Makker uile sal eerder aanval as vlug PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Sunday, 30 April 2017 15:10
Untitled Document

‘n Gevlekte ooruil wat aan mense gewoond is, sal nie wegvlieg as jy naby die nes kom nie. Anders as sy wilde nefies en niggies, sal hy aanval eerder as om die kenmerkende dreigende klapgeluide met sy bek te maak.

Soms sal ‘n wyfie voorgee dat sy beseer is en op die grond rondhop met ‘n slepende vlerk om die aandag van haar nes af te trek.

Die gevlekte ooruil hou sy lewe lank dieselfde maat en gebruik dikwels jaar na jaar dieselfde nes op die grond, op rotse, in die walle van erosie-dongas, in ‘n hooimied of bo in bome waar hulle ou neste van ander roofvoëls sal inneem. Hulle hou daarvan om in ou bloekom-, wilger-, denne- of palmbome nes te maak en gee nie juis om of die bome in die stad of op die platteland is nie.

Dié voëls het baie goed by menslike bedrywighede aangepas en sal dikwels in dorpe en stede en rondom plaasopstalle woon. Hulle is lief vir rotsagtige gebiede wat grens aan grasvlaktes en struikagtige gebiede. Hulle kan in savanne, bosveld, semi-woestyn en selfs op die rand van woudgebiede voorkom.

Die mannetjie maak ‘n dubbele hoe-hooe-geluid en die wyfie antwoord met ‘n trippel hoe-hoe-hooe. Dié ooruil kan ook sy stem op so ‘n manier gooi, dat hy reg bo jou in ‘n boom sit, maar baie verder weg sal klink.


Die gevlekte ooruil
Foto’s: Wikipedia

Jag
Gevlekte ooruile jag hoofsaaklik snags en sal bedags op ‘n plek slaap waar hulle kleure met die agtergrond saamsmelt – op die grond, 'n rotskrans of in 'n boom. Jy kan hulle gunsteling slaapplekke uitken aan die opeenhoping van uitskeidings, vere wat met ververing verloor is en uilballe.

Uile bring die nie-verteerbare oorblyfsels van prooi, soos beentjies en hare, in die vorm van balle op. Dit gebeur 12–29 uur nadat die prooi verorber is.

Gevlekte ooruile jag deur ‘n sitplek bo in ‘n boom, heining of telefoondraad te kry en vlieg dikwels van sitplek tot sitplek terwyl hulle die grond dophou vir beweging. Wanneer die prooi gewaar word, sweef die uil bykans geruisloos nader. Prooi wat in vlug gevang word, word met die pote na die bek gebring en verorber terwyl die uil vlieg. Hulle kan ook op die grond rondloop om prooi te vang en ongelukkig gaan sit hulle gereeld in paaie waar hulle doodgery word.

Dié uile is baie aanpasbaar as dit by prooi kom – tot 60 verskillende prooispesies is al opgeteken. Hulle vreet meestal knaagdiere, skeerbekmuise, klein voëltjies en geleedpotiges, maar ook nagapies, hase, fisante, valkies, spinnekoppe, slakke, insekte, vrugtevlermuise, duisendpote en krappe. Selfs slange, molle, dooie vis en aas kan deel van hulle dieet vorm. Dié uile kan ook hulle eie soort, wat in die pad doodgery is, vreet.

Ore
Dié spesie het die kenmerkende ‘ore’ van die groep ooruile. Eintlik is dit verepluise wat regop staan. Die ore is laer af langs die kop en onder die verekleed bedek. Hulle word 43–47 cm groot en kan tot 700 g weeg.

Daar is twee kleurvariasies –  gryskleurig en rooierig. Die grys vorm is egter die algemeenste. Hulle is grys aan die bokant met ylverspreide wit vlekke op die vlerke. Aan die onderkant is hulle wit, met fyn grys strepies wat ook op die bene en pote sigbaar is. Kenmerkende bruin vlekke kom op die bors voor.
Die bek en neusvrat is swart; die oë geel, die vere op hulle bene wit en die pote grys-bruin.


Kuikens is aanvanklik bedek met wit donsvere wat later gryser word

Kuikens
Die geslagte lyk eners en onvolwasse voëls lyk dieselfde as die ouers, maar hulle ‘oortjies’ is korter en die strepies op die pens is swarter.

Die wyfie lê gewoonlik twee eiers, wat binne 31 dae uitbroei. Kuikens is aanvanklik bedek met wit donsvere wat later gryser word tot hulle vere begin uitgroei. Die kuikens bly vir 40 dae in die nes, en as die nes op die grond is, begin hulle so teen die ouderdom van drie weke al rondbeweeg.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online