Erfenis-bome sneuwel voor ontwikkeling PDF Print E-mail
News - Artikels
Sunday, 30 April 2017 15:22
Untitled Document

Inwoners van Cullinan is ontstoke omdat bome met historiese waarde afgesaag en ontwortel is. Dié bome, wat tussen die Premier Hotel en die Cullinan Jewel-winkelsentrum gestaan het, moes glo afgesaag word vir die herontwikkeling van die sentrum.

Volgens UrbanSmart Stads- en Streekbeplanners sluit die herontwikkelingsprojek die ontwerp en ontwikkeling van geïntegreerde openbare-vervoergeriewe in. Dit is ‘n gesamentlike onderneming tussen Stad Tshwane en die eienaars van die Cullinan Jewel Winkelsentrum, SA Corporate Real Estate Fund, bestuur deur Broll Property Group.

Die voltooide projek sal parkeerplek vir die sentrum se klante, bus- en taxi-staanplekke, kraampies vir informele handelaars en ablusiegeriewe vir pendelaars insluit.


Só sneuwel die bome

Toestemming
Maudie Smit van die geskiedkundige Premier Hotel sê dit is baie hartseer dat die eienaars van die winkelsentrum toestemming gekry het om die pragtige ou bome af te saag. Sy sê dat honderde voëls elke aand in dié bome geslaap het en teen skemer en vroegoggend was die gekwetter in die immergroen bome ‘n belewenis. Sy het probeer het om die proses te keer, maar niemand kon haar help nie.

Inwoners soos Teresa Stander en Gillian Comyn vertel dat hulle die gekwetter van die voëltjies wanneer dit skemer word, sal mis. Vivienne van Dyk, mede-eienaar van ‘n plaaslike antiekwinkel, sê dat die bome en die geluid van die voëls Cullinan karakter gee.

“As hulle die bome aanhou afsaag kan hulle Cullinan maar van die toerisme-kaart afhaal. Mense sal groener weivelde gaan soek,” sê sy.

Louwrens Koen, voorsitter van die Cullinanse Erfenisvereniging, sê dat die stads en streekbeplanner en die argitek die aangeleentheid as deel van ‘n terreinontwikkelingsplan moes aanspreek voor die nodige planne goedgekeur kon word.

“‘n Balans moet gehandhaaf word tussen beskermingswaarde en vooruitgang. Ons as erfenisvereniging is wel genader rakende die herontwikkeling en het geen beswaar gemaak nie ná ons tevrede was dat die hotel en die gebou op die hoek, welke geboue historiese waarde het, onaangeraak sal bly. Die aangeleentheid rakende bome is nie met die Cullinanse Erfenisvereniging bespreek nie,” sê Louwrens.


Erfenis-bome wat langs die parkeergrond van die Cullinan Jewel-winkelsentrum gestaan het, is afgesaag

Verskynsels
Omdat die bome uitheems is, word hulle nie deur omgewingsbewaringswette beskerm nie. Sypaadjiebome soos die bykans eeu-oue jakaranda-bome wat Cullinan se strate in groen tonnels omskep, mag egter nie goedsmoeds verwyder word nie.

Die jakarandas van Coronationstraat in Cullinan se Oudorp is ingesluit as een van die wêreld se 16 merkwaardigste boomverskynsels in ‘n foto-artikel deur ‘Bored Panda’, ‘n gewilde bewarings-webtydskrif. Tog gebeur dit dat inwoners boomslopers huur om sonder toestemming dié bome op die sypaadjies, wat munisipale grond is, te verwyder.


‘n Voorstelling van die sentrum vanaf Mainstraat
.

‘n Voorstelling van die sentrum gesien vanaf die hoek van Oaklaan en Mainstraat

‘n Voorstelling van die Cullinan Jewel-winkelsentrum se nuwe parkeergrond vanaf die
suid-oostelike kant
Bron: Flaneur Architects

 

Mense raak elke keer ontsteld as die historiese ou bome vernietig word, maar terwyl dit besig is om te gebeur is daar niks wat enkelinge daaraan kan doen nie, behalwe om voor die saaglem van boomslopers, wat dikwels heel aggressief is, in te spring.

Oorhangende takke, wat moontlike skadegevaar vir eiendom inhou, kan met toestemming deur die munisipale parke-afdeling, afgesaag word.

“Ja, die vernietiging van bome is ‘n baie emosionele saak,” sê Louwrens. “Ons was in staat om ‘n jaar of wat terug die afsaag van ‘n erfenis-boom te stuit deurdat ons betyds verwittig is van die beplande vernietiging. Ses weke gelede is ons eers bewus gemaak van die proses nadat 95% van die boom reeds verwyder is.”


Troepe marsjeer verby die hotel in die Tweede Wêreldoorlog

Die hotel in sy beginjare
.

Strategie
Louwrens verduidelik dat die erfenisvereniging gewoonlik eers gekontak word as bome besig is om gesloop te word of ná hulle reeds gesloop is. Daarom is die vereniging besig met die formulering van ‘n strategie wat die identifisering van beskermwaardige bome en die merk van dié bome insluit.

Die strategie sluit ook skakeling met die Tshwane Metroraad in, sodat die vereniging vooraf geken sal word wanneer hulle bome wil verwyder. Louwrens sê hulle is besig om ‘n aksieplan van optrede vir toekomstige voorvalle uit te werk.

Die Cullinanse Erfenisvereniging is ook betrokke by die nuutgestigte Gautengse Erfenis-aksiegroep wat verteenwoordigers van die groot metropolitaanse munisipaliteite, die Pretoriase Instituut van Argitekte en verskeie erfenisverenigings insluit. Die doel van die groep is juis om duidelikheid oor verskeie erfenis-aangeleenthede te verkry.


Sonstrale deur die bome se blare voor die historiese hotel

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online