Henry se moord ruk Bronberg-gemeenskap PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 March 2017 09:43
Untitled Document

Die Bronberg-gemeenskap het een van sy grootste weldoeners verloor toe Henry Kirstein op
2 Maart voor sy vrou Eva op die gesin se Mooiplaats-hoewe doodgeskiet is.

Minstens sewe aanvallers het die Kirsteins se twee veiligheidswagte oorval en met gewere aangehou. Hulle het vermoedelik vroeër die heinings geknip. Henry was baie veiligheidsbewus en daar was goeie beveiliging op die plot, wat daarop dui dat die aanval fyn beplan was.


Eva en Henry Kirstein
Foto: Facebook

Doodgeskiet
Een van die wagte is by die hek vasgebind en die ander wag is tot by die huis gedwing. Die aanvallers het Henry dadelik doodgeskiet waar hy aan die kombuistafel gesit het. Hulle wou weet waar die egpaar se tienerseun was. Hy was nie in daardie stadium by die huis nie.

Eva is gedwing om hulle na die kluis te neem waar hulle R800 000 kontant, Amerikaanse dollars, twee vuurwapens, selfone en ‘n flitslig gesteel het.

Twee van die boewe het buite die huis wag gehou.  Die moordenaars het na afloop van hulle aanval iemand gebel wat hulle toe met ‘n voertuig kom oplaai het. Hulle is weg in die rigting van Esperanza.


Teikenskiet, nagmars, kamoeflering, hindernisroetes, parades, oorlogspeletjies en inspeksies is gehou by die ‘Boma Boot Camp’ op die plot waar Henry doodgeskiet is

Gemeenskap
Die Kirsteins woon al jare op plot 68, Mooiplaats en het die plek tot 24 hektaar vergroot deur die aangrensende hoewes te koop. Henry was baie betrokke by gemeenskapswerk en word beskryf as iemand met ‘n goeie hart, wat mense altyd gehelp het sonder om ooit iets terug te verwag.

Die Mooiplaats, Zwavelpoort en Tierpoort (MZT)-veiligheidsgemeenskap se eerste fondsinsamelingsdag is op die Kirsteins se plot gehou. Henry en Eva se eiendom was ook die tuiste van die ‘Boma Boot Camps’. Dit was Henry se idee om kinders uit die omgewing veld- en oorlewingsvaardighede aan te leer; om hulle weg van televisie, slimfone en rekenaars te kry en in uitdagende en leersame situasies in die natuur te plaas.

Henry was mede-eienaar van ‘n fabriek in Silverton wat waterboormasjiene vervaardig en uitvoer, onder meer na Dubai.


Die gemeenskap van Mooiplaats, Zwavelpoort en Tierpoort (MZT) het op die Maandag ná die moord opgeruk om leidrade en bewysstukke in die omgewing te soek wat kan help om die moordenaars aan die man te bring
Foto: Trix van den Berg

Skut
Hy was baie lief vir die buitelewe, was ‘n kranige skut, het skyfskiet gedoen en was ‘n aktiewe lid van Pretoria Defensive Pistol Club (PDPC). Hy was ook een van die rolspelers wat gesorg het dat ‘n klubhuis by die PDPC skietbaan gebou word.

Henry sou op 21 Maart 60 jaar oud geword het. ‘n Gedenkdiens is op 9 Maart by die 3CI Kerk in Saalstraat in Zwavelpoort gehou. Henry se stiefbroer, Leon Kirstein, sê dat Eva en Henry se seuns swaarkry ná die moord en berading ontvang. Veiligheid is intussen verder opgeskerp op die hoewe.


Die Kirsteins was intens betrokke by die MZT-veiligheidsgemeenskap en het fondsinsamelingsdae aangebied. Die foto is op 29 Oktober 2011 geneem

Statistiek
Volgens TLU SA se amptelike statistieke oor aanvalle en moorde op kleinhoewes en plotte was Februarie die ergste maand ooit met 45 aanvalle en 17 moorde.

Met Die Bronberger se saktyd was misdaadstatistiek vir Maart nog nie beskikbaar nie en is niemand nog in hegtenis geneem in verband met Henry se moord en die gewapende roof nie. Leidrade word opgevolg.


‘n Groot aantal mense het Henry se gedenkdiens op 9 Maart by die 3CI Kerk in Zwavelpoort bygewoon

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online