Gemeenskap en polisie werk só saam PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 28 March 2017 09:34
Untitled Document

AO Wynand van der Merwe

SAPD Boschkop en die gemeenskap het op Saterdag 4 Maart ‘n ‘Maxi Blitz’ gehou om te wys dat die Boschkop-gemeenskap saamstaan teen misdaad. Die doel was om ’n groot sigbaarheidseffek te skep, veral in die landelike gebied.

Ongeveer 68 gemeenskapsvoertuie sowel as polisievoertuie, die polisie-helikopter en ook ’n private helikopter het van 3 nm tot 5 nm deelgeneem. Die Weiveld, op die hoek van die Boschkop-pad en Lynnwoodweg-verlenging is as gesamentlike beheerpunt gebruik.

Een van die grootste voorstanders van die ‘Maxi Blitz’ kon egter nie deelneem nie. Op 2 Maart om ongeveer 8:15 nm het die gemeenskap een van sy grootste ikone in ’n lafhartige plaasaanval verloor.


Adjudant-offisier Wynand van der Merwe, SAPD Boschkop

Henry
Henry Kirstein is op sy plot in Mooiplaas noodlottig gewond en is op die toneel dood verklaar. Henry was, soos die meeste van die gemeenskap weet, ‘n reuse steunpilaar en het nooit geskroom om te help waar dit ook al nodig was nie. Een van sy grootste passies was om die gemeenskap te help met misdaadbekamping. Dat hy ‘n slagoffer van so ‘n brutale aanval geword het, het die gemeenskap laat steier.

Nogtans is voortgegaan met die ‘Maxi Blitz’ ter herinnering aan Henry Kirstein en dit waarvoor hy gestaan en in geglo het. Hopelik sal meer van dié soort operasies in die toekoms gehou word, waar die gemeenskap en die SAPD saamwerk teen misdaad. Die lede en bestuur van Boschkop SAPD dra hulle gebede en medelye aan die familie en vriende van Henry op.

Sektore
Op Donderdag 6 Maart is ‘n veiligheidsvergadering by Rosemary Hill gehou. Talle vrae is aan die SAPD gestel op die vergadering, waarop “Cluster” bevelvoerder, generaal Wiese, geantwoord het. Dit het uit die vergadering geblyk dat beter kommunikasie ‘n moet is.
Een van die vrae was watter polisie sektorbestuurder vir watter sektor verantwoordelik is. Die antwoord is as volg:
Sektor 1: Rietfontein, Mooikloof, Mooikloofrif, Olympus en Zwavelpoort suid van die berg – adjudant-offisier Kobus Ras.
Sektor 2: Wapadrand, Zwartkoppies, Silver Lakes, Lombardy, Tygervallei, Zwavelpoort noord van die berg en Swaeltjie – sersant Oupa Masuku.
Sektor 3: Mooiplaats, Pienaarspoort en Donkerhoek – sersant Frik Smit.
Sektor 4: Kleinfontein, Tweedracht, Rhenosterfontein en Boschkop – adjudant-offisier Wynand van der Merwe.

WhatsApp
Daar is ook besluit om ‘n oorhoofse “WhatsApp”-groep te stig onder beheer van die Boschkop Gemeenskapspolisiëringsforum wat slegs met misdaadinligting te doen sal hê. Die groep sal binnekort in werking tree. Die doel van die groep is om die groter Boschkop-gemeenskap in verbinding met mekaar te hou deur misdaadinligting en misdaad-verwante sake te deel.

Aanmeld
Nog ‘n punt wat opgekom het is die belangrikheid om alle misdaad by die SAPD aan te meld sodat statistiek saamgestel kan word wat probleem-gebiede kan identifiseer sodat meer hulpbronne in so ‘n gebied ontplooi kan word.

Dit is belangrik dat die gemeenskap sake open by die SAPD. Daar is ‘n verskil tussen die uitroep van die SAPD na ‘n misdaad en die open van ‘n saak. Om ‘n saaknommer te kry moet ‘n verklaring afgelê word en ‘n saaknommer sal dan via SMS aan die persoon gestuur word. So, maak asseblief seker dat jy wel ‘n saak open en ‘n MAS/CAS nommer kry.

Fees
Op 1 April word ‘n Boschkop-fees op plot 137 Mooiplaats gehou. Op dié gemeenskapsfees sal die SAPD ook teenwoordig wees met raad en daad om misdaad te bekamp. Daar sal ook talle ander vertonings wees en ‘n bring-en -braai. Dit is ‘n ideale geleentheid vir mense in die gemeenskap om mekaar te leer ken. Die fees begin om 8 vm. 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online