Een vas na gastehuis-roof PDF Print E-mail
News - Aktueel
Sunday, 30 April 2017 14:53
Untitled Document

Een verdagte is in Alexandra, Johannesburg aangekeer nadat ’n jong paartjie die naweek van
16 April by ’n gastehuis in Equestria deur vier gewapende rowers oorval en vasgebind is. Die boewe het waardevolle artikels in die gastehuis en die paartjie se twee motors geroof.

Victor (Peypies) Peyper het by sy meisie, Nicolene Oosthuizen, in die gastehuis in Petulastraat gekuier toe hulle oorval is. Nicolene het die gastehuis tydelik bestuur. Daar was geen ander gaste in die huis toe die voorval gebeur het nie.


Nicolene Oosthuizen en haar kêrel Victor Peyper
Foto: Facebook

Victor sê hulle het in die kombuis gesit en wag vir hulle aandete om in die oond gaar te word, toe die vier mans die vertrek binnestorm. Hy het hom teengesit en toe een van die rowers hom met ’n mes wou steek, het die lem van die mes uitgeval. Hy en Nicolene is met kabelbinders vasgemaak terwyl die rowers die plek geplunder het. Hulle het aanhoudend gevra vir die kluis en motors se sleutels.

Die rowers het gevlug met Nicolene en Victor se motors en Nicolene het dit reggekry om die kabelbinders met ’n skêr deur te sny.

Die gastehuis se bestuurder, Adele Botes, is gekontak en sy het die Garsfonteinse polisie in kennis gestel. Volgens Adele was die polisie baie gou op die toneel. Die polisie het dadelik begin om Victor se Atos-motor na te spoor en het dit later in Alexandra gekry.

Een verdagte is dieselfde nag in hegtenis geneem en is op Dinsdag 18 April na die Garsfonteinse polisiestasie oorgeplaas. Hy sou dieselfde week in die hof verskyn.

Na ure se verkeersmonitering is Nicolene se Toyota in Soweto opgespoor.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online