Tuks-dosent op Vaalbank doodgeskiet PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 March 2017 09:21
Untitled Document

Tuks landbou-ekonoom dr Frikkie Liebenberg is op 10 Maart op sy kleinhoewe in Vaalbank doodgeskiet.

Drie mense in die omgewing het tussen 9 nm en 10 nm skote gehoor, maar werkers het Frikkie se lyk eers Saterdagoggend 7 vm gekry. Hy is in die rug geskiet waar hy voor sy skootrekenaar gesit het. Die rekenaar is nie gesteel nie.

Die kleinhoewe se heiningdrade is geknip en ‘n venster is gebreek. Volgens Vasti van der Merwe van die Bronkhorstspruitse Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) is die venster gebreek om by die huis in te kom. Daar is bloed in die huis gevind, maar of dit Frikkie of een van die verdagtes se bloed is, sal eers ná forensiese ondersoeke vasgestel kan word. Dit lyk vir die GPF of daar ‘n skietery was en een van die verdagtes gewond is.

Volgens polisiewoordvoerder, kol Lungelo Dlamini, is Frikkie deur die venster geskiet, en is daar geen tekens dat die huis betree is of dat iets gesteel is nie. Hy sê Frikkie se vuurwapen is langs hom gevind en dit is onduidelik of hy ‘n skoot afgevuur het.


Frikkie Liebenberg
Foto: Facebook

Tog is daar bespiegelings dat ‘n gewonde persoon later die dag deur ‘n ambulans naby die Wet Nose Dierereddingsentrum opgelaai is. Die gerug kon nie bevestig word nie.

Die gemeenskap het die Saterdagoggend die gebied afgesper en vir die polisie se honde-eenheid gewag om die spoor te volg. Die polisie het rondom 10 vm opgedaag, maar die soektog is teen
2 nm afgelas.

Die 53-jarige Frikkie het die afgelope nege maande alleen op die Vaalbank-hoewe gebly ná sy egskeiding. Hy word deur sy twee kinders, ‘n 14-jarige dogter en agtjarige seun, asook drie broers en twee susters oorleef.

Frikkie was ‘n senior lektor aan die fakulteit natuur- en landbouwetenskappe aan die Universiteit van Pretoria. Hy was verbonde aan die departement landbou-ekonomie en plattelandse ontwikkeling.

Vroeg in Januarie is ‘n afgetrede landbouwetenskap-dosent se lyk in die openbare toilette by die Musaion-gebou op die Tuks-kampus gevind. Johan de Beer was ná sy aftrede instandhoudingsbestuurder by die universiteit. Sy moord is onopgelos.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online