As dit nie so ernstig was nie, sou dit half snaaks gewees het, só pateties is dit. Ons
praat hier oor die ontstigtende feit dat dele van Zwavelpoort met saktyd reeds 12 dae
sonder telefone was. Die Bronberger wil hiermee namens Telkom en namens die
elektrisiteitsafdeling van die Metroraad van Tshwane jammer sê vir die telefoonlose
ongerief wat hulle veroorsaak het.
Lesers en adverteerders wat gebel het, sou ’n duidelike luitoon aan die anderkant
gehoor het. Hulle sou bes moontlik vies geraak het vir Die Bronberger oor ons, ons jisse
aan hulle afvee en nie die telefone beantwoord nie. Dit is nie die geval nie. Aan ons kant
was die lyne so dood soos ’n Telkombelofte dat iemand op pad is om die saak reg te
stel.
Toe ons aanvanklik die telefoonprobleem by Telkom aanmeld, was ons nogal aangenaam
verras oor die flinke reaksie. Daardie selfde dag nog het ons ’n SMS ontvang wat
meld dat hulle nou bewus is van ons probleem en dat ’n tegnikus op pad is.
Hy is blykbaar nou nog op pad. Twee dae later was ons verstom om nog ’n boodskap
van die vriendelike mense by Telkom te kry. Hulle is bly, sê die SMS, om ons te kan meedeel
dat die probleem nou opgelos is en dat die ‘lyn’ herstel is. In hulle drome, miskien.
Ons vermoed dat die ‘tegnikus-op-pad’ die foutiewe nommer gebel het, gehoor het die
telefoon lui, sy hande afgestof het op welgedane takie en laat weet het sy opdrag is uitgevoer.
Dit het bomenslike oortuigingsvermoë gekos om die mens by die klagtekantoor
te laat glo dat die telefone stukkend is. ‘Nee, nie wéér stukkend nie, nóg stukkend.’
Ná nog twee dae van soebat en oproepe na ‘hogere piepôls’ in die Telkomstal, kry ons
berig dat die fout opgespoor is. ‘Hulle’ het die kragkabel na die toring wat die Dect-telefone
hierlangs aan die werk hou, gesteel. In die nag gekom en die kabel gesteel. Vyf
dae gevat om dit vas te stel, maar ons is dankbaar vir die vordering. En wat gebeur
nou? Nee, nou is dit nie meer hulle probleem nie, sê die hogere amptenaar van Telkom.
Nou is dit die elektrisiteitsafdeling van Pretoria, ‘skuus Tshwane, se probleem.
Ons beskou dit as ons plig om ons lesers te waarsku: Moet nooit probeer om ‘Tshwane’
se noodnommer te bel oor ’n kragverwante saak nie. As jy nie die nommer ken van
iemand wat nog nie ‘reggestel’ is nie en nog daar werk, of as jy nie iemand ken wat
iemand ken nie, gaan jy nie regkom nie. Jy gaan net jou geld, jou selfoon se battery en
jou laaste bietjie geduld mors.
Dit werk só: Jy bel die ‘noodnommer’. ’n Geblikte stem tel op en heet jou welkom aan
die stad van Tshwane se metropolitaanse munisipaliteit. Dan sê sy jy moet let daarop
dat die gesprek opgeneem gaan word, maar ons kan jou verseker dat jy nie daaroor
bekommerd hoef te wees nie. Die kanse dat daar ’n gesprek gaan wees is omtrent nul,
tensy hulle die kragwoorde opneem wat jy uit pure frustrasie langs die pad kwytraak.
Nou speel die blikstem ‘die-beste-uit-drie’ met jou. Vyf keer vra sy jou om die regte
nommer te druk. Elke keer moet jy kies tussen een, twee, of drie. Tussenin speel sy vir
jou irriterende hysbakmusiek.
Jy kies twee keer een en twee keer drie voor jy weer drie kies om by ‘emergencies’ te
make met krag uit te kom. Want om byna twee weke sonder telefone te wees, is volgens
jou ’n noodgeval. Nou vertel sy jou dat nie een van hulle konsultante beskikbaar is
nie. Sy sê jy moet aanhou. Sy beweer jou oproep is belangrik vir hulle. En dan speel sy
die irriterende hysbakmusiek tot malwordens toe. Elke paar minute onderbreek sy die
musiek en verseker jou weer dat jy belangrik is en dat jy moet aanhou. Moenie vir haar
luister nie. Jy gaan net daar sit en stokoud word. |