Stamvrug – van doepas tot mampoer PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Sunday, 30 April 2017 15:11
Untitled Document

Van die Bronberg tot by De Tweedespruit sien jy oral stamvrug-bome teen die rante staan. Dié boom is vernoem na sy vrugte wat dig saamgepak teen die stam sit, en waarvan stroop, konfyt, tertjellie, asyn, wyn en mampoer gemaak kan word.

Die vrugte is ryk in kalium en vitamiene C, 40 mg in elke 100 gram, en is in allerhande tradisionele doepas gebruik. Daar word gesê dat ‘n aftreksel van verpoeierde wortels en vrugte epilepsie kan genees.


Blare en vrugte wat nog nie ryp is nie
Foto’s: Wikipedia

Verpoeierde wortels word ook gebruik teen rumatiek. Jy moet glo klein snytjies in die vel maak en die wortels daarin vryf. ‘n Afkooksel word gebruik om maagpyn te behandel.

Die elliptiese vrugte kan tot 2,5 cm lank word en is oranje tot dieprooi as hulle in Desember ryp word.

Die vrugte is heerlik soet wanneer ryp en kan net so geëet word. Die binnekant van die vrug is ligpers en die vlees sit aan die pit vas. Hoe nader aan die pit ‘n mens eet, hoe suurder proe die vrug. Die meeste mense beveel aan dat die vlees van die pit af gesuig en nie gekou word nie.


Die stamvrug in sy natuurlike rotsagtige habitat

Boom
Op klipperige koppies word die stamvrug, Englerophytum magalismontanum, nie baie hoog nie, net so 3–5 m. Tog kan die boom tot 10 m hoog word in woude.

Dié immergroen boom se bas is redelik glad, maar word bedek met klein, bruin tot swartkleurige knoppies, waarop die blomme en vrugte gedra word. Die klein roomkleurige blommetjies is dig saamgebondel, hoofsaaklik aan ouer blaarlose dele van die hoofstam en takke en het ‘n sterk reuk.

Die boom se donkergroen kroon is gewoonlik baie dig en die jonger takkies is roesbruin. Die glansende, donkergroen blare is relatief groot en word soms met 'n waslaag bedek wat maklik afgevryf kan word.

Jong blare is met rooibruin hare bedek. Die parallelle sy-are is onopvallend en aan die onderkant van die blare is daar hare wat rooibruin tot liggeel en soms silwerig is.


Ryp vrugte

Gehard
Die stamvrug is ‘n geharde boom wat ryp- en droogte-bestand is. Tog word dié boom maar min kommersieel gekweek. Hy kan van saad of stiggies gekweek word. Die beste tyd om die saad te plant is in Januarie, terwyl die sade nog vars is.

Die ontkiemingstydperk is omtrent 37 dae en die plante is twee maande later groot genoeg om oor te plant.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online