Het jy gehoor? / Have you heard? - Jan2017 PDF Print E-mail
News - Het Jy Gehoor
Tuesday, 31 January 2017 20:15
Untitled Document


Nkwe Plesieroord in Tierpoort hou op 3 en 4 Februarie die Hillsong-kerk se jaarlikse somerfees vir mense van 18 tot 35 jaar oud. Daar is musiekoptredes, waterspeletjies, ‘n waterval en -poele waarin afgespring kan word vanaf die rotse, ‘n sokkerveld en volop eetgoed. Pastore Thomas en Katherine Hanson van Hillsong Kopenhagen gaan hulle wyshede deel. Toegang is R300 ‘n persoon. Toegang en vervoer is R350. Skakel 012-811-5231 of stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

~*~


Die Cullinan Bewarea bied op 11 Februarie ‘n lesing en uitstappie aan om meer oor naaldekokers te leer. Die lesing, met skyfie-vertoning deur die naaldekokerkenner, Lappies Labuschagne, begin om 8.30 vm by aHa Idea Catalyst en word deur ‘n uitstappie na ‘n vleigebied, wat tot ongeveer 12 uur sal duur, gevolg. Die lesing en uitstappie kos R75 ’n persoon. Besprekings sluit op 6 Februarie. Bel Joan du Toit by 082-681-5122 of stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

~*~


Broodblik en Koffiepit hou ‘n mini-Valentynsmark op 11 Februarie van 8 vm tot 2 nm. Hulle volgende Windpomp handwerkmark is op 28 Januarie. Dié markte is op die R51 tussen Petit en Bapsfontein. Bel Adele by 083-445-1608.

~*~


Komediant Emo Adams kuier op 28 Januarie by die Weiveld. Kaartjies kos R100. Francois van Coke skop die toer vir sy album, ‘Hierdie is die lewe’, af op 10 Februarie. Kaartjies kos R70. Deure open om 7 nm vir al die vertonings. Weiveld is by Bronberg Wynlandgoed in Zwavelpoort, waar die Boschkop-pad by Lynnwoodweg-verlenging aansluit. Skakel 071-471-6698.

~*~


‘Hartklank Vir Liefde’ word op Valentynsdag, 14 Februarie, om 8 nm by die Barnyard-teater opgevoer. Dit is die boodskap en motivering agter sanger en liedjieskrywer, Joe Foster, se nuwe projek en album, ‘Hartklank’. Kaartjies kos R150. Die teater is op die hoek van Garstfonteinweg en Netcarestraat, Moreletapark. Skakel 012-368-1555.

~*~


Die Valentyn-stoomtrein besoek Cullinan op 12 Februarie. Die trein vertrek om 8 vm vanaf Hermanstad en terugkeer daar is omtrent 6.15 nm. Kaartjies kos R275 vir volwassenes, R225 vir pensioentrekkers en mense met gebreke, R200 vir tieners, R175 vir skoliere van sewe tot 12 jaar oud, R125 vir kinders van twee tot ses jaar en babas ry gratis saam. Skakel 012-767-7913 of 082-098-6186.

~*~


Die Zwavelpoortse Monte De Dios vier Valentynsdag op 14 Februarie om 6 nm met ‘n romantiese piekniek en ‘n fliek. Die prys, wat ‘n bottel wyn insluit, is R450 per paartjie. Daar is ook ‘n oorbly opsie wat ‘n romantiese aandete en ontbyt sowel as ‘n skouer-en-nek massering insluit. Die adres is Achillesweg 106. Skakel 087-654-4457/8/9.

~*~


Bosveld Lounge op die Boschkoppad hou ‘n driegang maaltyd vir twee op Valentynsdag vanaf
6 nm. Die spyskaartkeuses begin met slakke, calamari of carpaccio; die hoofgereg strek van romerige hoender in deegmandjie, ‘rib eye’ op die been en vis met wiggies en spinasieslaai. Nagereg bestaan uit sjokolade Lava-koek, ‘Italian Kisses’ en ‘peppermint crisp’ nagereg. Bel Adele: 083-390-7130

.

