Wyle Piet Oortjies se geheim PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 28 February 2017 02:54
Untitled Document

Dit was laatmiddag toe die verskriklikste storm oor Oorlogsfontein opsteek, vertel Gert Mossie. Hy was nog maar so ‘n opgeskote kannetjie en om alleen die jagveld te kon in op sy oom Jan Mossie se Bosveldplaas, was ‘n wonderlike ervaring – net hy, die .303 en ‘n bruin werfhond met die naam van Wagter.

Hulle het dié hele dag geloop – op soek na ‘n groot koedoebul. Toe die donker wolke begin saampak het die wind skielik wild begin waai en die donderweer en blitse was vreesaanjaend. En toe begin dit wildehonde en rooikatte reën, sê Gert Mossie.

In die boonste bergkamp van die plaas, waar hy en Wagter hulle kom kry toe die storm losbars, was ‘n ou bywonershuisie. Daar het oom Piet Oortjies tot die dag van sy oorlye, vir jare soos sy vinger alleen gebly. Die grootmense het vertel dat oom Piet geweier het om na familie of ‘n ouetehuis toe te trek, want hy wou nie sy vrou, tant Lenie, so ‘stoksiel alleen’ daar los nie.

Die ding is, sê Gert Mossie, dat tant Lenie ‘n goeie 15 jaar voor oom Piet Oortjies reeds die tydelike met die ewige verwissel het. Die grootmense het maar kopskuddend gesê dat oom Piet Oortjies sekerlik ‘n paar varkies soek het.

Met Wagter op sy hakke maak Gert in die gietende reën vir die bywonershuisie teen die hang van die rant. Teen dié tyd was dit al goed donker. Gert vertel dat hy in die lig van ‘n bliksemstraal nog die twee eenvoudige graffies van oom Piet en sy geliefde Lenie vir ewig neffens mekaar in die vervalle voortuintjie kon sien.

Hulle is deur die voordeur, wat nou aan een skarnier hang, die beskeie huisie binne en in die lig van sy klein flitsliggie sien hy dat die eenvoudige meubels nog in die voorkamer staan, sê Gert. Hy is effe verbaas, want dit lyk of die vertrek en die meubels heel netjies en skoon vertoon.

Gert Mossie vertel dat die storm buite geen teken van ophou toon nie, maar binne is dit knus en droog. Hy neem plaas op die ou rusbank, haal sy knipmes uit en hy en ‘n bewende Wagter deel ‘n stukkie koedoebiltong wat in sy broeksak was.

Dis pikdonker as hy die flitsliggie afsit, maar hy besluit om dit so min moontlik te gebruik om sodoende die batterykrag vir ‘n moontlike noodgeval te spaar, sê Gert. Hy weet vanaand sal hulle nie kan terug na oom Jan se opstal toe nie, want die drif tussen die bergkamp en die plaashuis sal toe wees onder die vloedwater.

Gert vertel dat hy later op die ou rusbank aan die slaap geraak het, met Wagter hier neffens hom op die vloer. Lekker moeg is hulle van die lang dag se stap in die jagveld. In die nag word hy ‘n paar keer wakker as ou Wagter aan sy hand lek. Ook maar bang, dink Gert en dan tel hy net sy arm wat van die bank afhang weer op en slaap verder.

Gert sê deur die nag het dit ‘n hele paar keer gebeur dat sy arm weer van die ou bank afhang en dan word hy telkens wakker as Wagter weer sy hand lek. Toe dit vroegoggend weer gebeur dat Wagter hom so wakker lek, skrik hy hom oor ‘n mik toe hy iewers in die huis ‘n duiwelse geraas hoor, vertel Gert.

Dit klink soos iemand(e) wat ‘n klomp leë blikke rondskop en tussen-in hoor hy ‘n onaardse gekerm en geween. Sy broek bewe en sy hart klop in sy kroontjie, sê Gert, maar hy staan van die bank af op en loop versigtig agter die flou liggie van sy flitsie aan om te gaan kyk wat of wie dit is wat so ‘n onheilspellende rumoer in die donker huisie opskop. In die ander hand dra hy die .303.

Aan die einde van die gang is ‘n toe deur, sê Gert, en dis agter hierdie deur vanwaar die verskriklike geraas opklink. Hy lig die .303 en maak die deur versigtig oop . . . Daar in die lig van die flitsie, staan ‘n verskrikte ou Wagter grootoog en uithangtong tussen die blikke, bottels, potte en panne wat nog in die ou spens was . . .

Dis duidelik dat die stomme hond die hele nag nog daar toegesluit was, sê Gert Mossie.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online