Angie Kleijn
Presies ‘n honderd jaar gelede het ‘n vrou ‘n desperate poging aangewend om die eerste Afrikaanse grammatika-boekie die lig te laat sien om skoolkinders te help met taaleksamens. In 1917 was daar venynige aanvalle op haar – hoe kon iemand wat nie minstens ‘n doktorsgraad het nie, haar aanmatig om so iets aan te durf?
Dié vrou wat haar dit vreesloos aangematig het, het sedert 1959 alleen in ‘n bekende landmerk in Irene gewoon. Haar enigste geselskap was haar hond, genaamd Referendum, wat deur ’n joernalis as ‘n “afskuwelike, lelike en mankolieke ou brak” beskryf is.
Die landmerk is Huis Jansen en die vrou was die merkwaardige Mabel Jansen, eggenote van die goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, dr Ernest George Jansen.
Martha Mabel Jansen, gebore Pellissier, in 1953
Foto’s: Wikipedia
Huis
Huis Jansen was een van die eerste huise in Irene. Bertie van der Byl het dié huis in 1904 gebou en hom Moorhurst gedoop. Die Jansen-egpaar het die huis in 1943 gekoop. In 1961, twee jaar ná Ernest se dood, het Mabel die huis van die vroeër Victoriaanse styl na Kaaps-Hollands laat verander.
Mabel was ’n kranige versamelaar van Kaapse meubels, -erdewerk, -silwer, -skilderye en het selfs stukke uit die tyd van die VOC gehad.
Mabel se oupa aan moederskant, dominee Piet Roux
Toe sy die huis in die 1970’s aan dr Peter Lamb verkoop, het sy haar kunsversameling en haar man se versameling Africana-boeke en -dokumente aan die staat verkoop. ’n Victoriaanse huis in Strubenstraat is as museum vir die Jansen-Africanaversameling ingerig, maar vandag lê dié kunsversameling glo in kiste toegespyker by die Nasionale Kultuurhistoriese Museum (‘Northern Flagship’).
Huis Jansen is nou ’n boetiekhotel in Kingstraat 9, Irene.
Mabel se oupa aan vaderskant, eerwaarde Jean Pierre Pellissier
Gebore
Martha Mabel is op 1 November 1889 as ‘n nooi Pellissier in Bethulie in die Vrystaat gebore. Sy was ’n dogter van Samuel Henri Pellissier en Josephine Elise Johanna, gebore Roux.
Aan haar pa se kant was sy ‘n kleindogter van eerwaarde Jean Pellissier, ’n Franse sendeling wat in 1831 in die land aangekom het om die sendingstasie op Bethulie oor te neem. Aan haar ma se kant was sy ‘n kleindogter van dominee Piet Roux, grondlegger van die NG gemeente Smithfield en die eerste konsulent van Bethulie se NG gemeente.
Samuel Henri Pellissier, middel voor, saam met kinders en skoonkinders. Agter van links na regs: George Murray Pellissier; Martha Mabel Jansen; Ernst George Jansen; Carl Roux Pellissier; Josephine Elise Hugo; Victor Hugo; en Samuel Henri Pellissier. Links voor is Cornelia van Zyl. Dit is nie duidelik wie regs voor sit nie
Foto: WikiTree
Mabel het matriek aan die Hoër Meisieskool in die Paarl geskryf en eerste in die seniorsertifikaateksamen in die hele land gestaan. Sy het haar MA graad met Grieks en Latyn as hoofvakke aan die Hugenote-kollege op Wellington verwerf.
Ná ’n jaar as onderwyseres is Mabel as dosent aan die opleidingskollege in die oorwegend Engelssprekende Pietermaritzburg aangestel. Dit is daar waar sy haar toekomstige man, Ernest, ontmoet het. Hy het in 1906 as prokureur in Pietermaritzburg begin praktiseer en is later as advokaat tot die balie toegelaat.
Huis Jansen in Irene
Trou
Mabel en Ernest is in 1912 getroud. Net een kind is uit hulle huwelik gebore, Erns Louis Jansen, wat ’n Transvaalse regter en later appèlregter geword het.
Twee jaar ná hulle troue was Mabel en Ernest betrokke by die stigting van De Organisatie van Hollandse Taalvrienden. Ernest was prominent in die Afrikaanse kultuur-historiese verenigingslewe van dié Engelse provinsie, Natal.
Mabel en Ernest in 1953
Mabel het in 1914 met die historiese melodrama, ‘Afrikaner harte’, gedebuteer. In 1915 het ‘Die Burger’ met prosa- en digkunskompetisies begin en Mabel was onder die eerste pryswenners.
Sy het van 1917 tot 1929 baanbrekerswerk in Afrikaans in Natal gedoen en het gesê: “Die taal moet groei soos ’n patatrank en die hele Suid-Afrika oorrank.”
Klein Erns op Mabel se skoot
As bestuurslid van die Saamwerk-Unie van Natal het sy gesorg dat daar met Afrikaanse taaleksamens begin is. Vanaf 1920 is dit as die Taalbondeksamens afgelê. Daar was egter geen Afrikaanse grammatika-boeke nie en Mabel het in 1917 saam met CM Booysen die eerste boek, wat soveel venynige kritiek uitgelok het, opgestel.
