Regeringstroepe maai 1914-rebelle by Albert-silwermyn af PDF Print E-mail
News - Toeka se dae
Tuesday, 28 March 2017 09:47
Untitled Document

Angie Kleijn

Min mense besef dat hulle in die hoewegebied ten ooste van Pretoria en rondom Bronkhorstspruit en Cullinan in spore trap wat 1914 Rebelle hier gelaat het. ‘n Vergadering, wat toentertyd op Kleinfontein gehou is, het mense in dié gebied in kommando’s saamgesnoer, wat vir sommige na die dood by Albert-silwermyn gelei het.

In 1914, knap 12 jaar ná bittere sterftes in konsentrasiekampe, interneringskampe en op die slagvelde van die Engelse Oorlog, is Afrikaners gevra om aan die Britte se kant in die Eerste Wêreldoorlog te veg. Verset hieroor het tot die rebellie gelei waar mense wat kamerade in die Engelse Oorlog was, nou teen mekaar te staan gekom het.

Die gebeurtenisse by Albert-silwermyn was vir die rebelle ’n wrede openbaring van die regering se gedrag teenoor vroeëre bondgenote.


Generaal CH Muller, portret geneem in 1927, uit ‘Oorlogsherinneringe van Generaal Chris H Muller’

Albert
Albert-silwermyn was op die plaas Roodepoortjie 250 JR, noord van Bronkhorstspruit. Die plaas het oorspronklik aan Christiaan Joubert, wat in 1892 die ZAR se minister van mynwese was, behoort.

Die Hongaar Alois Hugo Nellmapius het in 1885 silwer erts op die plaas ontdek. Hy het die plaas daarna gekoop en die myn na sy seun Albert vernoem. Nellmapius was ‘n gekwalifiseerde myningenieur, gebore in Boedapest. Hy het in 1873, die jaar wat goud gevind is, in die land aangekom en was suksesvol met die goudmynery naby Pelgrimsrus.

In Oktober 1881 het hy saam met die maatskappy Lewis and Marks, bestaande uit sy vriende Sammy Marks en neefs Isaac en Barnett Lewis, beter bekend as Barney Barnato, ’n onderneming met die naam ‘De Eerste Fabrieken’ op die plaas Hatherley langs die Pienaarsrivier gevorm.


Harm Oost, wat ‘Wie is die skuldiges?’ geskryf het

Sammy Marks het in Desember 1883 die plaas Zwartkoppies langs Hatherley gekoop. Sammy en Isaac Lewis het saam met Nellmapius by die Albert-myn betrokke geraak.

Ná Nellmapius die silwer in 1885 ontdek het is daar ‘n gaping van ‘n jaar voor die Albert (Silwer) Myn Bpk gevorm is en op die Johannesburgse Aandelebeurs gelys is. Die oorspronklike direkteurs was Isaac Lewis, Samuel Marks, F Clench, Lewis P Ford, Carl Jeppe, TW Beckett and JP Hoffmann.

Die Albert-myn is in 1886 as maatskappy gestig, maar Nellmapius het eers in 1889 direkteur geword.

Die myn is van 1886 tot 1893 bedryf. Dit is nie bekend of die myn ooit ‘n wins vir aandeelhouers gemaak het nie. Dit is wel bekend dat die myn skuld gehad het toe dit gelikwideer is, maar dié skuld is waarskynlik deur die direkteure gedelg.

Die myn is glo ná die Engelse Oorlog deur ‘n groep prospekteerders bewerk tot 1910, vier jaar voor die rebellie.


Dominee Herman CM Fourie

Boek
Danksy Harm Oost se boek weet ons dat die rebelle se pad na Albert-silwermyn met ‘n vergadering op die plaas Kleinfontein begin het en dat die protesterendes van Rhenosterkop, Witfontein, Donkerhoek en Kleinfontein deur ‘n dominee van Bronkhorstspruit gelei is.

