Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 28 February 2017 04:32
Untitled Document

Kanse is goed dat jy die swartkroontjagra se geluid baie goed ken al kan jy dié voëltjie nie maklik raakgesien kry nie. As jy hom wil sien, maak sy geluid agter hom aan ná en hou die bosse dop.

Hy roep met ‘n harde fluit wat klink soos: ‘whee-tjeree, tjerooo-tjeree, tjerooo’. Die roep loop met dalende toonhoogte en ‘n slepende einde. Hy maak ook ‘n aantal kort, kras geluide.

Die swartkroontjagra, Tchagra senegalus, was vroeër saam met die laksmanne in die familie Laniidae ingesluit. Vandag is hy egter onder die boslaksmanne ingedeel. Dit is ‘n groep skaam voëls wat goed wegkruip, al spog hulle met helder kleure soos dié van die swartoogboslaksman en oranjeborsboslaksman. Nou nie dat die tjagra ‘n helderkleurige voëltjie is nie.


Die swartkroontjagra
Foto: Wikipedia

Spesies
Daar is vier spesies in die tjagra genus – die swartkroon-, vlei-, rooivlerk- en grysborstjagra – en hulle is almal ‘n kombinasie van bruin, swart en wit kleure. Dit kan nogal moeilik wees om dié vier tjagra-spesies uitmekaar te ken omdat hulle soortgelyke koppatrone het.

Die swartkroontjagra het ‘n breë swart streep deur die oë met ‘n nou swart kroon op ‘n witterige agtergrond. Dit lyk kompleet asof hy wit wenkbroue het. Sy swart voorkop en kroon en ligter onderste dele onderskei hom van die ander tjagras.

In Bronbergwêreld sal ‘n mens egter net die swartkroon- en rooivlerktjagra raakloop. Die swartkroontjagra is groter, meer vrypostig en sy gedrag is opvallender as die ander soorte tjagras.

Sy vlerke is rooibruin, sy rug vaalbruin en sy langerige stert is swart met wit punte. Sy kort, swart snawel is sterk met ‘n haakpunt en die bene en voete is ‘n groenerige grys kleur.

Die swartkroontjagra is 21 tot 23 cm lank en weeg 54 gram – groter as ‘n mossie, maar kleiner as ‘n rooiborsduifie.

Mannetjies en wyfies lyk eenders, maar onvolwassenes het ‘n gespikkelde kroon en ‘n horingkleurige snawel.


Die swartkroontjagra het ‘n breë swart streep deur die oë en ‘n nou swart kroon
Foto: Derek Keatsby Rietvlei Natuurreservaat

Ruigtes
Die swartkroontjagra hou van ruigtes, gemengde doringveld en rivierstruikgewasse. Hy het dieselfde gewoontes as laksmanne – hy jag insekte, klein reptiele en paddas vanuit ‘n sitplek in ‘n boom – alhoewel hy nie so maklik opmerkbaar is soos laksmanne nie. Hy sal byvoorbeeld nie in die heel hoogste takkie van ‘n boom gaan sit nie.

Die wyfie lê twee of drie eiers in ‘n nessie wat lyk soos ‘n vlak bakkie, wat uit takkies, wortels en hegranke gemaak is. Die nessie word op ‘n horisontale tak of in die vurk van ‘n digte bos of klein boompie gemaak, een tot vier meter bokant die grond.

 

 

© 2024 Die/The Bronberger