Zirts dit in ‘n Zibi-blik PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Sunday, 30 April 2017 15:16
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Help! Twee van die drie groot graderingsagentskappe (S & P en Fitch) het in April Suid-Afrika se staatskuld afgegradeer na rommelstatus. Nie dat dit ‘n te groot verrassing was nie. Hierdie swaard hang al ‘n geruime tydjie oor ons koppe.

Die meeste mense weet net dat enigiets wat die woord ‘rommel’ in het nie goed kan wees nie, maar wat beteken dit regtig? Gaan dit nou weer tande groei en ‘n hap vat uit jou geldjies waarvoor jy so hard werk? Dis op die ou einde tog eintlik al wat saak maak.

Rommelstatus gaan oor risiko en kredietwaardigheid. In maklike terme – wat is die kanse dat Suid-Afrika sy skuld kan terugbetaal?

Wat gebeur nou?
Die rand verswak en staatskuld verhoog dus nog meer en werkloosheid neem toe. Maar dis mos nou nie my of jou probleem nie, of hoe? Wel, die maklikste manier om hierdie staatskuld te finansier is om die belastingkoerse te verhoog.

Gelukkig vir ons is die huidige jaar se koerse reeds aangekondig. Volgende jaar Februarie sal dinge heel moontlik anders kan lyk. Nog ‘n groot probleem is dat invoerprodukte net al hoe duurder gaan word. Die kanse is ook goed dat rentekoerse sal verhoog en brandstofpryse sal styg. Dit klink asof ons dit maar in die Zibi moet zirts en klaarkry.

Is alles nou verlore?
Nie noodwendig nie. Dis nie die eerste keer dat Suid-Afrika rommelstatus het nie. In 1994 is ons ook afgradeer deur S & P en Fitch en die status het so gebly tot onderskeidelik 2000 en 2001.

S & P het in 1997 aan Suid-Korea rommelstatus toegeken en na ‘n daadwerklike poging deur hulle regering om ekonomiese groei te bevorder, het hulle in 1999 hulle beleggingsgradering teruggekry. Herstel is dus moontlik, maar hier raak dit ‘n politieke kwessie. 

Wat moet ek nou doen?
Dit sal wys wees om nie nuwe skuld aan te gaan nie, vir ingeval die rentekoerse die hoogte inskiet. Betaal so gou as moontlik jou bestaande skuld af en draai maar elke sent twee keer om. Almal gaan gebukkend onder die druk van die ekonomie en vasbyt blyk die enigste opsie te wees.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online