Ongewone boom het doodgewone naam PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 28 February 2017 02:31
Untitled Document

Wil jy ‘n boom plant wat droogte- en rypbestand is? Een wat veldbrande oorleef, goed klaarkom in sanderige grond met ‘n baie lae pH waarde en verskeie habitatte sy eie kan maak?

Dan is die gewone haakdoring die ongewone boom waarna jy op soek is. Jy kry hom in beboste dele, rotsagtige heuwels, in droë riviervalleibosse, in vlak rotsagtige grond, maar ook in sanderige spoelgrond op rivieroewers en tussen kusstruikgewasse.

Die gewone haakdoring, Acacia caffra, is ook as die katdoring bekend. Die Zoeloes gebruik sy bas om ‘n aftreksel te maak wat ‘n mens se bloed glo ‘skoonmaak’. ‘n Aftreksel van sy blare, gemeng met melk, word as maagspoeling gebruik.

Sy blare en sade is goeie voer vir vee en wilde diere en sy gom is eetbaar. Swart renosters vreet sy stam en bas, en bobbejane vreet sy blomme en saad. Hy is ook ‘n belangrike bron van heuning.

Omdat sy hout so hard is, word die gewone haakdoring gebruik om heiningpale te maak en selfs vir ornamentele werk. Die tipiese pype wat die Xhosas rook word van sy pragtige wortelhout gemaak en sy sagte lang takke word in mandjie-vlegwerk gebruik.


Die gewone haakdoring
Foto: Wikipedia

Eerste
Die gewone haakdoring is een van die heel eerstes wie se saad na die reën sal ontkiem en ook een van die eerstes om in die lente te bot. Sy nuwe lente-blare is ‘n sagte, vars groen veeragtige vorm.

Dié boom se blaredak gooi ‘n ligte skadu wat genoeg lig deurlaat sodat gras onder hom kan groei.

Sy blomme is ‘n romerige wit met ‘n soet reuk. Hulle verskyn van September tot November, maar blom op hulle mooiste in Oktober. Die blomme word deur bruin saadpeule gevolg.

Die gewone haakdoring kan tot 14 meter hoog word, maar in droër dele bly hy ‘n groterige struik. Sy stam is gewoonlik verdraai; sy spinthout is witterig en sy kernhout ‘n baie donker bruin met ‘n fyn grein sonder defekte.


Sy romerige wit blomme het ‘n soet reuk
Foto: Bronberg Plants

Groei
Die gewone haakdoring kan maklik van saad af gekweek word en hy groei 700–900 mm per jaar. Hy het ‘n aggressiewe wortelstelsel en moenie naby plaveisel of geboue geplant word nie.

Dié boom se saad moet eers met warm water behandel word voor hulle sal ontkiem. Gooi warm water oor die saad en laat afkoel. Die saad sal begin swel soos wat hulle die water absorbeer. Moet hulle nie langer as 24 uur in die water los nie, anders sal hulle begin bederf.

Dit is beter om die saad direk in swart sakke te saai omdat die penwortel baie lank is en sensitief is vir oorplanting.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online