Pure plaas by Pienk Koei se tee-oerwoudjie PDF Print E-mail
News - Vreethans
Tuesday, 28 March 2017 09:46
Untitled Document

Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.

Voormiddag op ‘n Vrydag hou ons by die Pienk Koei Teetuin op Du Plooy se Kaalfontein-melkplaas stil. Vandag byt ‘n aspris laatsomerbriesie. Dis nie rooiwarm soos wat dit die vorige dae was nie, maar soos die lewensgroot teetuinkoei wat onder ‘n windmakerige hoed by die ingang staan, is dit eerder ligroos.

Die klem val by dié afsaalplekkie op die plaas, vierkantig op die ‘tuin’ in teetuin. Jy stap ‘n ligte oerwoudjie binne waar piesangbome, laventelbosse, struike en blomplante baldadig gedy onder die invloed van boorgatwater en kraalmis. Lekker beskut teen die koue wind, is dit by die betontafeltjie waar ons loop aansit.

Buite die grense van die tee-oerwoudjie hoor jy die plaas. Duidelik was dit ‘n goeie aanteelseisoen. Jy kan dit hoor aan beurt- en koorklank van lammetjies en kalfies wat hulle blêr- en bulkvernuf opskerp.


‘n Jaffel soos op kindertydse kerkbasaars

Eenkant probeer ‘n dwergperdvulletjie sy stembandjies om ‘n bewerige pieprunnik kry en gans, makou, otjie en hoender sing sporadies saam in die plaaskoor. Dis vir ons lekker hier.

Ook binne in die ruigte van die tuintjie kuier plaasbewoners in verstommende vrede en harmonie saam.

‘n Driekleurkat het haar op ‘n bankkussing by ons tafeltjie tuisgemaak. Onder teen die aansienlike stam van ‘n piesangboom lê ‘n bejaarde, groot Deense hond in diepe slaap versonke. ‘n Oorgewig Skotse brakkie kom meld aan en gaan dan weer sy gang. ‘n Pronkerige haan en sy henneharem kloek eenkant onder ‘n skadustruik saam en deuskant skrop-loop ‘n plomp werfhen met ‘n kroos van agt kuikens op haar hakke. Later sou ons ook jou waarlik die drie varkies aan die onderpunt van die tuintjie ontmoet. ‘Dis die ark,’ sê Metgesel.


Die hoenderbroodjie wat vir ‘n dilemma gesorg het

Deur die blare (letterlik) sien ons die rugkant van ‘n ou wat by ‘n ander tafeltjie met ‘n koppie koffie en ‘n skootrekenaar doenig is. Dan kom ‘n vriendelike kelnerin oor die plaaswerf heen met die spyskaarte nader. Leila is haar naam. Sy sit twee spyskaarte neer (een Engels en een Afrikaans, soos dit hoort) en sy vra of ons filtreerkoffie, cappuccino of ‘gewone’ koffie wil hê. ‘Gewone’ koffie, sou ons uitvind, is by die Pienk Koei poeierkoffie. Die Engelse spyskaart sê ‘normal coffee’.

Soos jy van ‘n melkplaas se mense sou verwag, roer hulle hier vroegdag reeds. Ontbyt kan jy van
6 vm af al kry. Onder die spyskaarthofie ‘Ligte Ontbyt’ kan jy teen R55 ‘n ‘plaasontbyt’ met twee repies spek, twee eiers (roer of bak), boerewors, tuisgemaakte halloumi-kaas en roosterbrood bestel. Gevulde omelet kos tussen R40 tot R55 vir die een met tamatie, uie, sampioene, spek, groen pepers en kaas gelaai.


Wafel met room en heuning

‘n Verskeidenheid roosterbroodjies bedien met slaai en skyfies (die Afrikaanse spyskaart sê ‘chips’ pleks van tjips – as dit dan moet) word onder ‘Ligte Etes’ gelys. Jy kan ook die broodjie vervang met pannekoek wat dieselfde vulselkeuse as die broodjies bied.

Metgesel oorweeg ‘n roosterbroodjie, maar sy sit met ‘n dilemma: ‘n Gewetensdilemma, sê sy. Sy (wat mos nie soogdiere eet nie) het baie lus vir ‘n hoender-mayobroodjie, maar hoe kan sy as ‘n oulike span hoendertjies wat hier vlak neffens ons kuier, vir haar kyk? Vir al wat ons weet is dit ‘n familielid van hulle op haar broodjie, meen Metgesel. “Toemaar, hulle sal verstaan,” probeer ek paai en sy druk dapper deur met haar bestelling.


Die ingang na die tee-oerwoudjie

Toe Leila later ons bestelling aanbring, gebeur die vreemdste ding: Die haan met sy harem en die werfhen met haar kuikens verdwyn soos ‘n mistigheid voor die son. Skielik is daar net geen hoendertjie meer in sig nie. “Hulle weet . . .”, sê Metgesel.

Die baie smaaklike hoenderbroodjie (só verseker Metgesel my) kos saam met skyfies van ‘n Franse aard en ‘n mengelslaai, R50.

Jy kan ‘n maaltydslaai met spek-en-avo of met hoender ook teen R50 bestel. ‘n Maalvleis-jaffel kos R25 sonder en R48 met slaai en skyfies. Ek bestel ‘n ‘jaffel’ en ons tob oor die bestaan, al dan nie, van ‘n Afrikaanse woord daarvoor. As ‘n Ingelse ‘waffle’ ‘n Afrikaanse wafel kan word, kan ‘n Ingelse ‘jaffel’ tog seker ‘n Afrikaanse ‘jafel’ word, meen ek. Metgesel wys my egter daarop dat ‘n ‘jafel’ ‘n knaap van ‘n heel ander kleur is.


Ons ontmoet toe die drie varkies self

Die ‘jafel’ was voldoende om ‘n mak hongerte te stil: Die brood lekker bros gebraai en oordadig met maalvleis gevul. Dit diep die onthou van kindertydse kerkbasaars weer op. Ek sou ‘n effense sousigheidjie en dalk ‘n bietjie braaiuie by die vulsel voeg, sou ek nou die jafel wees wat die jaffels by die Pienk Koei maak.

‘Russian’ en tjips (R40) en ‘n geroosterde hamburger met slaai en skyfies (R50) rond die spyskaart se soutkeuses af.

Jou soettand kan jy voer met ‘n kaneelsuikerpannekoek teen net R5, wafel met room of roomys en stroop of heuning teen R30, appel- of tipsietert met room teen R18, of melktert met room teen R15. Melkskommels kos R20.


Die tevrede driekleurkat en haar werfhenmaat

Ja, ek besluit om die jafel met ‘n wafel-en-room af te rond en Metgesel kry ‘n billike stuk melktert met ‘n homp room daarby. Sy kry dit omdat die tipsie- en appeltert nie vandag beskikbaar is nie.

Mooi eetgerei en garnering vul die soetgeregte pragtig aan en met die smaak van die wafel en van die melktert skort niks. Metgesel vind die room saam met die melktert effe onnodig en die inwonende driekleurkat is gevolglik letterlik so gelukkig soos ‘n kat wat room gekry het.

‘n Besoek aan Kaalfontein se Pienk Koei Teetuin is ‘n ervaring: ‘n Goeie ervaring wat ek wil aanbeveel.

En ‘n draai in die plaaswinkel agterna is só bevredigend, dit behoort verpligtend te wees.

Jy kan hulle bel by 083-399-6497.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online