Met die snelle ontwikkeling van die landelike gebied ten ooste van Pretoria word die term ‘rooidata spesies’ gereeld rondgegooi. Ontwikkelaars weet net dit is iets wat ‘n stokkie voor ontwikkeling kan steek, maar wat presies beteken die term? Is dit iets anders as ‘n bedreigde spesie?
Petro Lemmer, spesialis plantkundige van Galago Environmental, het dié vraag beantwoord. Sy sê dat dit terme is wat opgestel is deur die International Union for Conservation of Nature (IUCN), ‘n wêreldwye organisasie wat waak oor die status van die natuur en die maatreëls wat getref moet word om dit ten alle koste te bewaar.
Alle organismes wat enigsins gevaar loop om uitgewis te word deur menslike handeling of natuurlike oorsake word volgens die graad van hulle lewensbestaan beoordeel. Die vraag is hoe volop die organisme (plant of dier) in sy natuurlike verspreidingsgebied is.
Indien die organisme se verspreidingsgebied klein is of as daar min individue daarvan is kan sy voortbestaan deur menslike handeling soos mynbou, dorpsontwikkeling of bosbou bedreig word.
Daar is 13 verskillende kategorieë vir bedreigde spesies. Die afkortings wat wêreldwyd gebruik word om na die kategorieë te verwys, strek van: CR (krities bedreig), EN (bedreig), VU (kwesbaar), NT (amper bedreig) en D (kwynend) tot LC (‘least concern’ of minste besorg).
Voorbeelde van Suid-Afrikaanse rooidata-boeke vir spesifieke spesies
‘n Lys van alle spesies van plante of diere word in ‘n boek gepubliseer wat dan die rooidata-lys van daardie betrokke groep organismes is. Daar word na ‘n bedreigde spesie, in watter kategorie ook al, as ‘n rooidata-plant, -dier of -insek verwys.
Ons Omgewingswet (NEMA) maak voorsiening daarvoor dat goedkeuring verkry moet word voor enige bedrywigheid wat verandering in die natuurlike staat van ‘n natuurlike gebied gaan veroorsaak, en dus die voortbestaan van ‘n rooidata-spesie kan bedreig, aangepak mag word.
Die proses betrek Jan Alleman in die besluitnemingsproses – belanghebbende partye kan as sulks registreer en hulle menings kan die besluite oor die proses beïnvloed.
Die NEMA-wet vereis ook dat ‘n omgewingsimpakstudie gedoen moet word voor goedkeuring vir enige handeling wat die natuurlike staat van ‘n omgewing kan verander, gegee word.
Die persoon wat byvoorbeeld die dorpsgebied gaan ontwikkel, stel dan ‘n onpartydige omgewingskundige aan wat die hele proses vir hom gaan loods. Die omgewingskundige reël dat spesialisstudies deur gekwalifiseerde persone gedoen word.
Dié spesialiste ondersoek die betrokke terrein en gee hulle professionele mening oor die impak wat die ontwikkeling op die voortbestaan van die organismes, die geologie en die water van die terrein sal hê.
Die omgewingskundige stel dan ‘n volledige verslag op en lê dit aan die plaaslike regering voor vir goedkeuring of wegwysing van die ontwikkeling of aktiwiteit. |