Die ooggetuieverslae wat Harm in die rebellie versamel het, is in 1957 in sy outobiografiese boek, ‘Wie is die skuldiges?’, wat ook vertel van sy tyd in die Engelse Oorlog, gepubliseer.

Harm begin die verhaal op ‘n Sondagnamiddag in die pastorie van ds Herman CM Fourie, predikant van die Hervormde Kerk op Bronkhorstspruit (Erasmus). Die datum was 25 Oktober en daar was ‘n klop aan die deur – ‘n seun van een van Pretoria se bekende inwoners kom daarna die pastorie binne.


Generaal CH Muller op kommando uit ‘Oorlogsherinneringe van Generaal Chris H Muller’

In sy hand het hy ‘n uitnodiging van generaal Chris Muller wat op Witfontein, ‘n uur te perd suidwes van Bronkhorstspruit, vertoef het om hom te gaan spreek. Herman het die gerugte van opstand gehoor en was oortuig dat dit ‘n manier kon wees om die land se verlore onafhanklikheid terug te wen.

Herman Fourie was as kind ‘n leerling aan die Staatsgimnasium in Pretoria. Hy het teologie in Holland gaan studeer, en toe die Engelse Oorlog uitbreek was hy 17 jaar oud. Hy is dadelik terug na Suid-Afrika en het by sy pa, generaal Joackim C Fourie van Carolina, se kommando aangesluit.

Herman het die oorlog oorleef, maar sy pa en een broer het gesneuwel. Daarna is hy terug na Holland om sy predikantseksamen af te lê. Jare later het hy sy doktoraal daar ontvang en het een van die vertalers van die Bybel in Afrikaans geword.

Op dié Sondagmiddag is hy in sy rybroek saam met die Pretoriase seun Witfontein toe, waar hy generaal Chris Muller en ’n klompie burgers ontmoet het.


’n Aantal gevange 1914 rebelle in ’n Booysens kamptronk
Foto: FAK

Generaal
Christiaan Hendrik Muller, gebore in 1865, was 20 jaar ouer as Herman en was ‘n Boeregeneraal in die Engelse Oorlog. Hy het in 1902 aan die vredesonderhandelings by Vereeniging deelgeneem en was later ‘n direkteur van die Landbank en parlementslid.

In die onrus van 1914 was daar ‘n groot aantal protesvergaderings oos van Pretoria. Die eerste nag na sy vertrek uit Pretoria het Chris oorgeslaap by mense wat nie teen die regering se planne om aan Brittanje se kant aan die Eerste Wêreldoorlog deel te neem, was nie.


JMA Wolmarans

Eers op Witfontein het hy mense gekry wat sy oortuigings gedeel het. Toe Herman daar aankom het hulle die volgende dag vertrek vir ’n vergadering wat inderhaas op Kleinfontein gereël is.

Die voorsitter van die vergadering op 26 Oktober was Piet Viljoen, veldkornet van die Verdediging-skietvereniging. Kaptein JMA (Koos of Donkie) Wolmarans van Donkerhoek, ’n oud-offisier van die Staatsartillerie, was ook daar. Die toesprake wat daardie dag gelewer is se tema was die herwinning van onafhanklikheid.

Chris wou geen militêre stappe neem voor generaal Christiaan Beyers hom nie ingelig het oor die koers vorentoe nie. Die mense wat die vergadering bygewoon het was egter angstig om op te tree en Chris het ingestem dat die polisielede op Bronkhorstspruit ontwapen moes word omdat hulle amper almal Engelse was.


Die ou Albert-silwermyn se nommer twee skag
Foto: Mindat

Wolmarans
Koos Wolmarans is op 27 Oktober as kommandant gekies, met die opdrag om manskappe noord van die spoorlyn, in Rayton en Cullinan se gebied, bymekaar te maak. Premiermyn was glo ‘n “nes van Engelse” en die burgers wou Chris oortuig om die plek te vat en die treinspoor by Pienaarsrivier onbruikbaar te maak.

