Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
Die plan was om by ‘n nuwe kuierplek in Garsfontein te loop draai, maar knap na die afdraai op die Zwavelpoortteerpad, onthou ek hoe die diep dorp op ’n Saterdag kan woel – veral op ‘n Valentynsnaweek.
Ons swenk skerp links in by die plek wat Peter Harris toentertyd onder groot protes aan die hang van die Bronberg gebou het. Peter was in die jagbedryf en hy het die plek Ndlovu Lodge gedoop. Later het Spanjaarde (regtes, uit Spanje uit) dit gekoop en die restaurant ‘n Spaanse geur gegee.
Pasta Arrabiata
‘El Encuentro Restaurante’ noem hulle die kuierplek. In Ingels, sê Google, beteken dit ‘the meeting’. Ek wil vermoed dis eerder ‘ontmoeting’ of ‘raakloping’ soos in ‘encounter’ op Ingels.
Dit is ‘n imposante gebou wat Peter op ‘n baie mooi berghoewe staangemaak het. Die omgewing is mooi, die uitsig is mooi, die stilte is mooi – en dis besonder stil. Ek wonder so in die stilligheid hoekom ons die enigste gaste in die groot en goeie restaurant op ‘n Valentynsnaweek is en ek het dalk die antwoord – maar later meer daaroor.
Met die intrapslag verwelkom ‘n glimlaggende Spaanse vrou ons en die vriendelike hoofkelner genaamd Vincent begelei ons na ‘n stoeptafeltjie. Hier roer ‘n welkome luggie. Ook in die ruim eetkamer met sy hoë grasdak is dit lawend koel. Die bier is koud en die koffie geurig – so verstaan ek altans.
Ndlovu se baaiplekkie
Die plek is in die poort van Zwavelpoort gebou en die uitsig op die Bronberg en oor die somergroen vlaktes heen tot doer waar die Magalies nog so blou lê, wek ‘n rustige tevredenheid in die gemoed.
Die spyskaart belowe ‘n vermenging van eg Spaanse en eg Suid-Afrikaanse geregte. By voorgeregte sien ek die gewone verdagtes soos hoenderlewertjies en slakke, maar ook iets wat hulle ‘heuvos rellenos’ roep. Dis tuna-gevulde eiers met ‘n tuisgebroude sousie op slaaiblare. Jy kan ook jou aanloop met ‘n koue Spaanse sop neem, sou jy wou.
Geen Spaans te bespeur by die vier slaaikeuses nie. Metgesel sou uiteindelik op een van die drie Italiaanse pastageregte besluit. Sy kies die pasta arrabiata (penne) met garnale. Nou beteken arrabiata letterlik ‘kwaad’ in Italiaans. Dit verwys na die sous en is toe kwaai lekker, verseker Metgesel my. Dit kos R110. Jy kan ook ‘n alfredo of ‘n bolognaise teen R96 bestel.
Lamskerrie met ‘n Spaanse draai
Sy het aanvanklik op die eg Spaanse paella besluit, maar die sjef maak net dubbelporsies en ek is nie baie partydig vir ‘n paella nie. Sy wou nie byt aan die voorstel om een porsie huis toe te vat nie. Die dubbel-paella kos R360.
Stokvis (R125), koningklip (R165) of ‘n seekosmengelbord (R168) is die viskeuses. ‘n Mengelbord vir twee kos R290.
Schnitzel van hoender (R130) of van bees (R138) of ‘n parmasan-gekrummelde hoenderbors teen R140 tel onder die pangebraaide vleiskosse.
Jy kan lamstjops (3), beeshaas (250 g), kruisskyf (350 g) of T-been (500 g) wat vlamgebraai is, beproef. Jy het ‘n keuse van aartappel, op bykans elke denkbare manier voorberei, of rys en groente of slaai daarmee saam. Die vlamvleise weeg in teen tussen R148 en R160.
Eenkant toe se uitsig vanaf die stoeptafeltjie
Ek loop haal my koskeuse onder die spyskaarthofie wat ‘Specialities’ sê. Hier kry jy vier geregte wat duidelik eg Spaans is en een (‘n beesstert teen R158) wat eg Suid-Afrikaans is. Ek sou ‘n lamskerrie bestel, wat ek vermoed ‘n ondertrouery van die genoemde koskulture is, en ook R158 kos.
Eg Spaans is die San Jacoba wat spekgestopte biefstuk met verskillende kase, gekrummel en pangebraai met ‘n sampioen- of pepersous daarby, is. Dit kos ook R158. Pollo al Aljillo is ‘n Spaanse knoffelhoendergereg teen R138; Pescado en Salsa is ‘n vis-en-garnaaldis met ‘n geel Spaanse sous wat saam met ertjies bedien word – ook R158. Dan is daar die Spaanse paella, soos reeds genoem.
Vincent sê die lamskerrie is ‘mild’ en ek kan nie sê hy het die waarheid effe verdraai nie, want die een se ‘mild’ kan die ander se ‘hot’ wees. Die skenkelkerrie was baie smaaklik en netregsag met ‘n goeie skootjie masala daarby (wat enige maaild hom op die plek warm kan laat skrik) en die roomspinasie en rys daarby was byna perfek.
Die spyskaart bied ook ‘n keuse van burgers, broodjies en nagereg.
Binnetafels met Afrika-dekor
Ons het verskriklik lekker gekuier en genuttig by El Encuentro. Die diens was puik en die Bronbergplot en die omgewing, pragtig en rustig. Hoekom dan so stil op ‘n Valentynsnaweek? Ek vermoed te min Bronbergermense was bewus van hierdie juweel in hulle midde of op hulle voorstoep.
Jy kan hulle bel by 012-809-0432. As jy nie Spaans magtig is nie, praat maar Engels, of vra om met Bella, die kelnerin van Brits, te praat. Bella sê as jy nie kan Afrikaans praat op Brits nie, is jy in die moeilikheid. En o ja, sê asseblief jy het deur die Bronnie van hulle te wete gekom. |