Breytie Breytenbach
Min mense dink daaraan dat
voorkoming van misdaad
eintlik in die huisgesin
plaasvind. Navorsing na die redes
waarom sommige mense misdadigers
word, dui elke keer daarop dat
ontwrigting in die gesin terwyl die
misdadiger nog baie jonk was, feitlik
in alle gevalle ’n baie sterk bydraende
faktor was. Gewoonlik gaan dit
om verwerping of
uitsluiting uit die
warmte van ouers
se toewyding en
liefde.
Hieruit volg logies
dat sterk gesinsbande
die beste
manier is om toekomstige
misdaad
te voorkom. ’n
Verslapping van
individuele versorging
en dissipline
in die huis,
gaan nie noodwendig
van kinders
misdadigers
maak nie, maar dit
skep ’n bedding
waarin die saadjies
van afwykende
gedrag kan
groei.
Die uitkoms is
natuurlik onvoorspelbaar,
maar
daar is toestande
wat nie noodwendig
misdaad is nie,
maar net een of twee treetjies daarvandaan.
Een so ’n voorbeeld is
satanisme. In die oë van die wet is
satanisme ’n godsdiens en dus nie ’n
oortreding nie. Gevolglik kan niemand
aangekla word van satanisme
nie, selfs nie wanneer ’n kind openlik
gewerf word om daaraan deel te
neem nie. En dis relatief maklik om’n kind wat reeds ’n swak selfbeeld
het te lok met beloftes van bonatuurlike
magte.
Dit is egter algemeen bekend dat
sekere misdade voortvloei uit of
gekoppel word aan satanisme, soos
geweld, dieremishandeling en
dwelmmisbruik. Teen die tyd dat
sulke oortredings plaasvind is die
persoon reeds betrokke en ingelyf
by die kultus. Dan is dit te laat om te
dink aan voorkoming.
’n Ander probleem wat makliker
misgekyk word, is die misbruik van
drank deur kinders. Net soos rook,
laat drank ’n kind volwasse en “in
beheer” voel. Navorsing toon dat
die neiging tot drankmisbruik vasgelê
word lank voor die kind se
twaalfde verjaarsdag.
Nog ’n ernstige probleem is selfmoord.
In die Pretoria gebied pleeg
meer as een kind per maand selfmoord,
statisties gesproke. Wanneer
volwasse selfmoorde bygetel
word, is daar ’n selfmoord amper
elke dag van die jaar hier in Pretoria.
Almal van ons, maar veral ouers van
tieners, moet besef dat kinders
afhanklik is van hulle ouers en ander
belangrike volwassenes vir hulle
gevoel van emosioneel-geestelike
sekuriteit. Daar word gewoonlik
gevra na die simptome van afwykende
gedrag by kinders. Ouers
moet egter besef dat die teenwoordigheid
van simptome daarop dui
dat die probleem alreeds bestaan.
Dan is daar nie meer sprake van
voorkoming nie, maar van rehabilitasie
- ’n baie lang pad wat selde
permanent suksesvol is.
Wanneer ’n kind om watter rede
ookal gebrek aan sekuriteit ervaar,
is daardie kind ’n moontlike oortreder
later in sy/haar lewe. Daarom is
die binnekring van elke gesin die
belangrikste plek waar misdaad
voorkom kan word.
’n Gesellige atmosfeer rondom die
etenstafel een maal per dag kan
wonders doen om mense te laat
voel hulle hoort iewers. Daarmee
saam sal ferm dissipline ’n kind daarvan
weerhou om status deur oortreding
te soek, veral as Pa en Ma
altyd weet waar hulle kinders is.
Ouers moet hulle kinders letterlik en
figuurlik naby hulle hart hou vir die
eerste 25 jaar.
Vir meer inligting, kontak Breytie
Breytenbach by 012-802-1532. |