Chris het geweier en is ten weste verby Bronkhorstspruit om by Balmoral noordwaarts te swaai, waar hy die Wilgerivier bokant generaal Hertzog se plaas, Waterval, oorgesteek het om Koos Wolmarans, wat 80 man bymekaar gemaak het, te ontmoet.

Op pad weg van Kleinfontein, het ds Herman Fourie 30 mans van die Rhenosterkop-omgewing, wat deur die regering opgekommandeer was, ontmoet. Hulle leiers was veldkornet Corn Rijkaart en mede-offisier, Gert Minnaar, wat altwee in die Engelse Oorlog ‘n naam vir dapperheid verwerf het.

Herman het aan dié regeringstroepe verduidelik dat dit sy plig as patriot was om hom te verset, maar hulle is vriendskaplik uitmekaar. Intussen het Chris se kommando tot 252 vrywilligers gegroei.


Chris Muller op sy perd uit ‘Oorlogsherinneringe van Generaal Chris H Muller’

Krygsraad
Op Woensdag 4 November is krygsraad by die Klapperkoppie gehou en die twee rapportgangers wat na generaal Beyers gestuur is, was terug met nuus. Generaal Beyers en sy vrywilligers is op Damhoek in die Moot van Pretoria aangeval. Hulle was op pad na die Vrystaat, waar generaal Beyers vir president Steyn en generaal De Wet sou ontmoet. Op Commissiedrift is baie van generaal Beyers se mense doodgeskiet.

Die verhaal van Christiaan Frederik Beyers se vervolging deur regeringstroepe, wat hy knap tevore nog as eerste kommandant-generaal van die Unie aangevoer het, het gemoedere hoog laat loop. Hy wou nie die wapen teen mede-Afrikaners opneem nie en sy opdrag was dat manskappe net moes skiet om die vlug te dek, maar nie om dood te skiet nie.

Die rapportgangers het ’n brief gebring van generaal JJ Pienaar, waarin hy kortliks verslag doen van die aangrypende gebeurtenisse en sê dat sy mense niks kommandeer nie, maar net aanvaar wat aan hulle gegee word.


Oud-generaal CE Fourie van Middelburg het ook saam met die rebelle in ons omgewing geveg

Chris en sy kommando het die nag by die Albert-silwermyn oorgeslaap. Onder die aanwesiges was ook oud-generaal CE Fourie van Middelburg. Die volgende oggend, Donderdag 5 November, het die verkenners wat uitgestuur is vertel dat regeringstroepe saamgetrek het op Roodepoort, ses myl nader aan die Premiermyn.

Chris en 150 perderuiters het in daardie rigting gery, maar die voetgangers en karryers is in ’n oostelike rigting na Gemsbokfontein gestuur, waar Engelse troepe, die Natal Carabiniers, hulle voorgelê het. Hulle is gevang en niemand kon Chris waarsku oor die gevare wat van die oostekant af kom nie.

Soos generaal Beyers, wou Chris nie op mede-Afrikaners skiet nie. Herman het glad nie saamgestem nie en het generaal De Wet se siening gevolg. Sy opdrag was: “Moenie skiet nie. Maar as hulle dit wel doen, gee hulle dan vir elke koeël drie terug.”

Tog was almal daarvan oortuig dat geen bloedvergieting sou plaasvind nie.


Rebelliegevangenes in 1915 in die Fort, Johannesburg
Bron: GD Scholtz

Vyande
Die Natal Carabiniers was ou vyande uit die Engelse Oorlog. Tóé het Rooi Danie Opperman teen hulle geveg, maar 14 jaar later het hy hulle as bondgenote aanvaar en saamgespan teen Chris en Herman.
Chris en sy perderuiters het te wete gekom dat Rooi Danie met regeringsmagte oorkant die spruit was. Van elke kant het een man na die ander kamp gegaan. Chris het ‘n brief aan Rooi Danie geskryf wat lui:

“Ek sien dat u met ’n gewapende mag teen ons optrek. Hulle moenie dat ons mekaar skiet nie. Laat daar geen broedersbloed vergiet word nie. U moet terugtrek. Ek sal ook terugtrek, en dan kan ons verdere reëlings tref. Ek sal u verkenner maar hier hou tot my rapportganger terugkom.”

