‘n Bronbergse paradys vol bergkos en toormedisyne PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 31 January 2017 20:15
Untitled Document

Deur Koos Reyneke, Berghuis, Rotspas, Wapadrand

Vandag, 11 Januarie 2017, is daar te veel om oor te skryf . . . nog meer om te sien! Ná drie dae se reën in Pretoria is die Bronberg in Wapadrand kort duskant die paradys.

’n Mens wil skryf oor die waterpoeletjies op die rotse, besig om oeroue eeue se geskiedenis te skryf met hulle effe verweer en miniatuurdongas, selfs watervalletjies wat hulle met duisendstes van millimeters kerf met net stof en water as gereedskap . . . rotsmerke wat meer as 20 000 jare vat om net ’n paar duim te vorder.

Maar vanoggend is die mos en veldvrugte en -sade die opvallendste. Amper soos ’n beesboer se kudde dragtige teelkoeie, hang en dra elke stingel en tak swaar aan veldkis. Geen wonder die oorblyfsels van Boesman en San se teenwoordigheid is sigbaar nie. Hulle moes heerlik hier gewoon het totdat die bloeddorstige Silkaats hulle uitgemoor en verrinneweer het tussen 1820-35.

Gelukkig het ‘Enreke’, my voorvader Hendrik Potgieter, op versoek van verskeie verinneweerde Tswanastammetjies én na die moord op die Erasmuslaer en die uitwis van die Liebenbergs by die Vaalrivier, weer vir Silkaats in 1836-9 tot by Bulawayo geskuif.

Nou bly ek lekker hier met mispels (mélo in Tswana), stamvrug, wildevy of stamvy, verskeie ander vruggies soos keiappel en kleiner voëlvruggies en bessies maar ook suurpruim en dan die meesterkoningsvrug: wildeperske.

Wildeperske


Wildeperske gladgeëte pitte (een oopgebyt)

Lemoenvreters weet dat ’n sensitiewe tong blasies begin kry ná die vierde of vyfde lemoen. Hierdie wildeperske is so lekker geurig dat jy altyd oorskat. Jy pluk ’n paar maar na die eerste een, wat aanvanklik die heerlikste geurigste volryksuursoetsappige smaak het, word hy al suurder, seker sitroensuur of vitamin C, soos wat jy die vlees met jou tong en tande van die pit probeer afkry, byna soos ’n suurpruim, net nóg geuriger.


Oopgebreekte ryp wildeperskevrug

Teen die tyd wat jy die laaste vlees om die pit uiteindelik heeltemal glad kry, raak die suur op en kry jou tong ’n ruskansie, maar ’n sensitiewe tong soos myne het dan ’n klompie blasies.
Die binnekant van die pit is nie heeltemal so neuterig soos ’n suurpruim nie. Suurpruimpitte kan selfs neute vervang in ’n Kersfeesvrugtekoek.


Ryp, eetbare wildeperskevrug

Wildeperske was vir my, ‘n Derdepoort en Pilanesberg-bosvelder, vreemd toe ek 1983 hier in die Bronberg beland het. Hy is ‘n rankplant met taai melk in die stam, blare én vrugskil. ’n Mens moet nogal versigtig die vlesige inhoud in jou mond druk. Daardie melksap brand baie erger as ’n vy se melk


Wildeperske

Elandsboontjie
Terwyl die Bronberg-plante nou soveel aandag trek in hulle verskeidenheid, hier is een waaroor ek maar min hoort te sê, maar dit is báie sterk en gewilde toordoktermedisyne – elandsboontjie.
Elandsboontjie groei elders heelwat laer aan die grond. Selfs my toordoktermedisynekenner-pa was verbaas oor hóé geil en groot dit hier groei. Dit lyk baie soos ’n jakarandablaar maar die groot geheim is onder die grond.

Ek het al verskeie projekte in die berg aangepak waarvoor Afrika-arbeid noodsaaklik is (soos koppieklipmure en grasdakke) en het telkens agtergekom dat die werkers lekker gesels en lag as iemand “per ongeluk” een van dié plante se wortels uitgrawe.

