Waar kry ek my Bronnie PDF Print E-mail
News - Kommentaar
Tuesday, 28 February 2017 02:23
Untitled Document

‘n Vragie wat ons hier by Die Bronberger deurlopend moet beantwoord, is: “Waar kan ek my Bronnie kry?” Dit is ‘n vraag wat met die verloop van ons bykans 15 bestaansjare toeneem en dit is ‘n vraag waaroor ons baie dankbaar is, want dit dui op die steeds toenemende gewildheid van die Bronnie onder ons lesers.

Anders as die meeste publikasies wat gratis in ons gebied en elders versprei word, het die Bronnie van meet af aan besluit om eerder ‘toonbankverspreiding’ as ‘mandjieverspreiding’ by sakesentrums te doen. Ons is in die winkels, die kwekerye, restourante, praktyke, landgoedontwikkelings, die skole en die kerke van ons gebied verwelkom en hiervoor is ons ook baie dankbaar.

Om op dié manier te versprei, het ons die gemoedsrus dat die tydskrif om die regte redes in die regte hande beland en nie dalk in grootmaat om die verkeerde redes deur die verkeerde mense gevat word nie. Ons het wel twee mandjies by twee winkelsentrums in die gebied neergesit. Binne twee maande is die een of gesteel, of dalk deur die mandjieverspreider van ‘n ander publikasie verwyder – wat eintlik ook op ‘gesteel’ neerkom.

Vandag kan jy jou Bronnie maandeliks by nagenoeg 150 punte in die groter Bronberg-gebied kry. Ons kry gereelde versoeke van ander ondernemings wat ook graag die Bronnie aan sy klante beskikbaar wil stel en die heerlike probleem waarmee ons sit is dat mense letterlik nie ‘genoeg’ van ons kan kry nie.

Hoekom dan nie net meer Bronnies druk nie? Natuurlik sou dit die ideale oplossing wees. Dit is al gedoen en die plan is om dit wel vorentoe weer te doen. Die groter koste hieraan verbonde sal egter noodgedwonge ‘n aansienlike verhoging in ons advertensietariewe tot gevolg hê en dit is iets wat baie fyn oorweeg moet word.

In verlede maand se uitgawe het ons verskyningsdatums vir die jaar gepubliseer, sodat ons lesers kan weet presies wanneer om die Bronnie te verwag. Maar ‘waar kan ek my Bronnie kry?’ ‘n Lys van verspreidingspunte is in Februarie 2014 geplaas en hoewel dit effens verander het, is dit op ons webblad onder ‘Artikels’ te sien. Die plan is om ‘n nuwe, opgedateerde gids wat die vraag beter sal beantwoord, in Maart se Bronnie te publiseer.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online