Kry hoendervleis PDF Print E-mail
News - Briewe
Tuesday, 28 February 2017 02:17
Untitled Document

Jenny Beukes van Durban skryf:
Na aanleiding van Roel Jansen se lesersbrief in Januarie oor oom en tannie Strydom se ingekontrakteerde busdiens tussen 1970 en 1980:

Ek onthou die busse nog baie goed. My ouma en oupa Strydom se jongste dogter, Jantjie Kruger, leef nog. Ek gaan hierdie vir haar aanstuur. Sy sal baie inligting kan gee. As ek reg onthou het sy ook op die busse gery.  

My ouma en oupa is albei al oorlede. Ek het skoon hoendervleis gekry toe ek dié lees. So ’n klein wêreld. 

Jantjie Kruger skryf:
Ek is Jantjie Kruger, dogter van oom en tannie Strydom, eienaars en bestuurders van twee Bedford-busse waaroor die navraag gaan. Eers wil ek dankie sê dat lesers nog hierdie twee lieflike mense onthou.

Ek het rond gesoek en gebel om foto’s van die busse in die hande te kry, ongelukkig sonder sukses. Ons het maar min foto’s geneem in daardie maer jare.

Ek was nooit ’n skolier op die busse nie – ek het al skoolgehou, maar my broer was wel. Ongelukkig is hy nou twee jaar gelede oorlede. My ouers het self die busse bestuur, en so ver ek kan onthou, was hulle nooit laat by enige skool nie.

Hulle het die busse in 1954 aangekoop en geleidelik met nuwes vervang. Hulle het die busse in die vroeë 1970’s verkoop, aangesien die Transvaalse Provinsiale Administrasie nie meer buite-kontrakteurs gebruik het nie.

Hierdie busse was hulle trots. Elke Vrydag is die busse binne en buite gewas en elke stukkende plek gelap sodat die busse Maandae weer reg was vir diens. Vakansies was die busse gediens en meganies nagegaan.

My ma is einde 2000 oorlede in die wonderlike ouderdom van 95+ met ’n verstand wat nog baie skerp was en ’n geheue besonder goed. My vader is in 2005 ook op die wonderlike ouderdom van 95+ oorlede, ook met goeie gesondheid en ’n ongelooflike verstand en geheue. 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online