Sê jou sê oor Cullinan-verbypad PDF Print E-mail
News - Aktueel
Tuesday, 28 February 2017 02:26
Untitled Document

Inwoners het tot 1 Maart kans om kommentaar te lewer oor die basiese evalueringsverslag van die Cullinan-verbypad (K14).

In Augustus 2015 het ons berig dat Cullinan se toegangspad, wat verby die myn se oop put geloop het, toegemaak is omdat die afstand tussen die pad en die myn se oop put al hoe kleiner geword het en die pad ná grondstortings nie meer veilig was nie.

‘n Tydelike verbypad, ‘n grondpad van 1.9 km, herlei verkeer vanaf die noorde van Pretoria na dié dorp. Die beraming was dat die grondpad vir ongeveer twee jaar gebruik sal word tot konstruksie aan ’n nuwe pad, die K14, wat aan Oudorp se suidekant gaan verby loop, klaar is.

‘n Servituut vir dié pad is reeds in die 1960/70’s in die ou PWV Roetebeplanning vir die Witwatersrand vasgelê en geregistreer. Die basiese roete is in 1978 goedgekeur.

Die tydelike grondpad loop vanaf die R513 (Zambeziweg-verlenging) tot by Zonderwaterweg-wes, vanwaar dit verkeer na die Rayton-pad neem.


Die aanwysingsborde op die Rayton-pad (R515) na die tydelike grondpad wat die noorde van Pretoria met Cullinan verbind

In September verlede jaar het ons berig dat JG Afrika Ingenieurs en Omgewingskonsultante aangewys is as die onafhanklike omgewingspraktisyns wat die omgewingsmagtigingsproses vir dié K14-padprojek doen.

Die plan is om ‘n gedeelte van Zonderwaterweg te verlê. Zonderwaterweg is ‘n provinsiale roete (S249) wat Hotelstraat met die Rayton-pad (R515) verbind en ook verby die Cullinan Gekombineerde Skool loop. Omdat swaar verkeer verby die skool ‘n gevaar inhou, word ‘n gedeelte van Zonderwaterweg verlê om toegang slegs aan inwoners te bied.

Die konsep basiese evalueringsverslag gaan oor die konstruksie van die volgende gedeelte van die K14-pad wat by die Rayton-pad (R515) sal aansluit asook die verlegging van die bestaande Zonderwaterweg om toegang aan plaaslike inwoners te bied.

Die verslag is beskikbaar op JG Afrika, voorheen bekend as Jeffares & Green, se webtuiste, www.jgafrika.com. Kopieë is ook beskikbaar by Rayton Biblioteek op die hoek van Oakley en Montrose-straat, tel: 012-358-7018, of Refilwe Biblioteek op die hoek van Rumo en Tswelopelestraat, tel: 012-358-7209.

Kontak JG Afrika se Kirthi Peramaul by tel: 011-231-2200; faks: 011-807-1607 of e-pos: This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online