Soettand se sondebelasting PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 28 February 2017 02:51
Untitled Document

Lianie O’Neill is ‘n rekenmeester van Dante Deo Rekenmeesters in Rayton


Lianie O’Neill

Sondebelasting is belasting gehef op goedere wat ‘n negatiewe impak op die verbruiker het, soos sigarette en alkohol. Die doel van die belastings is om verbruikers te ontmoedig om dié produkte te koop.

Vraag: Werk dit? Antwoord: Nee! Jaarliks wag rokers en drinkers (mag ek dit so noem?) in spanning vir die begrotingsrede om te hoor wat die belasting-implikasie op dié genietinge is. Een oor in (kerm en kla ’n bietjie) en ander oor uit – geniet voort. 

Almal raak toe mos gesondheidsbewus en selfs Dis-Chem begin om elektroniese sigarette te verkoop en net daar sien Jan Taks die geleentheid om ‘n paar ekstra sente te maak deur te noem dat die beleid heroorweeg sal word om e-sigarette ook te belas. Groot sug. Asof dit toe nie genoeg is nie . . .

Suiker
Alles wat lekker is in die lewe is mos sleg vir jou gesondheid. Navorsers is van mening dat suiker die groot sondebok is as dit kom by dinge soos vetsug, tandbederf en lewerskade.

Raai wat nog? Dit is glo verslawend! Daarom het die Ontvanger van Inkomste ‘n voorgestelde belasting afgekondig wat op 1 April in werking sal tree. Eintlik hoop ’n mens maar dat dit net een van daardie April-Gekkedag-grappies is.

Helaas toe nou nie. Die hele doel van die oefening is dat vetsug met ten minste 10% verlaag sal word teen 2020 deur ‘n 20% verhoging in die prys op suiker-versoete drankies.

Vetsug
Ek is seker die soettande onder ons voel glad nie gelukkig oor dié besluit nie. Tog is daar verskeie instansies wat hierdie belasting verwelkom en van mening is dat dit Suid-Afrikaners sal help om hulle leefstyle te heroorweeg.

Dan is daar diegene wat van mening is dat dit ‘n diskriminasie teen die armer gemeenskappe is en nie noodwendig ‘n positiewe impak op die vetsug-vlakke in Suid-Afrika sal hê nie. Ek persoonlik weet darem nie heeltemal of Coke Zero in dieselfde klas as regte, egte, stroopsoet, yskoue Coke geplaas kan word nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online