Een van die laaste Duitse oorlogswesies oorlede PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 28 March 2017 09:45
Untitled Document

Werner Schellack, kurator van die McHardy-huismuseum op Cullinan en een van die laaste oorlewende Duitse oorlogswesies, is op 11 Maart in die ouderdom van 71 jaar oorlede.

Werner is op 27 Februarie 1946 in Lübeck, Duitsland gebore. Hy was maar twee en ‘n half jaar oud toe hy op 8 September 1948 as een van die 83 Duitse oorlogsweeskinders met die Winchester Castle in Kaapstad-hawe aangeland het.

Werner het die truitjie waarmee hy in dié nuwe land aangekom het vir 69 jaar, tot die dag van sy dood, bewaar. Hy was, voor sy aftrede, ‘n geskiedenis-dosent aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) en het die boek, ‘Vir ‘n ‘blanke volk’: Die verhaal van die Duitse weeskinders van 1948’, onder die naam Werner van der Merwe geskryf. Hy het eers later sy van na Schellack, sy ma se van, terug verander.


Die twee en ‘n half jaar oue Werner in 1948 saam met tante Iermie op die Winchester Castle

Volksbou
In sy boek vertel Werner dat die Duitse wesies hierheen gekom het om die Afrikaanse volk aan te vul. Hulle weldoeners was die Suid-Afrikaanse organisasie bekend as die Dietse Kinderfonds (DKF), wat humanitêre hulp gebied het aan die sowat 750 000 Duitse kinders wat in die Britse en Amerikaanse besettingsones van na-oorlogse Duitsland gewoon het. Dié kinders het een of albei ouers in die Tweede Wêreldoorlog verloor. Omtrent 250 000 van hulle het albei ouers verloor (volwese).


Die truitjie waarmee klein Werner in Suid-Afrika aangekom het

 

Van die 83 kinders wat in Suid-Afrika aangekom het was slegs 28 volwese; 14 het nog een lewende ouer gehad; en 29 was buite-egtelike wese wie se biologiese ouers hulle vir aanneming vrygestel het.
Vyf kinders het uit normale gesinne gekom, maar die ouers het besluit dat Suid-Afrika ‘n beter heenkome sou bied, en vier kinders was ‘findelkinder’, die optelkinders.

‘n Aantal van dié Duitse oorlogwesies het op verskeie gebiede naam gemaak in Suid-Afrika. Die bekendste wesie was waarskynlik Marietjie Malan, oorspronklik Hermine Sönnichsen, wat deur dr DF Malan, eerste minister van 1948 tot 1954, en sy tweede vrou Maria aangeneem is.


Werner in 1985 met die truitjie

Plaas
Werner is deur Suid-Afrikaanse Van der Merwe-ouers aangeneem en het as enigste kind op ‘n plaas in die Hennenman-distrik in die Vrystaat grootgeword.

Hy het in 1967 mondig geword en is na Duitsland om sy ma te soek, wat in Oos-Berlyn gewoon het. Werner het later vertel hoe vreemd dit vir hom was om te sien dat sy ma dieselfde gewoontetjies as hy het.


Werner se boek, ‘Vir ‘n ‘blanke volk’: Die verhaal van die Duitse weeskinders van 1948’

In die oorlog was sy ma ‘n verpleegster in ‘n militêre hospitaal en is letterlik deur omstandighede gedwing om haar kind op te gee. Toe Werner haar weer ontmoet het, het sy gesê sy glo steeds dat dit die beste ding vir hom was.

Op Werner se geboortesertifikaat word sy ma aangegee as: Krankenschwester Waltraut Ingeburg Ruth Schellack en sy pa as Georg Walter Krämer.


Werner in die McHardy-huis se roostuin in 2013
Foto: Elsabé Maré

Aftree
Ná sy aftrede by Unisa het Werner kurator by die McHardy-huismuseum in Cullinan geword en was ‘n alom-bekende en beminde karakter in dié dorpie. Hy het bekend gestaan as iemand met ‘n bogemiddelde algemene kennis en mense vertel dat jy hom bykans enige iets kon vra en hy sou die antwoord ken.

Werner is in die vroeë oggendure van Saterdag 11 Maart dood in sy stoel by sy woonstel in Cullinan gevind. Sy heengaan was onverwags en teen Die Bronberger se saktyd is die oorsaak van dood nog nie bevestig nie.


Werner by die McHardy-grafte in 2013
Foto: Elsabé Maré

Die Bronberger het huldeblyke aan Werner in drie tale ontvang:
Justin Jensen: “He was my best friend and mentor and the space that he has left will be felt for many a moon. Werner, I have no words to say how much I am going to miss you. Rest in peace and remember that you will forever be in my heart.”

Huldeblyk aan prof W Schellack deur Werner Gobey: “Mense kom en gaan . . . en soms kom daar mense oor jou pad wat indrukke in jou menswees nalaat. So sal ek en mense om jou, jou onthou. Vir my was jou geduld met elke Duitse les, jou streng dissipline, jou fantastiese intellek en lewensraad, iets wat ek altyd saam met my sal dra.”

“Du hast einen Kampf gekämpft, Du hast den Lauf vollendet, Du hast Glauben gehalten, Ruhe in Frieden Prof. ~ dein lezter Student”.

Hilda Curror gebruik die letters van Werner se naam om te skryf: “Wishing a great historian Eternal
Rest; No question ever went unanswered. Enjoy your heavenly Rewards



Werner voor die McHardy-huismuseum in 2012
Foto: Elsabé Maré

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online