‘n Gids vir rugbykyk-kenners PDF Print E-mail
News - Ou Poon se plotpraatjies
Tuesday, 31 January 2017 20:15
Untitled Document

Op 23 Februarie begin die Soeper-rakbie weer en hy is nou al so honger vir goeie rakbie dat hy sy lus amper nie meer kan hou nie, sê Groot Piet-in-die-hoek.

Ja, sê Gert Mossie, hy sien self kwaai daarna uit. In die droë seisoen wat amper verby is, het hy darem ‘n bietjie gewerk aan sy rugbykykfiksheid en so af en toe na die Europese rugby gekyk.

Gelukkig speel so baie Suid-Afrikaners nou oorsee, dat dit amper voel soos die Curriebeker as ou Jake White se Afri-Franse Montpellier teen Saracens speel, sê Gert.

Hy het ook vanjaar voorsorg getref wat die belangrike kuns van rugbykyk vir hom en ander ernstige rugbykykers veel aangenamer kan maak. Vroue verstaan mos nie rugby of rugbykyk nie, sê Gert Mossie. En sonder dat hulle enige kwade bedoelings mag hê, kan hulle ‘n goeie wedstryd vir jou heeltemal verongeluk. Daarom het hy ‘n gids saamgestel wat hy vir sy wederhelfte sal gee as sy weer in ‘n vriendelike luim is en wat hy graag, ter wille van die volhoubaarheid van die rygbykyksport met almal deel:

1.      As die ou voor die kassie telkens net sy hand, wat nie die dop vashou nie, opsteek en ‘weetnie’ of ‘mmmm’ mompel as jy dieselfde vraag ‘n aantal kere gevra het, beteken dit: - “Janee, maakniesaaknie, dis reg – doen wat jy wil, loop net en bring sommer beesbiltong met geelvet saam as jy terugkom.”
2.       Onthou, hulle speel Soeperrugby op Vrydagaande. Reël vroegtydig met jou buurvrou wat op haar man se kop sit, om saam met haar 7e Laan te loop kyk.
3.      Los die huis tot ná die wedstryd. Hy gaan nêrens heen nie en jy kan later of more ook skoonmaak.
4.      Skuif die meubels voor die wedstryd, sodat dit nie nodig is om tussen die TV en die rugbykenner heen-en-weer te loop nie.
5.      Rustyd en die tyd tussen wedstryde is bedoel vir die rugbykyker om die badkamer te gebruik. Maak asseblief seker dat jy nie die gemakplekkie in daardie tye beset nie. Teen die yskas in die kombuis is ‘n rooster wat die tye aandui.
6.      As die rugbykenner besig is met sy allerbelangrike taak is dit nie die regte tyd om onbenullige vrae soos, ‘moet daar water van die plafon af drup?’ of ‘hoekom kom daar vlamme uit die Ford se enjinkap?’ te vra nie. Los dit tot ná al drie wedstryde verby is.
7.      Nee, jou ma kan nie kom kuier as die rugby aan die gang is nie, maar jy is welkom om vir haar te gaan kuier.
8.      Moet asseblief nie die telefoon in die TV-kamer probeer antwoord of op hom bel in rugbykyktyd nie. Hy is uitgeprop. Jy kan die een in die slaapkamer antwoord, maar ook net as dit ‘n noodgeval is en onthou asseblief om in ‘n lae stemtoon te praat.
Baie dankie by voorbaat vir jou verstaan en jou samewerking.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online