Die historiese stoomtrein van Friends of the Rail (FOTR) het op 21 Maart omtrent vier kilometer buite Rayton met 500 passasiers aan boord, ontspoor ná meer as 150 meter van die treinspoor se stawe gesteel is.
Op 8 April het ‘n leser, Sarel Venter, wat langs die Zonkolol-pad woon, laat weet dat ‘n verdere stuk van die spoorlyn daar gesteel is.
Sarel het gaan kyk en bevestig dat omtrent 160 meter se spoorstawe in totaal verwyder is.
Die diewe sny die spore snags met sweisvlamme in hanteerbare lengtes op en ry dit met vragmotors weg. Dit word as skrootmetaal verkoop, waarskynlik aan meedoeners wat oor smeltoonde beskik. Die vermoede bestaan ook dat dit moontlik vir die uitvoermark bestem is.
Spoorstawe is gesteel
Die trein sou op 9 April ‘n uitstappie na Cullinan doen, maar het net tot Rayton gery en passasiers is van daar af met busse na Cullinan geneem.
Steve Appleton van Friends of the Rail het berig dat drie van FOTR se personeellede met die Menseregtedag-uitstappie beseer is en sommige passasiers het ligte beserings opgedoen. Die lokomotief is beskadig, maar geen treinwaens het ontspoor nie.
FOTR bied stoomtreinuitstappies na Cullinan aan die einde van elke maand, met ekstra ritte op vakansiedae. Die dorpie se vele toerisme-ondernemings maak staat op die inkomste wat dié besoekers genereer.
Steve Appleton het aan die Bronnie gesê hulle wil ’n beroep op Cullinan se sakegemeenskap en inwoners doen om veiligheidsmaatreëls langs die spoorlyn daar te stel. Volgens Steve sal dit tot die voordeel van almal betrokke en die hele Cullinanse gemeenskap strek.
Die FOTR lokomotief het ontspoor
Ongeveer vyf jaar gelede het nog ‘n stoomtrein net buite Cullinan-stasie ontspoor nadat dwarslêers gesteel is.
Die hout-dwarslêers is met beton vervang en daarna is begin met die diefstal van spoorstawe. Stawe tussen Rayton en Cullinan is minstens twee keer voor die onlangse voorval gesteel.
Die volgende ‘Diamond Express’ stoomtreinritte na Cullinan is op 27 April, op 30 April vir die Cullifest, op 14 Mei en weer op 28 Mei.
Teen die Bronnie se saktyd, was die gesteelde spoorlyn nog nie vervang nie. |