘normale’ kinderhuise.

Dan is daar ook die Kungwini Leersentrums waar kinders onderrig ontvang, die Kungwini gemeenskapsprojekte waar ontwikkelings- en maatskaplike dienste gelewer word en die Nickel Kersmark, ‘n fondsinsamelingsprojek wat ook ‘n platform skep vir Paul Jungnickelhuis-inwoners om die goedere wat in hulle beskermde werkswinkel gemaak word, te verkoop.


KWO-personeel van links na regs, voor: Richard Macorni, Sophy Moya, Daleen Botes, Lisa Addy en Veronica Du Plessis. Middel: Amelia Botha, Tersia Gouws, Flo Millar, Martie Swart, Lynette Breytenbach, Johan Swart, Sanet Janse Van Vuuren, Johannie Burger en Bianca Bolink. Agter: Patricia Masemulu, Wendy Mashilo, Elize Schwartz, Betty Songo, Dorcas Mabena, Karin Berriman, Mara Starkie, Hassan Bukuru en Ansie Heymans

Oorlewing
Daleen sê dat oorlewing in die welsyn geen maklike taak is nie. “Jy is nooit gewaarborg van enige inkomste nie en die verantwoordelikheid vir soveel mense se daaglikse bestaan is geen maklike taak nie.”

As jy nog nie ‘n plek in jou lewe gevind het om ‘n verskil te maak nie, dan nooi Daleen jou graag uit om kontak met Kungwini Welsynsorganisasie te maak. KWO is op plot 214, Lynnwoodweg-verlenging, Zwavelpoort. Skakel 012-940-0221.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online