Merkwaardige mense PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 28 March 2017 09:19
Untitled Document

As jy oor 15 jaar heen by ‘n gemeenskapspublikasie betrokke is, gebeur dit noodwendig dat jy paaie met heelparty merkwaardige mense kruis.

Jy ontmoet uitstaanmense wat ‘n verskil in die gemeenskap maak en ‘n tasbare leemte laat as daar vir laas van hulle afskeid geneem moet word. In hierdie uitgawe van die Bronnie groet ons ‘n handvol van hierdie uitsonderlike mense:

Die Bronberg-gemeenskap het een van sy grootste weldoeners verloor toe Henry Kirstein op
2 Maart deur ‘n bende moordenaars op sy hoewe op Mooiplaats doodgeskiet is. Henry was saam met sy vrou, Eva, baie betrokke by gemeenskapswerk en word beskryf as iemand met ‘n goeie hart, wat mense altyd gehelp het sonder om ooit iets terug te verwag. Hy was ‘n leiersfiguur in gemeenskapsbeveiliging en het met geesdrif die jeug van die omgewing met gereelde ‘boot camps’ die natuur leer waardeer en ervaar terwyl veiligheidsbewustheid by hulle gekweek is. Lees berig hier.

Op 4 Maart het die gemeenskap afskeid geneem van Mervyn Woodrow. Mervyn was ‘n baie talentvolle skrywer, digter, skilder, opvoedkundige en ‘n bekende teler en leier in die Arabierperdwêreld. Hy het hom 40 jaar gelede op sy hoewe aan die oewers van die Pienaarsrivier gevestig en sy gemeenskapsbetrokkenheid en simpatieke omgang met die mense van sy omgewing het ‘n positiewe merk gelaat op almal wat hom leer ken het. Mervyn was ook van meet af aan geesdriftig en opgewonde oor die koms van die Bronnie en sy aanmoediging en raad sal altyd waardeer word. Die humoristiese sketse in sy boek, ‘Bard in the bush’, het karakters uit die omgewing met deernis omskryf en vir groot vermaak gesorg. Lees berig hier.

Een van die laaste oorlewende Duitse oorlogwesies en befaamde historikus, Werner Schellack, is op 11 Maart in Cullinan oorlede. Ná sy aftrede as geskiedenisprofessor by Unisa het Werner kurator by die McHardy-huismuseum in Cullinan geword en was ‘n alom-bekende en beminde karakter op dié dorpie. Hy het bekend gestaan as iemand met ‘n bogemiddelde algemene kennis en mense vertel dat jy hom bykans enigiets kon vra en hy sou die antwoord ken. Ons sal Werner onthou vir sy geesdriftige nastrewe om sake en strukture van geskiedkundige belang in die gebied, behoue te laat bly en vir sy tegemoetkomendheid om sy aansienlike kennis met die Bronnie en met sy gemeenskap te deel. Lees berig hier.

Alet Brisley van Kleinfontein het ‘n warm welsynhart gehad en haar afsterwe op 10 Maart laat ‘n groot leemte. Alet was betrokke by verskeie welsynsaksies in haar gebied en sy het altyd gereed gestaan om minderbevoorregtes se lewens draagliker te maak. Lees berig hier.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online