Hondeverbod in reservaat deur ‘Vriende’ beveg PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 February 2017 02:56
Untitled Document

Vriende van die Faerie Glen Natuurreservaat en mense wat gereeld in dié reservaat met hulle honde stap, het hofverrigtinge aan die gang gesit om die verbod op honde in die reservaat ter syde te stel.

Die metropool van Tshwane se stadsraad het die verbod op honde vanaf 1 Januarie ingestel. Dit volg na ‘n kennisgewing wat dié verbod aangekondig het, in Augustus by die reservaat se ingang opgesit is.

Volgens Louise Kritzinger, voorsitter van die Vriende, het hulle op 25 Januarie hofdokumente aan die stadsraad bedien. Die Vriende wag om te sien hoe die raad gaan reageer voor hulle by die hof aansoek doen vir ‘n bevel wat die stadsraad sal dwing om honde in die interim-periode daar toe te laat.

Louise sê dit is glad nie die Vriende se doel om die reservaat van sy bewaringstatus te ontneem en dit in ‘n hondepark te omskep nie. “Indien honde op ‘n verantwoordelike wyse in die reservaat toegelaat word, kan dit nie ‘n negatiewe uitwerking op die omgewing hê nie,” sê Louise.


Wild in Faerie Glen Natuurreservaat
Foto: VFGNR

Dekades
Honde aan leibande is vir dekades in die reservaat toegelaat onder die munisipale verordeninge op openbare geriewe, selfs nadat die reservaat in Junie 2014 amptelik as ‘n natuurreservaat geproklameer is.

Tania Quarmby, voorsitter van die Pretoriase Herdershondklub, sê sy onthou dat sy 35 jaar gelede vir die eerste keer met haar honde teen die Bronberg in die reservaat opgestap het.

In die openbare deelnameproses van die strategiese omgewingsevaluering vir die reservaat, wat in 2004 gedoen is, was van die sleutelbevindings in die sosio-ekonomiese waardasie dat die meerderheid besoekers aan die reservaat (81%) ten gunste daarvan was dat troeteldiere in die reservaat toegelaat word.

Dit is ook toe uitgewys dat die reservaat vir die plaaslike gemeenskap van bepaalde belang vir ontspanningsdoeleindes was. Een van die hoofaktiwiteite in dié afdeling was juis om met ‘n mens se honde te gaan stap.

Die Vriende sê dat hulle baie klagtes ontvang het van lede met honde wat dié reservaat al baie jare lank ondersteun en wie se ondersteuning bygedra het tot die bewaring van die reservaat.

Verban
Honde is klaarblyklik nou verban aan die hand van ‘n afdeling van die natuurbewaringsregulasies wat lui dat geen huisdiere op grond wat deur die Gautengse provinsiale administrasie benut word, toegelaat mag word nie.

Die Vriende sê dat selfs as die ordinansie toepasbaar sou wees, dit mense sou toelaat om aansoek te doen vir ‘n permit om huisdiere in die reservaat toe te laat. Tog is geen permitstelsel in plek gesit nie.

Die Faerie Glen Natuurreservaat is onder die nasionale omgewingsbestuur se Wet op Beskermingsgebiede geproklameer, alhoewel sy administrasie toegewys is aan die munisipaliteit.

Volgens dié Wet kan die besturende owerheid die reservaat deur interne reëls en munisipale verordeninge bestuur, sê die Vriende. Slegs aktiwiteite wat ‘n nadelige uitwerking op die beskermingsgebied sal hê, moet volgens die Vriende verbied word.

Dié voorsiening bied die kans dat toestande daargestel kan word vir enige hond of enige troeteldier om ‘n natuurreservaat binne te kom. Die verbod op honde is volgens die Vriende nie nodig nie.


Honde is verban uit die Faerie Glen Natuurreservaat
Foto: Dogs by Nature

Proses
Die Vriende sê dat die munisipaliteit geen openbare deelnameproses gehou het voor die verbod op honde nie. Hulle beweer dat hulle op ‘n 2004 strategiese omgewingsberaming en ‘n 2009 omgewingsimpakberaming staatmaak, tog is honde slegs terloops in daardie studies oorweeg. Daar was geen kennisgewing aan die publiek dat daardie studies tot die verbod op honde sou lei nie.

Volgens die Vriende aanvaar altwee studies dat honde ‘n lae omgewingsimpak sou hê as hulle beheer word en altwee studies beveel aan dat honde steeds tot die reservaat toegelaat kan word.

Of honde in die reservaat toegelaat mag word of nie, is ook nie aangespreek in die openbare deelnameproses wat in 2013 gelei het na die verklaring van die gebied as ‘n natuurreservaat nie, sê die Vriende. Geen toepaslike kennisgewing van die proses is aan die publiek beskikbaar gestel nie.

Leiband
Volgens die Vriende is die groot kwessie dat baie mense nie hulle honde aan leibande hou nie, soos vereis deur die verordeninge, en dat die munisipaliteit nié leibande afgedwing het nie.

Die reservaat het met Tshwane probeer praat om dié probleem op te los deur ‘n permitstelsel soortgelyk aan die een wat in die Tafelberg Nasionale Park ingestel is. Die permit sal honde-eienaars verplig om hulle honde aan leibande te hou en lede van die publiek sal ‘n belangrike rol speel om permithouers wat die reëls verbreek, aan te meld.

Volgens die Vriende het dié voorstel en ‘n formele brief, wat aan die einde van verlede jaar geskryf is om te vra dat ‘n openbare deelnameproses gehou moet word voor ‘n besluit oor die verbanning van huisdiere geneem word, onbeantwoord gebly.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online