Vreethans van Heerden en Metgesel besoek kuierplekke in die Bronberg-gebied ongenooid en betaal self vir dit wat hulle geniet, of dalk nie geniet nie.
Ons hoor ‘n voëltjie fluit dat ‘n “slow food emporium” op Cullinan oopgemaak het, en sit op ‘n sonnige Saterdag af soontoe.
Dit blyk egter dat ons voëltjie effe voortydig gefluit het en dat die plek nog in wording is. Maar ons is nou hier en dis bykans aansittyd. Die probleem is dat ons bykans elke liewe kuierplek op dié mooi dorpie al beproef het en in die Bronnie daaroor gesels het.
By die koffieplek met die gepaste naam van ‘Cocopan Coffees’ in die fraaie Oaklaan, was ons wel nog nie en ons het ook nog nie ‘Rogany’s Indian Cuisine’ by die Cullinan Junction se wegneemdisse in die kies gehad nie.
Smittie, die barista, doenig met nog ‘n smaakseltjie koffie
Die koekepankoffieplek is in die voortuintjie van Cathy en Johan du Plessis se ‘Trading Post’ staangemaak en baie stylvol met die mooiste oudhede ingerig. Dit is ‘n koffiekroeg in die ware sin van die woord met ‘n rasegte ‘barista’ aan diens. ‘n Barista is ‘n Italiaanse kroegman wat hoofsaaklik warm drankies bedien. Cocopan se barista is Smittie, sy assistent se naam is Excellent en die twee se diens en die plek se koffie is ook.
Smittie het sy ‘baristapapiere’ by ‘n koffieskool verwerf. Cocopan se koffie het hy ‘ontwerp’ deur ‘n vermenging van bone ingevoer uit Brasilië, Columbia en Ethiopië. Die bone word spesiaal deur ‘n kenner gerooster.
‘n Paartjie ontspan op kunstenaar, Johan du Plessis, se besonderse bankskepping in die tuintjie
Die pitte word vir die plek se filtreerkoffie met ‘n antieke handmeuletjie deur Smittie gemaal, net voor die koffie gebrou word. Volgens Metgesel bring dit ‘n smaak na vore geskik vir ‘n koningin se koppie. Vir die ander verbuigings van die plek se boeretroos word ‘n spoggerige masjien uit Italië (hoe dan anders?) ingespan.
Jy kan by die kroeg, ‘n binnetafeltjie of op twee gemakbanke in die tuintjie plaasneem. Dit is ‘n warm dag en Smitte raak bedrywig agter sy toonbank om vir ons elk ‘n yskoffie te bou. Dis ‘n hele proses, maar dit wat voor my op die tafeltjie neergesit word is sonder enige twyfel die heel beste yskoffie wat nog oor my lippe beweeg het. Ek bestel nog een van die bestes en vir Metgesel span Smittie die handmeuletjie vir ‘n filtreerkoffie in.
‘n Berg van wortelkoek vir Metgesel en ‘n dekadente ‘peppermint crisp-tert’ te ete vir my. Die gebak word spesiaal deur ‘n vriendin van Cathy vir die Cocopan gemaak, verneem ons. Koffiekeuses is: Cappuccino, Americano, Latté (melk), Espresso, Mochachoca en filtreerkoffie. ‘n Koppie se prys wissel tussen R15 en R22 vir gewoon en ‘n effe meer vir ‘sterk.’ Warm sjokolade kos R28. Vir Engelse en siek mense het hulle tee en melkskommels en roomys om die kinders te plesier. Jy kan ‘n billike sakkie van Cocopan se koffiemengsel teen R75 aankoop om huis toe te vat. Jy kan hulle bel by 061-629-4041.
’n Baie billike porsie wortelkoek
Cathy en Johan is besig om ‘n kuierplek van meer tradisionele aard in die agtertuin van die ou sandsteenskakelhuisie in te rig. Iets om na uit te sien, stem ek en Metgesel saam.
Ons verlaat die Cocopan en verskuif tot bokant die spoor na Cullinan Junction, waar dit deesdae wemel van uitsonderlike die-moeite-werd-winkeltjies in die ou spoorwegstore en -kantore.
Een só ‘n plekkie is Rogany’s Indian Cuisine. Rogany berei haar tradisionele Indiese lekkernye staan-staan voor jou oë voor. Ons bestel vier samoesas, twee hoenderpasteitjies, twee loempias (spring roll) en twee ‘chilly bites’. Alles vir later geniet. Die totale koste van ons aankopies is R88.
Jy kan ook ‘roti rolls’, ‘bunny chow’ van bees, hoender of lam, piekels en tjilliesous by Rogany kry. Op Sondae maak sy ‘n breyani, waaroor een van Cullinan se bekende koskenners, Willie Strauss, gaande is.
Dekor teen Cocopan se sinkmuur
Ons het die naweek gebruik om langsaam aan ons Indiese kosse te smul, maar ek gaan net kortliks daaroor praat. Die samoesas is deeglik gevul, stewig en dit smaak soos dit moet. Die ‘chilly bite’ is vir my uitsonderlik lekker: Heelwat groter as wat die ‘bite’ sou sinspeel.
Duidelik met ‘n geoefende hand gekrui en gemaak, is dit iets soos ‘n vetkoek, maar met ‘n tekstuur nader aan dié van ‘n botterbroodjie. Sy ‘byt’ is meer van ‘n vriendelike knibbel en die besonderse smaak luier lank ná die laaste happie: Die ‘spring roll’ is ‘n stewige gevulde koevert met kool wat die smaakpas aangee. Maar die wenner is . . . die hemelse hoenderpasteitjie. Nie baie groot nie, maar knuppel gestop met vleis, sampioen en aartappel. Die deeg vul die binnewerke se huistoeskryfsmaak goed aan en die sinspeling van ‘n ‘byt’ rond dit perfek af.
Rogany in haar Indiese koswinkeltjie
Soos die meeste van die ‘Junction’ se winkeltjies maak Rogany net oor naweke en op vakansiedae oop, maar jy kan haar kontak vir bestellings. Sy vra dat mense haar eerder ‘whatsapp’ omdat sy effe doof is. Die nommer is 079-709-8580. |