In antwoord het daar ‘n brief gekom van kol Harry Mentz, wat militêr en as politikus in Soutpansberg se wêreld bekendheid verwerf het. Hy het geantwoord dat hy bly is om te sien Chris wil nie op sy broeders skiet nie en is van dieselfde mening. Hy wou egter hê dat Chris dadelik moes oorgee en het gesê dat hy by volle mag is om te waarborg dat niks aan hom en sy mense gedoen sal word nie.


‘Oorlogsherinneringe van Generaal Chris H Muller’

Verraad
Intussen het kol Mentz klaar opdrag gegee dat sy troepe vir Chris en sy 150 man omsingel. By die Albert-silwermyn het vier van die protesterendes gesneuwel: PS Barnard en H Barnard (‘n oom en broerskind); Frans Steenkamp; en JG Kloppers. Ses is ernstig gewond: ds Herman Fourie; Mike Bredenkamp; FJ Roos; C Hatting; Danie Terblanche; en AS Kloppers.

Minder as die helfte van die mense het ongedeerd gebly. Herman is in die knie geskiet en gevange geneem. Hy is as gevangene naby sy pastorie in Bronkhorstspruit verby geneem, maar die regeringstroepe het hom nie kans gegee om vir sy vrou te vertel wat aangaan nie.


Albert-silwermyn
Foto: Mindat

Die regering wou hom eers vir moord aankla, maar hy is vir hoogverraad veroordeel en was vir maande in die Fort-gevangenis in Johannesburg opgesluit.

In die nag van 6 November het Chris en die oorblywende 70 mans in ’n kom met ’n pannetjie water agter hulle ten suide van Maloek se Kop geslaap. ‘n Wegloper het vir die vyand vertel waar hulle was en vroegoggend van 7 November was hulle omsingel en is op hulle lêplek uitmekaar geskiet.

Koos Wolmarans, T Kloppers en L Botha is doodgeskiet. Chris saam met Mike Henn, Andries de Beer, Jan Erasmus, N Erasmus, P van Rensburg en Koos Uys is gewond en die res is gevang.


Generaal Christiaan de Wet, regs, en generaal Wessel Wessels, tweede van links,
in die tronk saam met ander rebelle
Bron: DJ Langner / AWG Raath (eds.): Die Afrikanerrebellie 1914-1915

Oorgee
’n Proklamasie is uitgevaardig wat protesterende burgers tot 21 November die geleentheid sou verleen om oor te gee. Daar was in dié distrik nog ’n klompie mans onder veldkornet Hermanus Roos, wat in die buurt van die Premiermyn vir bevele gewag het. Toe hulle die berigte oor Chris en sy kommando hoor, het hulle ingegee, met uitsondering van ses, wat hulle later onder veldkornet Simon JL Prinsloo geskaar het.

Dié manskappe het tot 27 gegroei en het aangesluit by Jopie Fourie, onder wie se leiding hulle aan verskillende gevegte deelgeneem het. Nooitgedacht was die einde. Met 43 mans het hulle teen 550 geveg.

Jopie Fourie het op 20 Desember voor ’n vuurpeloton gesterf nadat hy, as kommandant van ’n rebellekommando, terwyl hy nog lid van die regeringsmagte was, van verraad aangekla is.

Generaal De Wet is op 1 Desember gevange geneem, aan hoogverraad skuldig bevind en tot ses jaar gevangenisstraf en ’n boete van tweeduisend pond gevonnis. Generaal Beyers het op
8 Desember verdrink toe sy kommando teen die Vaalrivier in vloed naby Makwassie vasgekeer is.


Die rooi teken dui Albert Silwermyn se ligging aan


 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online