Sweepklap, sakresies en toutrek om nuwe jaar te vier PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Tuesday, 31 January 2017 20:15
Untitled Document

Caroline Griessel

Mense het die nuwe jaar soos hulle voorsate ingegaan met die tradisionele Nuwejaarsfees by die Pioniershuis in Silverton. Omdat 1 Januarie ‘n Sondag was, is die fees op die vakansiedag,
2 Januarie gehou.


Oud en jonk het die bloedige son getrotseer om deel te neem

Uitstallers het reeds vanaf half ses die oggend begin aankom om kraampies op te slaan en moes behoorlik bontstaan om die publiek, wat van half agt begin opdaag het, te bedien. Besoekers is deur die pienk roomyskaravaan verwelkom, asook kraampies met ‘n verskeidenheid koffies en cappuccinos, pannekoek, pap en kaiings, aartappels in spirale en skyfies wat saam met hamburgers, geroosterde broodjies en pizzas bedien is.


Karine Bischoff van Handhawer Jeug organiseer die jong klomp

Daar was ook lekkernye soos ‘fudge’, klapperys, tuisgebakte beskuit en interessante vrugtesap met borrels in, waar mense die heeldag tou gestaan het vir dié verfrissende drankies.

By die 1848 Pioniershuis het gidse in periodedrag uit die 1840’s ‘n lewendige toneel geskep en die publiek ‘n kans gegee om by die huisie, wat verlede jaar gerestoureer is, in te loer.


Nie alle sakspronge was ewe suksesvol nie

Huisie
Die Pioniershuis is teen die Moreletaspruit in Keuningstraat, langs die ou Pretoria-Bronkhorstspruitpad. Die eenvoudige witgekalkte grasdakhuisie is in die eerste jare ná die Voortrekkers hulle in Transvaal kom vestig het, gebou.


Die ganse het ewe luiters voortgewei

Dié ou huisie is een van die weinige oorblyfsels van huisbou uit ’n vervloë tyd in ons omgewing. Hy is ongeveer sewe jaar voor Pretoria in 1855 tot stand gekom het, deur David Adolf Machiel Botha op sy plaas Hartebeestpoort gebou. David was die vyfde seun van Johannes Petrus Botha, ’n burger van Swellendam.


Handhawer Jeug het die boeresport by die Pioniersmuseum aangebied

Besoekers kon ook na die waenhuis en ‘n gemeubileerde oornagkamer uit die 1870’s kyk. In die 1870’s het die plaas aan ’n Duitser, Hans Heinrich Mund, behoort. Mund het voordeel getrek uit die verkeer ná die ontdekking van goud in die Barberton-omgewing.


Karine Bischoff motiveer die toutrekspanne

Hartebeestpoort, ongeveer ’n dagreis uit Pretoria, was ’n gerieflike oornagplek vir reisigers, wat slaapplek in die buitekamers kon kry en hulle waens en diere hier kon laat versorg. Hans het ook ’n kontrak gehad om vars perde aan George Heys se poskoetsdiens te verskaf.


Die sakresies

Sport
By die Nuwejaarsfees was ATKV Jakaranda en Aksie-en-Woordvreugde behulpsaam by die toegang, kompetisie-inskrywings, die aanbied van spesifieke sportitems sowel as die sny en verkoop van vars gebakte bakoondbrood.

Die Handhawers het boeresport aangebied soos sakresies, toutrek en ballongooi – ‘n moderne weergawe van eiergooi, maar omdat ons nie met kos wil mors nie gebruik ons ballonne gevul met water.


Lede van ATKV Jakaranda-tak

Boerbrode in die buite-bakoond

Soos met vorige Nuwejaarsfeeste was Grobbie weer op sy pos met ‘n groot verskeidenheid musiek en pittige aankondigings.

Na ete was dit tyd vir die sweepklapkompetisie waaraan oud en jonk deelgeneem het. ‘n Baie mooi demonstrasie, wat help om dié tradisie aan die gang te hou, is deur ‘n 14-jarige seun gelewer. Daar was ook vrouens wat die ore laat tuit het met die klap van hulle swepe.


“Dis hoe ons mense ‘n plek agterlaat,” sê Caroline van die Pioniershuis

Snye vars bakoondbrood is by dié kraampie met botter en konfyt bedien

Oom Frik Ackermann, wat op 16 Desember 88 jaar oud geword het, kon ongelukkig weens gesondheidsprobleme nie dié jaar die Nuwejaarsfees bywoon nie en ons het hom regtig gemis.

 

 

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online