Ingenieur word ‘n skrywer ná aftrede PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 28 February 2017 02:44
Untitled Document

Die Toba supervulkaan se uitbarsting 75 000 jaar gelede fassineer Hendrik Ver Loren Van Themaat van Zwavelpoort se bekende druiweplaas dekades reeds. Wat het toe gebeur? Hoe het ons voorsate dit hanteer? Ná sy aftrede as ingenieur het hy besluit om ’n fiksieboek oor dié gebeurtenis te skryf.

Hendrik Ver Loren van Themaat

Reeds op universiteit het ‘n aantal eienaardighede oor die Toba-supervulkaan se uitbarsting my laat wonder. Met die jare het nog baie meer stukke inligting na vore gekom wat my ook laat wonder het. Snaaks genoeg het wetenskaplikes die eienaardighede grootliks geïgnoreer.

Die ontploffing van die vulkaan het ‘n kaldera (’n groot krater) van ongeveer 100 km by 60 km gelos.

Toba is vandag meer in Sumatra. Meeste van die materiaal het verdamp of in die stratosfeer beland waar dit vir tot 1 000 jaar die aarde in ‘n vulkaniese winter gedompel het. Ons en aanverwante menstipes het so te sê uitgesterf, behalwe vir ‘n paar teelpare.


Hendrik Ver Loren van Themaat

Hier was alreeds die antwoord op een van die eienaardighede wat my altyd gehinder het – waarom is daar nou slegs een spesie van mens op aarde, terwyl daar voorheen baie ander was – Neanderthals, Denisovans, Erectus, Florienses en waarskynlik nog baie meer wat nog ontdek moet word.

Ek het nie genoeg bewyse gehad om ‘n wetenskaplike artikel te skryf en in te dien nie, dus was my alternatief om die eienaardigheid in ‘n fiktiewe verhaal in te weef. Min het ek geweet wat op my wag.

As ingenieur het ek talle artikels oor my kundigheidsgebied geskryf, wat in vaktydskrifte gepubliseer is.

Ook moes ek voltyds voorleggings maak, tenders voorberei en selfs baie patent-dokumente opstel vir prokureurs om te verfyn en te registreer. Ek het gedink ek kan skryf.

Maar . . . tegnies-skryf is meestal in lydende skryfvorm en ’n mens vertel, jy wys nie. My skryfstyl was onleesbaar as fiksie. Met Google se hulp het ek geleer oor hoe elke hoofstuk in tonele, bestaande uit gebeurtenis-reaksie-eenhede, opgedeel moet word. ‘n Paar kursusse het ook gehelp. Selfs voor die hand liggende dinge soos leestekens en waar om paragrawe te breek, moes ek leer.


‘Catastrophe – Survivors of the Super Volcano’

Teen dié tyd was ek nog ver weg van skryf om my eienaardige idees oor te dra, maar die proses het interessant geword. Ek het besluit om in Engels te skryf. Die getal lesers wat fiksie waarin oplossings vir wetenskaplike eienaardighede ingeweef is in Afrikaans sal lees, is waarskynlik maar min.

Die titel van my boek moes om die oorlewende menstipes en die katastrofe gaan en uiteindelik het ek, met Ria se hulp, besluit op ‘Catastrophe! The survivors of the Toba Super Volcano’ as titel.

Die boek is op Kindle beskikbaar, gratis vanaf 10 vm op 24 Februarie tot 10 vm op 27 Februarie. Die Kindle toepassing is gratis beskikbaar vanaf Amazon vir rekenaars en slimfone. ‘Catastrophe!’ gaan binnekort in boekvorm verskyn. Ek bespreek sommige van die uitgangspunte in die blog: http://www.illoreaens.com.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online