Wat is jou regte met vlambare Ford PDF Print E-mail
News - Rubrieke
Tuesday, 31 January 2017 20:15
Untitled Document

Evert van Eeden is ’n prokureur wat in kommersiële reg en kontrakte spesialiseer by Van Eeden Rabie Ingelyf.


Evert van Eeden

Ford en die Nasionale Verbruikerskommissie het in Januarie aangekondig dat Ford 4 566 Kugas aan die mark gaan onttrek.

Ernstige en omvangryke produkgebreke kom al vir baie jare in Suid-Afrika voor en onttrekkings van produkte aan die mark, dikwels in die geheim, is ‘n redelik algemene verskynsel. Die onlangse nuus oor brandgevaar in die Ford Kuga reeks produkte het dié kwessie opnuut onder die openbare aandag gebring.

Volgens persberigte was die vervaardiger vir ‘n jaar of selfs langer bewus van die herhalende voorkoms van brande wat skynbaar in die enjinkompartement van die voertuig voorgekom het – 39 voorvalle is aan Ford gerapporteer.

Daar was moontlik ook verdere ongerapporteerde insidente. Volgens die pers het minstens een eienaar van ‘n Kuga gesterf toe hy nie uit die brandende voertuig kon ontsnap nie. Die Nasionale Verbruikerskommissie het in Desember 2016 betrokke geraak om die probleem te help hanteer.

Dié Kommissie het reeds in Junie 2012 riglyne vir produk-onttrekkingsprosesse beskikbaar gestel. Alhoewel dié riglyne nie direk afdwingbaar is nie maak dit nietemin sin vir vervaardigers om die riglyne op ‘n vrywillige basis nougeset na te kom en om produkonttrekking in oorleg met die Kommissie aan te pak.


’n Ford Kuga in ligte laaie

Die oogmerk van ‘n gestruktureerde produkonttrekkingsproses moet onder andere die spoedeisende onttrekking van defektiewe produkte aan die mark bewerkstellig sodat verdere beserings en sterftes voorkom kan word. Die Kommissie se riglyne stel dit dan ook onomwonde dat dit die Kommissie se primêre oogmerk is om toe te sien dat enige onveilige produk doeltreffend uit die mark en uit verbruikers se hande verwyder word.

Die konsekwensies van die Kuga sage sal nog lank deur verbruikers wat onder die voertuig se defekte deurgeloop het ervaar word, en die regsgevolge vir die vervaardiger sal nog vir ‘n geruime tyd in die howe weerklank vind en ernstige finansiële gevolge vir die maatskappy inhou.

Dat werknemers wat slagoffers van industriële prosesse is, soos “beserings aan diens”, in ‘n gemeenskap met beskaafde waardes geregtig behoort te wees op een of ander vorm van kompensasie word taamlik algemeen aanvaar en daar is ook wetgewing in hierdie verband in Suid-Afrika.

Dat kopers of gebruikers van produkte wat van die fabriek afkomstig is ook geregtig behoort te wees op kompensasie is ‘n gedagte wat vir baie lank met agterdog bejeën is en vandag nog nie alom aanvaar word nie. In terme van artikel 61 van die Wet op Verbruikersbeskerming (2008) word daar wel aanspreeklikheid geplaas op vervaardigers vir skade of besering deur produkdefekte veroorsaak.

Volgens artikel 61 hoef die eiser nie te bewys dat die vervaardiger of invoerder nalatig was ten opsigte van die defek nie. Dit was voor die inwerkingtreding van artikel 61 veral moeilik vir die buitestaander om nalatigheid te bewys aangesien hy ook nie toegang gehad het tot inligting oor gebeure binne die fabriek nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online