Meermin-familie op die rotse PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Sunday, 30 April 2017 15:11
Untitled Document

Op die koppies en rantjies in ons kontrei woon daar ‘n stink gediertetjie wie se mis en urine in parfuum gebruik word en ook as tradisionele medisyne. Hy gebruik 21 verskillende stemgeluide om mee te ‘praat’ en die naaste familie van die klein outjie is reuse- en waterwesens wat gelei het na legendes oor meerminne.

Die klipdassie, Procavia capensis, produseer groot hoeveelhede van ‘n taai mis-en-urine mengsel (‘hyraceum’), wat eeue reeds van rotse afgekrap word as doepa vir epilepsie en stuiptrekkings. Deesdae gebruik parfuum-vervaardigers dit as ‘n tinktuur in alkohol vir ‘n natuurlike muskusgeur.


‘n Dassie-kolonie
Foto’s: Wikipedia

Die klipdassie is een van die vier lewende spesies in die orde Hyracoidea en die enigste lewende spesie in die genus Procavia. Sy twee prominente olifantagtige voortande verklap dat hy familie van die olifant is. Tog lyk hy nie soos sy ander naaste familie wat aanleiding gegee het tot die legendes wat matrose oor meerminne vertel nie - die doegong en manatee, akwatiese soogdiere wat aan die kuste van die Indiese Oseaan van oos-Afrika tot noordelike Australië gevind word.


Die klipdassie het twee lang olifantagtige voortande

Klier
Die klipdassie weeg ongeveer 4 kg, die mannetjie bietjie meer en die wyfie bietjie minder, en is omtrent 50 cm lank. Hulle kleur wissel van grysbruin tot vaalbruin met ’n geel of rooi skynsel en fyn swart spikkeltjies.

Op die rug is daar ’n langwerpige strook ligter pels waar die dorsale klier is. Dié pels kan soos ‘n hond se rughare rys as die dassie bedreig word. Die dorsale klier skei ‘n reuk af wat vir sosiale kommunikasie en die merk van ‘n gebied gebruik word en is meer prominent in dominante mannetjies.

Dassies se voetsole het groot, sagte kussings wat klam gehou word deur ‘n sweetagtige afskeiding van nog ‘n klier. Dit stel die dassie in staat om aan steil oppervlaktes vas te klou.

Hulle verkies om op klipkoppies, kranse of rotse met ‘n bedekking van bosse of bome te bly. Dassies kan ook boomklim.

Hulle vreet gras, blare, struike en kruide en sal tot omtrent 50 meter ver van hulle wegkruipplekke na kos soek. As hulle genoeg vetplantagtige blare inkry, kan hulle baie dae lank oorleef sonder om water te drink.


Die klipdassie

Son
Dassies is daglewend en sit soggens eers in die son om warm te word voor hulle begin wei. In kouer dele van die dag en in die nag kruip hulle styf teen mekaar vas in rotsskeure om so min as moontlik liggaamshitte te verloor. Dit is glo omdat hulle onvolledige termoregulasie het en, soos reptiele, baie liggaamshitte in die nag verloor. Tog moet dassies uit die son uit kom as dit te warm word, anders ‘oorverhit’ hulle.

Dassies rus omtrent 95% van die tyd. Hulle wei gewoonlik minder as ‘n uur ‘n dag, wat ‘n baie kort tydjie vir ‘n herbivoor is. Hulle liggaamstemperatuur val met tot drie grade Celsius om metaboliese energie te bespaar.

As prooidiere word dassies dikwels deur arende gevang, wat uit die rigting van die skerp oggendson afgeduik kom. Daarom het dassies se oë ‘n dun, beweegbare membraan wat die pupil beskerm en dit moontlik maak om direk in die son in te kyk.


Die dorsale klier kan gesien word as ‘n ligter stukkie pels

Kolonie
Dassies bly in kolonies, wat wissel van vier tot omtrent 50 of meer, met ’n hiërargie. Daar is gewoonlik ‘n dominante mannetjie met tot 17 volwasse wyfies en ‘n klomp onvolwassenes. Die mannetjie beskerm ‘n gebied van 4 000 tot 6 000 vierkante meter en jaag ander mannetjies weg. Hulle is glo die eerste nie-menslike spesie wat in sosiale netwerke beweeg wat volgens die beginsel ‘n-vriend-van-my-vriend-is-my-vriend, optree.

Hulle wei gewoonlik in ‘n groep, met een of meer wat waghou en die groep teen gevaar waarsku.

Volwassenes gebruik ten minste 21 verskillende roepe. ‘n Spesifieke roep verskaf belangrike inligting soos die dier se grootte, ouderdom, sosiale status, kondisie en toestand van sy hormone. Mannetjies met ‘n hoër plek in die rangorde sing glo meer gereeld.

Navorsers het onlangs betekenisvolle sintaktiese strukture in dié roepe identifiseer – iets wat glo voorheen nog net by aap- en walvissoortiges en vlermuise onderskei is.


Die kenmerkende voetkussings

Kleintjies
Dassies is vir sewe en ‘n half maande lank dragtig, ‘n relatiewe lang tydperk vir so ‘n klein diertjie. Een tot ses kleintjies word tussen September en Oktober in winterreënvalgebiede gebore en tussen Maart en April in somerreënvalgebiede.

Die kleintjies word met oop oë en ‘n volledige pels gebore. Binne ‘n paar dae kan hulle rats oor rotsagtige terrein begin beweeg. Ná twee weke begin hulle vaste voedsel vreet en hulle word op 10 weke gespeen.

Dassies is ná 16 tot 18 maande seksueel volwasse, maar bereik hulle volwasse grootte eers na drie jaar. Hulle word omtrent 10 jaar oud.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online