So waar as wraggies merk ek een Vrydag iets toegedraai in koerantpapier en lap terwyl ek hulle vir die week se werk betaal. Niemand wou iets sê nie en toe rek ek die betalery maar al stadiger uit en sê ek wil eers weet wat in daardie sak toegedraai is en hóékom. Ek het geweet dis nie ’n piksteel of 16 pond hamer nie want die vorm was baie krommer en onegalig.


Elandsboontjie

Almal het gelag maar niemand wou praat nie. Uiteindelik het ou Janrasperstem ingegee. “Baas, dit is die tyd van die skool en hulle vat die marrasynemuti saam want hulle het nou elkeen ’n lat of sambok en gaan makaar die naweek slaat . . . en dan kyk die vrouens as hulle so slaat met hulle kaal lywe met net die vel (stertriem) en dan sien die vrouens watter maan hy es a regte maan.”

Die wortel is baie donker swart en het ’n blinkgladde dun velletjie om wat maklik afglip en dan is daar ’n blinkgladde donkerpers, byna swart wortel onder dié dun nerfie. Enige plaaskind wat al baie lank die donkies dopgehou het sal nou weet waarvan ek praat.

Ek het onlangs ’n platvloerse ding op TV gesien waar ’n ou se naam Vonkiedool is. Nouja, hierdie wortel trek báie meer na ’n olifant.

Bergkos en voëltjiesaad
My pa is ongelukkig nou ’n paar jaar gelede oorlede en kon voorheen al my vrae beantwoord. Hy het meer as 600 plante laat klassifiseer vir sy doktorsgraad oor toordoktermedisyne.

Verskoon tog, plantkenners, ek is eintlik ’n argitek maar met ’n wye belangstelling. Ek kan glad nie bestaan sonder die natuur om my nie. As bosveldkind grootgeword.


Voëltjiekos (grassaad). Daar is meer as 60 soorte gras in die Bronberg


Stamvrug. Hulle is gewoonlik meer oranje maar omdat hierdie een alleen aan die stam sit, is hy ekstra rooi en geuriger


Wildevy of stamvy. In die Bronberg is daar heelwat ander soorte wildevye ook, maar kyk net hoe swaar dra die takkies. Pietkluitjiekorrel, muisvoël en rooikophoutkapper is die groot vreters hiervan


Keiappel. Hy word soms verwar met lekkerbreek. Die pragtigste soetgeurige geler-as-geel blomme hou net twee dae. Dié pienk ‘blomme’ is nie blomme nie, maar die skudblare om die vrug. Die meeste vruggies het klaar afgeval


Mispel (Melo). Hy is nog nie ryp nie. Die vrug word bruin en sag as dit ryp word maar is baie gewild onder insekte en word gou gesteek en eiertjies word binne-in die vrug gelê. Die fluweelsagte, amper-grillerig-om-aan-te-vat blare is ‘n geliefde kos en broeiplek van ander insekte. Ongeskonde blare van ‘n mispel is nogal raar


Ek het vanoggend vier soorte ‘paddastoele’ of sampioene gesien. Kyk dié twee ronde balletjies. Daar is diertjies wat die goed ook vreet maar die ongevretes word ‘stuifballe’ wat heerlik is vir kinders om te skop dat die rookbolle so trek. En so versprei hulle spore vir volgende jaar se groei op ‘n ander plek

Pragtige ragfyn pienk blommetjie met peulsaad (net bo my duim) wat oopbars ook as voël- en mierkos, maar bobbejaan se kind vreet dit baie graag. Die tweede foto het net meer peule


Stinkblom. Daar is ook stinkblomme met ‘n aaklige reuk, om ook vir vlieë en aasmuggies iets te gee om oor bly te wees


Mos. Van die heel mooiste goed na oorvloedige reën, is dié mos en feetjiegrasperke die wêreld vol. Kyk net hier aan die skadukant van ‘n rots, sommer op die ou bas van ‘n lewendige boom. As jy plat op die pens lê of baie laag vooroor buk, het selfs die mos speldekopfyn blommetjies

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online