Koerantman los eeue se sukkel met eiers op PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Sunday, 30 April 2017 15:20
Untitled Document

Eiers is vir baie eeue reeds ‘n stapelvoedsel. Tog is eierverpakking soos ons dit vandag ken eers in die twintigste eeu ontwikkel. En dit nogal deur die redakteur van ‘n koerant.


In die vroeë 1900’s is eiers in mandjies bymekaargemaak en afgelewer

Toeka se hoenderboere het eiers in mandjies vervoer en as die eiers ver moes reis, is hulle in strooi, houtsaagsels of selfs hoendervere in die mandjies verpak om te verhoed dat hulle rondrol en kraak of breek.


Thomas Peter Bethell se Raylite eierbokse

‘n Voorganger van die moderne eier-verpakking is in 1906 deur Thomas Peter Bethell van Liverpool uitgevind. Hy het geweefde stroke karton gebruik om individuele ‘selle’ vir die eiers te skep. Dié reghoekige raamwerke, bekend as Raylite eierbokse, is in houtkratte of swaar houtkiste gepak. Tog het eiers wat so verpak is aanhou breek.


Reghoekige kompartemente vir eiers
.
.


Die Burger-gesin van Lindleyspoort het hulle eiers in die 1940’s in dié houtkis na Swartruggens, waar die eiers verkoop is, vervoer

In Amerika het hoenderboere, wat eiers met die trein vervoer het, vir ‘n hele ruk swaar metaalhouers gebruik met karton-beskerming binne-in waar elke eier apart in sneespapier toegedraai is.


‘Farmer’s Friend Egg Carrier’ staan op die houer

Dit was eers in 1911 dat die eier-karton, wat verstommend baie lyk soos die verpakking wat ons vandag ken, ontwikkel is. Dit is uitgedink deur ‘n Kanadese koerant-redakteur, Joseph Coyle, wat ‘n dispuut tussen ‘n plaaslike boer en hoteleienaar in Aldermere, Brits-Columbië, probeer oplos het.


Dié pakkie-pos krat is ontwerp om 48 eiers te verskeep. Die krat was van metaal en het twee verwyderbare kartonrakke gehad, elk met 24 kompartemente. ‘n Oop venstertjie in die deksel het die adres waarheen die eiers gepos word, ten toon gestel. Regs daarvan is ‘n venstertjie vir die posseël

‘n Mens kan jou net voorstel hoe die ding gebeur het. Joseph het waarskynlik gereeld in die hotel se kroeg ‘n drankie geniet en moes elke keer hoor hoe die hoteleienaar en die boer baklei oor die eiers wat gekraak of gebreek by die hotel aankom.


Eiers is in so ‘n houtkrat verpak

Reghoekige karton-afskortings in ‘n houtkrat

Hy gryp toe pen en papier en beraam ‘n plan, wat dadelik deur die boer in werking gestel is. Joseph se uitvindsel is die Coyle eier-veiligheidskarton genoem. Dit is tot in 1919 met die hand gemaak. Daarna het Joseph ‘n masjien ontwerp om die verpakking te maak. Dié masjien staan vandag nog in ‘n museum in Victoria, Brits-Columbië.


Nog ‘n soort metaal-krat vir eiers

‘n Weergawe van dié gevormde papierpulp eierkarton is in 1921 deur Morris Koppelman gepatenteer. In die 1950’s het HG Bennett verbeterings op dié karton gemaak. Nog ‘n soort eierkarton is in 1969 deur die Verenigde Industriële Sindikaat in Maine, VSA, gepatenteer en die drie uitvinders is op die aansoekvorms gelys as Walter H Howarth, Gerald A Snow en Harold A Doughty.


Die binnekant van ‘n metaalkrat

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online