Ouers span saam om gashere te fnuik PDF Print E-mail
News - Ons Omgewing
Tuesday, 31 January 2017 20:15
Untitled Document

Mense sê dis moeilik om die bontnuwejaarsvoël te eien omdat daar twee soorte is wat suidelike Afrika besoek. Die ligte vorm (of morf) kom meestal in ons kontrei voor en die donker morf meestal aan die kus.

Die donker morf van die voël lyk baie na die swartkoekoek, maar kan onderskei word aan sy merkbare kuif en wit vlekke aan primêre vere, wat van onder en bo sigbaar is.

Die ligte morf lyk weer kompleet soos die gestreepte nuwejaarsvoël, maar sy borskant is net wit, sonder strepe aan die bors en keel.

Die jong bontnuwejaarsvoël se rugkant is bruiner. Die ligte morf van jong voëls se borskant is roomgrys, waar die donker morf ‘n dowwe swart borskant het.

Om dinge meer te kompliseer is die bontnuwejaarsvoël se roep ononderskeibaar van die begin van die gestreepte nuwejaarsvoël se roep. Die gestreepte nuwejaarsvoël se roep het egter ‘n dalende toonhoogte.


Die bontnuwejaarsvoël se voorkant


’n Bontnuwejaarsvoël met ’n wurm

Die bontnuwejaarsvoël, Oxylophus jacobinus, is 33–34 cm lank en weeg 70–92 gram. Hy word meestal gesien as hy rondvlieg of op ‘n oop tak sit en kom in ‘n verskeidenheid bostipes voor, van doringveld en oop proteaveld in berge, tot oop bosveld.

Dié voëls is somerbesoekers wat vanaf Oktober tot April in suidelike Afrika is. Hulle trek vanaf Noord-Afrika en Suid-Asië waar hulle oorwinter. Hulle broei in suidelike Afrika en die broeityd piek van November tot Januarie.

Die bontnuwejaarsvoël is ‘n broeiparasiet en gebruik meestal tiptolle en die fiskaallaksman as broeigashere. Die mannetjie en wyfie werk saam om gashere te fnuik. Die mannetjie gaan sit gewoonlik iewers naby aan die gasheernessie en begin hard roep om die gashere se aandag van die wyfie af te trek. Sy lê dan blitsvinnig haar eier in die nes, sonder om die gashere se eie eiers te beskadig.

‘n Wyfie lê een eier per gasheernessie en lê omtrent 25 eiers in ’n enkele broeiseisoen. Die kuiken broei na 11 tot 13 dae uit en bly vir ongeveer 17 dae in die nes. Kuikens leer gou daarna vlieg en is heeltemal onafhanklik as hulle omtrent 33 dae oud is.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online