Met die Rapportryers se opmars om die Voortrekkermonument in te wy, onthul Mabel ’n monument op Wolmaransstad
Pers
Die Nasionale Pers het ‘De Afrikaner’ in 1918 oorgeneem en Ernest het in 1919 redakteur geword, terwyl hy as advokaat bly praktiseer het. Ná nege maande het Ernest bedank. Hy was in daardie stadium die Nasionale Party se Natalse leier, terwyl hy aanhou skryf het aan die Voortrekkers se geskiedenis in Natal.
In 1919 het Nasionale Pers hulle eerste gespesialiseerde tydskrif, ‘Landbouweekblad’, begin en Mabel het die vroueafdeling, eers as ‘Huisvrou’ en later as ‘Huisblad’ bekend, behartig. Behalwe vir haar skryfwerk het sy ook ‘n rubriek onder die skuilnaam ‘Marta’ geskryf.
Mabel se bundel sosiaal-realistiese verhale, ‘Die veldblommetjie’, het ook in 1919 verskyn. Onder die skuilnaam ‘Martha’ het sy in 1923 die kindertoneelstuk, ‘Die onnut’, gepubliseer.
Ernest en Mabel as goewerneur-generaalspaar in 1951
Kultuur
In 1920 het Mabel die eerste vroulike lid van die Akademie vir Taal, Lettere en Kuns, die latere Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, geword. Sy het in die bestuur van die Kruger-komitee, die Unievlagkomitee en die Argiefkomitee gedien en was ook lid van die Handhawersbond. Met die stigting van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge in 1929 het sy die eerste vroulike lid van die uitvoerende komitee geword.
In 1931, by die Voortrekker-beweging se stigtingskongres, is sy as provinsiale leier vir Natal verkies. Op 11 Julie 1974 het die FAK die Erepenning vir Volksdiens aan haar toegeken.
Mabel was ook sekretaresse van die Christelike Vrouevereniging van Natal, Sondagskoolonderwyseres, kerkorrelis en het opheffingswerk op onderwys- en welsyngebied onder spoorwegwerkers gedoen.
Lede van die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge se eerste uitvoerende komitee, van links na regs: Mabel Jansen; IM Lombard; dr NJ van der Merwe; LJ Erasmus; prof TJ Hugo; en prof EC Pienaar
Politiek
Vroue het eers in 1930 stemreg gekry en voor dit het Mabel die Natalse vroue georganiseer
en is tot die provinsiale voorsitter van die Nasionale Vroue-party benoem. In 1933 is sy as onderleier van die Nasionale Party (NP) in Natal gekies en het ook in die Federale Raad gedien.
Ná die NP, onder leiding van generaal JBM Hertzog, met die Suid-Afrikaanse Party saamgesmelt het as die Verenigde Party (VP), het Mabel ’n leidende rol in die heropbou van die NP in Transvaal gespeel. Sy was lid van die sogenaamde driemanskap saam met advokaat JG Strijdom en professor CJH de Wet.
Dié amateurtoneelspelers voer Mabel se toneelstuk, ‘Afrikaner Harte’, op
Mabel se politieke loopbaan het vir vonke in haar huis gesorg. Sy het deurgaans lid van die NP gebly terwyl Ernest vanaf die NP na die VP oorgeskuif het en eers in 1939 uit die VP bedank het om weer by die NP aan te sluit.
Terwyl Ernest nog ‘n volksraadslid van die VP was, het Mabel in 1936 betrokke geraak by die stigting van die Voortrekkerpers in Johannesburg en sy dagblad, ‘Die Transvaler’, ‘n koerant wat juis die VP se mag in Transvaal moes help breek.
Mabel se sosiaal-realistiese verhale, ‘Sommerso’ en ‘Erfenis’, is in 1940 gepubliseer en in 1942 volg ‘Vrugte-heerlikheid: meer as duisend maniere om Suid-Afrikaanse vrugte voor te berei’.
Mabel Jansen se grafsteen
Ernest
Ernest was die agtste goewerneur-generaal van Suid-Afrika van 1 Januarie 1951 tot sy sterfte in die ouderdom van 78 jaar op 25 November 1959. Hy was die derde Afrikaanssprekende in dié amp en die voorlaaste goewerneur-generaal voor Republiekwording.
Ná Ernest se dood het Mabel tot die 1970’s alleen, en later saam met haar hond Referendum, in Huis Jansen in Irene gewoon. Mabel het dié huis later verkoop en in ‘n gewelhuis in Dougallstraat bo teen Muckleneukberg ingetrek.
Die Saamwerkunie het in Julie 1959 ʼn goue penning aan Mabel en Ernest toegeken as huldeblyk vir die kultuurwerk wat hulle in Natal gedoen het. Mabel is in 1969 as erelid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies.
‘Afrikaner Harte’
In 1974 het sy die Erepenning vir Volksdiens van die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings ontvang.
In 1975, op haar 86ste verjaardag, het eerste minister John Vorster ‘n huldeblyk aan haar gelewer. In 1976 het sy ook die Dekorasie vir Voortreflike Diens by staatspresident Nic Diederichs ontvang.
Mabel is op 8 Januarie 1979 in die ouderdom van 89 jaar oorlede. Sy is op 12 Januarie 1979 in die helde-akker van die Verwoerdburg-begraafplaas begrawe en dié dag het al die vlae in Kaapstad en Pretoria halfmas gehang.
Mabel op ’n gevorderde leeftyd
|