Nkwe se rotspoel eis lewe PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 March 2017 09:23
Untitled Document

Nkwe se rotspoel het vir die eerste keer in jare weer ‘n lewe geëis, dié van die 24-jarige Iphraim Tshabalala. ’n Geregtelike doodsondersoek word gedoen om te bepaal presies wat gebeur het, maar in dié stadium word sy dood as ’n verdrinking hanteer.

Iphraim het die oord in Tierpoort op Saterdag 4 Maart saam met vriende besoek. Hy en ‘n vriend het omstreeks 2 nm van ‘n rots in ‘n natuurlike poel ingeduik. Die polisie vermoed dat die twee vriende teen mekaar vasgeduik het en dat Iphraim ‘n rots getref het toe hy onder die water was.

Sy liggaam, wat redelik diep in die poel was, is kort ná 4 nm deur polisie-duikers uitgehaal. Volgens Netcare 911 woordvoerder, Chris Botha, is Iphraim op die toneel dood verklaar. Sy nek was gebreek. Die swemmer wat gered is, het geringe beserings gehad.


Die groot rotspoel by Nkwe-oord in Tierpoort met ‘n besoeker wat die water tref nadat hy van die
krans afgespring het

‘n Inwoner van die gebied wat saam met haar gesin by die oord uitgespan het toe die voorval gebeur het, sê hulle was geskok om te sien hoe mense om die kuil aangehou het om te braai, te drink en na luide musiek te luister ná die jong man se afsterwe en terwyl sy lyk nog op die oewer gelê het.

Tierpoorters vertel dat dié nie die eerste sterfgeval by Nkwe was nie. Mense onthou veral ‘n Verhage-seun wat jare gelede op dieselfde manier daar gesterf het.

Hennie Annandale, eienaar van die oord wat al ‘n 100 jaar in sy familie se besit is, het bevestig dat mense al voorheen in die rotspoel verdrink het. Hy sê egter dat hierdie die eerste voorval in baie jare is.

Volgens hom is daar kennisgewingborde in die oord en by die rotspoel met die waarskuwing dat ‘n mens op eie risiko daar swem. Swem is nie verbode nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online