Qumi-huis boer vooruit met eie plot PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 31 January 2017 20:15
Untitled Document

Qumi-huis kon ná jare uiteindelik ‘n plot koop. ‘n Ouer leen vir dié tehuis vir intellektueel gestremdes in Rayton die geld en hulle betaal dit oor ses en ‘n half jaar teen R20 000 per maand af. Die huur van drie ander persele gaan in die paaiement in.

Linda Krause, uitvoerende hoof en medestigter van Qumi, sê: “Ons kan 20 mense hier huisves en ons wil graag ’n doelgeboude werkswinkel vir die intellektueel-gestremdes se dagprogramme ook hier oprig.”


Linda Krause

“Nou kan ons uiteindelik ontwikkel soos wat ons nodig het met toeganklike geboue, wandelareas, ’n klein sportterrein, tuintonnels en vrugtebome en wie weet, dalk nog ’n bees of vyf vir eie melkvoorsiening. Die moontlikhede is talryk.”

Die publiek kan nou op soveel kreatiewe maniere by Qumi-huis betrokke raak, want daar
is baie projekte wat op die nuwe plot aangepak kan word.


Inwoners by ‘n sportdag

Stig
Qumi-huis het in 2007 as ‘n plaaslike inisiatief tot stand gekom. Die Departement van Gesondheid se transformasiebeleid bepaal dat mense met spesiale behoeftes in hulle eie gemeenskap deur die gemeenskap versorg moet word. Toe dié beleid in 2007 inskop moes ‘n nuwe huis vir inwoners van die destydse Cullinan-sorg-en-rehabilitasiesentrum gesoek word.

Linda Krause, uitvoerende hoof en medestigter van Qumi, was destyds ‘n arbeidsterapeut by die Cullinan-sentrum en is gevra om ‘n dagsorgsentrum vir intellektueel gestremdes in die omgewing op die been te bring.

Linda het haar kollega, Marie Pretorius, ‘n senior verpleegster, gevra om haar te help. Kort daarna het Chris Krause en Lukas Jacobs, ‘n ouer van ‘n seun met serebrale gestremdheid, by Linda en Marie aangesluit.


Inwoners op ‘n uitstappie

Marie het dadelik ‘n bankrekening oopgemaak en na skenkings begin soek. In Mei 2007 is ‘n stigtingsvergadering gehou en Qumi-huis is as ‘n instelling soortgelyk aan kerk-gemeentes daargestel.

Binne ‘n paar weke is ‘n borg vir die huur van die eerste huis gevind en teen die begin van Augustus 2007 het die eerste inwoners ingetrek. Die bestuurslede het aanvanklik beurte gemaak om as huismoeders en -vaders op te tree.

Danksy skenkings kon Qumi ‘n ruk later ‘n huis koop en twee ander huise en ‘n plot buite Rayton huur.


Aktiwiteite word gereeld vir inwoners aangebied

Vandag
Qumi versorg deesdae 70 intellektueel-gestremdes. Inwoners en dagbesoekers, wat by hulle ouers in die omgewing woon, neem deel aan ‘n program waar hulle handewerk en herwinning doen.

Hulle het ’n lekker lewendige Facebook-blad wat deur Willem Breedt, ’n ywerige vrywilliger, op datum gehou word. Lesers kan gerus daar na die huis se aktiwiteite gaan kyk.


Inwoners in Desember verlede jaar

Ná nege en ‘n half jaar by Qumi gaan Linda die einde van Februarie aftree. “Ek hou nog so ’n takie of twee vir myself, maar dis nou tyd dat daar jonger en meer moderne bloed in die organisasie inkom,” sê sy. “So, as julle weet van iemand wat lus is vir lekker werk, laat hulle tog aansoek doen.”

Qumi sou nie kon oorleef as dit nie vir die gemeenskap se bydraes van toiletware, skoonmaakmiddels, klere, kos, beddegoed en meubels was nie. Vir skenkings en navrae oor die pos as uitvoerende hoof, skakel 012-734-5242 of stuur ‘n e-pos na This e-mail address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it .

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online