As die kalf in die put is . . . PDF Print E-mail
News - Artikels
Tuesday, 28 February 2017 02:55
Untitled Document

‘n Geval van die kalf wat letterlik in die put was, het een nag in Februarie gelei tot ‘n hele reddingsdrama waarin leierlede van Cullinan en Rayton se GPF hoofrolle vertolk het.

Toe Dirk Henrico van Hartebeesfontein naby Rayton se uitgevrete Nguni-kalf laatmiddag soek raak, het die kalf se ma jammerlik aan’t bulk gegaan. Dirk se beeste het in daardie stadium op ‘n buurplaas geloop. Die buurman het gaan ondersoek instel en ontdek dat die kalf in ‘n septiese tenk se put beland het.


Planne word beraam om die kalf uit die put te kry

Die buurman het Dirk laat weet, wat op sy beurt by Toni de Lange, ondervoorsitter van Cullinan se GPF, om hulp aangeklop het. Dit is gevrees dat die kalf se onafwendbare voorland verdrinking sou wees as daar nie gou ingegryp word nie.

Toni en haar man Willem was voorheen ook buurboere van Dirk en hy het gehoop dat Toni kontakte het wat kan help en ‘n pomp kan verskaf om die vloeistof uit die put te pomp.

Toni het by Johan Bouwer, Rayton se GPF-voorsitter, om hulp aangeklop en sy is saam met haar man Willem en seun Willem junior (16) na die toneel. Dit was reeds donker en die koplampe van die voertuie is ingespan om lig op die reddingspoging te gooi. Volgens Toni het die kalf in die gat van twee meter diep beland toe die sementdeksel daarvan onder sy gewig meegegee het.


'n Vragnet is eers tevergeefs ingespan

Dirk en ‘n plaaswerker het met ‘n emmer probeer om die put se inhoud uit te kry, voor Johan met ‘n pomp opgedaag het en begin het om die put te dreineer. Teen hierdie tyd was die stomme dier moeg gespook en is ‘n tou om hom gebind om sy kop op te hou.

Met die meeste van die gat se inhoud uitgepomp was dit duidelik dat dit geen maklike taak sou wees om die kalf van goed oor die 200 kg uit die put te kry nie. Dirk het met sy waterstewels in die ongure gat geklim en ‘n vragnet onder die dier deurgewerk. Toe het die sewe mense op die toneel begin spook om die swaar vrag uit te trek.

Volgens Toni het hulle amper in hulle doel geslaag, toe die kalf se agterlyf uit die net loskom en die dier terugval in die gat. Daarna is belde om die dier se lyf gebind en die uitligproses het van voor af begin.


Bykans vier ure later is die kalf ongedeerd uit die gat

Die hele reddingsdrama het bykans vier ure geduur, maar uiteindelik is die Nguni-kalf ongedeerd aan sy ma terugbesorg. ‘n Nuwe, stewige bedekking is intussen oor die put aangebring.

Toni sê dit was merkwaardig om te sien hoe lede van twee dorpe se GPF’s kan saamwerk om mense in ‘n ander GPF-sektor by te staan – as die kalf in die put is.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online