~*~


Lede van die Annelise Bowker Kunsateljee se jaarlikse uitstalling is tot 16 Februarie aan by die Tina Skukan Galery. Kunswerke in potlood, houtskool, pen-en-ink, akriel, olie- en waterverf skilderye en verskeie druktegnieke word uitgestal. Die galery is op plot 6, Koedoebergweg, Faerie Glen, Pretoria. Skakel 012-991-1733 of 083-653-6928.

~*~


Die Kleinfonteinse Perdevereniging bied een keer ‘n maand ‘n ontbyt-perderit deur die wildpark en geskiedkundige Anglo-Boere-oorlog slagveld. Daar is ‘n blaaskansie tussen-in vir ‘n heerlike boere-ontbyt. Jy kan met jou eie perd ry of een by hulle huur. Bel Michelle: 083-570-2117.

~*~


‘Voël Innie Hand’ is die naam van Pierre van Pletzen (Oubaas van Zyl van 7de Laan) se toneelstuk wat op 11 Februarie om 8 nm by Atterbury-teater opgevoer word. ’n Ge-oliede ou akteur loop op die verhoog uit en begin met die openingstoneel van die klug wat hy en ander akteurs opvoer. Skielik besef hy dat hy alleen is, daar is nie ander spelers nie. Hy besluit dat hy die vertoning nogtans op sy eie gaan doen. Soos die spanning om alles alleen te doen op hom inwerk, begin hy al hoe meer drink en kry selfs ’n bottel Handy Andy beet. Kaartjies kos R160. Die teater is in Daventrystraat 4, Lynnwood. Skakel 012-471-1700.

~*~


Mem’re hou elke eerste Saterdag van die maand ‘n plaasmark om die plaaslike boere te ondersteun. Op 11 Februarie is daar ‘n Valentyn Fliekvlooi Buitelug Bioskoop teen R50 toegang. Vat jou eie kampstoel en piekniekmandjie of bestel ‘n mandjie teen R350 ‘n paartjie. Op 14 Februarie is daar ‘n Valentynsete om 6 nm teen R150 ‘n persoon. Op 25 Februarie is dit tyd vir die Familie Fliekaand Buitelug Bioskoop wat elke laaste Saterdag van die maand aangebied word. Mem’re is in Oaklaan 140, Cullinan. Bel Sue by 076-250-9588.

~*~


Die Cowhouse-mark in Hazeldean is elke Saterdag en Sondag van 10 vm tot 4 nm. Toegang tot dié fynproewer kos- en handwerkmark is gratis en die parkering en vermaak, insluitende groot speelareas vir kinders, is ook gratis. Die mark is op die hoek van Ridgeweg en Oukraal Boulevard. Skakel 072-399-0154.

~*~


Die Kunste Fabriek Orkes Projek is ‘n musiekgeleentheid vir kinders om in orkesverband op te tree. Talentvolle kinders van ouderdomme 10 tot 18 jaar speel op 1 Maart om 7 nm ‘n verskeidenheid van tradisionele, barok, klassieke en moderne musiek by Diamantvallei Landgoed op Rhenosterfontein. Kaartjies is by die deur beskikbaar teen R60, kinders onder 12 luister gratis. Bel organiseerder, Loïs Boshoff, by 076-299-9087. Vir meer inligting besoek: http://boshoffmarleen.wixsite.com/kf-orkes-projek.

~*~


‘Evoking a Response’ is die naam van Belinda Hewer se uitstalling by Artbox-galery van 4 tot 20 Februarie. Sy stal olieverf skilderye op doek uit en sê dat haar ondervinding van kuns ‘n voortdurende strewe na die verskuiwing van grense is en dat die kreatiewe proses ‘n stryd kan wees. Daarom help sy graag ander en gee klas sedert 2005. Die galery is in Barnardstraat 858, Elarduspark.

~*~


Louise Carver se nuwe album, ‘Hanging In The Void’, is pas deur Gallo uitgegee. Om te hoor hoe dit klink, besoek haar optrede om 8 nm op 28 Januarie by Barnyard-teater. Kaartjies kos R160. Die teater is op die hoek van Garstfonteinweg en Netcarestraat, Moreletapark. Skakel 012-368-1555.

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online