Die 17e Cullifest blom met proteas en vermaak PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 28 March 2017 09:27
Untitled Document

Feesgangers kan uitsien na toneelstukke in die teater deur Lizz Meiring en Ben Kruger, musiekoptredes op die opelug verhoog deur groot name soos Steve Hofmeyr, volop eetgoed en kunsmark-kraampies by vanjaar se Protea Cullifest. Die fees word van 29 April tot 1 Mei by Zonderwaterweg 12 in Cullinan gehou.

Dit is vanjaar die 17e Cullifest en die fokus val onder meer op die uitsonderlike proteas van die plaaslike blommeboer, Japie van Staden. Feesgangers het die geleentheid om dié merkwaardige proteaboer te ontmoet en hom om raad te vra. ’n Groot verskeidenheid van die proteas is te koop by die feesterrein.

Daar kan gesmul word aan tradisionele eetgoed soos vetkoek, kerrie en rys, pannekoek, melkkos, pap en kaiings, poedings en ook worsbroodjies en hamburgers. Die wyntuin en biertuin bied lafenis vir droë kele.

Op Saterdag 29 April open die hekke om 9 vm en die eerste musiekoptrede van die dag is Ursula teen 10 vm. Sy word gevolg deur Pieter Smith om 11.30 vm, Du Preez teen 12.45 nm, Jakkie Louw teen 2 nm. en Steve Hofmeyr teen 3 nm. Verskeie kunstenaars tree van 4.30 nm tot 7 nm. op.

Ben Kruger hou om 11 vm ’n eenmanvertoning in die teater. Ben is alom bekend vir sy rolle in ‘Skooldae’, ‘7de Laan’, ‘Binnelanders’ en verskeie films. Die Gauteng-Noordse Landloopbyeenkoms word ook op dié dag gehou.

Op Sondag 30 April maak die hekke om 9 vm oop en die program is soos volg: Piet Smit om 10 vm; Willie en  die Wenspan om 11 vm; Onbeskaamd om 12 uur; en verskeie kunstenaars van 1 nm tot
5 nm.

Op Maandag 1 Mei open die hekke reeds om 8 vm en gewilde kunstenaars begin vanaf 9 vm optree. Dewald Wasserfall tree om 11 vm op, Heinz Winkler teen 12 uur, Lianie May om 1 nm en verskeie ander kunstenaars tot 5 nm.

Lizz Meiring hou om 11 vm ‘n eenmanvertoning in die teater. Liz is ’n bekende gesig in die Afrikaanse vermaaklikheidsbedryf en tree op in verskeie televisieprogramme, soos ‘Mollie en Wors’.

Ouers kan kleingoed by ’n veilige kinder-speelarea onder toesig laat terwyl hulle rustig deur die kraampies stap of ’n teatervertoning bywoon. Bespreek jou sitplek en koop jou toegangskaartjies aanlyn by Computicket of by die fees se ingangshek.

Vir meer inligting, bel Doret Botha: 084-963-4090, e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online