Ontmoet Shere se Oom Hoffie, ’n 95-jarige wat
steeds daagliks skilder. Hy vertel van sy sewe
jaar in ’n interneringskamp in die Tweede
Wêreldoorlog, gaan haal vir ons die viool wat hy
met ’n knipmes van ’n stuk tafel in dié kamp
gemaak het, en wys ons hoe ons kontrei in die
vroeë sestiger jare gelyk het toe hy een van die
eerste huise in Shere met sy eie hande gebou
het.
 Georg Hofmann as jong man
Georg Hofmann is een van
daardie rare mense wat
bykans alles kan doen. Hy was’n skeikundige van beroep wat nie
net viool kon speel nie, maar ook sy
eie viole gemaak het; verskeie
blaasinstrumente bespeel het, landskappe,
stillewes en portrette ewe
goed kan skilder, en sy huis
eiehandig gebou het.
Op die ouderdom van 95 jaar woon
hy steeds in Shere, op dieselfde
kleinhoewe waar hy van 1960 tot
1963 een van die eerste huise in dié
kaal, oop wêreld gebou het. Hy kyk
terug op ’n lewe wat in Duitsland
begin het, ’n draai gemaak het by
Tsumeb se myne waar hy in die
Tweede Wêreldoorlog aangekeer is
en sewe jaar in ’n interneringskamp
gevange gehou is.
 Oom Hoffie se skildery van die sinkhuisie wat hy met vyf ander gevangenis gedeel het
Oom Hoffie was vir die ses jaar van
1940 tot 1946 in ’n kamp by Andalusië,
nou bekend as Jan Kempdorp,
in die Noord-Kaap en daarna vir nog ’n jaar in Baviaanspoort. Twintig van
die 2 000 mense wat saam met hom
opgesluit was, het in dié tyd selfmoord
gepleeg.
“Jy kon vir sewe jaar niks doen nie,
of jy kon jouself probeer besig hou,”
sê hy.
Kies
Oom Hoffie het gekies om te lewe.
So veel en so voluit as wat hy kon.
Hy het in die kamp se blaas- en simfonie-
orkes gespeel en begin skilder.
Verf en papier het hy gekoop met
die Sjieling wat die gevangenes elke
dag by ’n betaalmeester gekry het.
En dit is dié betaalmeester se tafel
wat die geboorte van drie nuwe
viole vir die kamp-orkes tot gevolg
gehad het.
 Die interneringskamp se
blaasorkes
Eintlik was dit maar net ’n swaar
houtblad op metaalbene, sê oom
Hoffie. Dié is elke dag weggeneem
sodra die uitbetalings klaar gedoen
is. Een middag vergeet die betaalmeester
egter sy tafel in die kamp
en daardie nag het Oom Hoffie ’n
deel van die hout afgesaag. Oor die
loop van tyd het hy drie viole met ’n
knipmes uit dié hout gemaak. Hy
het nie skuurpapier gehad nie, en
moes die hout glad skaaf met
glasstukke.
Hy het twee van die viole in die
kamp verkoop, en die derde een is
nou nog in sy besit. Oom Hoffie het
hom nog tot onlangs bespeel, maar
moes ophou nadat sy sleutelbeen
gebreek is. Vandag is dié spesiale
viool toegedraai in ’n lappie en lê neffens die boek vol skilderytjies
wat Oom Hoffie van die interneringskamp
se ‘kaias’ gemaak het. Hy
sê dat dit daar is waar hy vir die
eerste keer regtig tyd gehad het om
homself te leer hoe om te skilder.

Die interneringskamp by Jan Kempdorp
. |

Oom Hoffie met die viool wat hy in
die kamp gemaak het |
Drukpers
Die rye der rye sinkhuisies wat Oom
Hoffie geskilder het was onuithoudbaar
warm in die somer en vriesend
koud in die winter. Aanvanklik is
hulle toegelaat om tuin te maak
rondom die huisies, maar dit is stopgesit
nadat die gevangenes begin
mampoer stook het.
Dié is nie die enigste plannetjies wat
geprakseer is nie. Die lede van die
simfonie-orkes het ’n boek van selfgemaakte
liedere gedruk op ’n drukpers
wat hul self gemaak het. Die
letters is met knipmesse uit bene
gekerf en die ink oor sementblokke
gegooi. Dit is alles in die geheim
snags onder hulle beddens gedoen.
Die kamplede het ook agtergekom
dat die hope gruisklippers wat uitgegrou
is toe die ‘long drop’ toilette
gebou is, baie semi-edelgesteentes
bevat het. Hulle het die gesteentes
geslyp en begin juwele maak. Oom
Hoffie spot dat dié waarskynlik die
enigste toilette op aarde is wat op
edelgesteentes gebou is.
Daar was so baie onderwysers en
professore in die kamp, dat hulle ’n
skool begin het waar ’n mens jou
Duitse matriek kon maak. Jy kon
onder andere 24 nuwe tale aanleer,
van Italiaans tot Afrika-tale en selfs
Sjinees.
Intussen moes Oom Hoffie se vrou,
Berta-Emma, agterbly in die
destydse Suid-Wes, waar hy as
skeikundige by die Tsumeb-myn
aangekeer is omdat hy ’n Duitser
was en interneringskamp toe
gestuur is. Sy dogter Bärbel het
hom vir die eerste keer ontmoet toe
sy ses jaar oud was. Sy sê dat daar
altyd ’n portret van ’n vreemde man
in die huis gehang het en dat haar
ma gesê het dit is haar pa.
Berta-Emma het haar man een keer
by Baviaanspoort se gevangenisterrein
besoek, maar dit was vir haar so
erg om hom só te sien, dat sy dit nie
weer kon doen nie.

So het Shere in 1960 gelyk. ’n Mens kyk van die Bronberg se kant af in Tygervallei se rigting. Tygerpoort Laerskool se sportgronde is vandag ’n
entjie verder oos van dié rondawel. |

Die huis is van 1960 tot 1963 gebou
.
.
. |
Oopte
Oom Hoffie is na die oorlog as
skeikundige terug myne toe, verder
op in Afrika. Van 1956 was hy by ’n
kopermyn buite in die natuur en toe
hy in Pretoria beland, waar hy vir die
Buro vir Standaarde gewerk het,
kon hy nie daaraan dink om in die
stad te bly nie. En so het die soektog
na ’n klein lappie grond buite
Pretoria begin.
Pretoria het toentertyd omtrent by
Hatfield opgehou. Bärbel sê dat sy
toe in matriek was en eintlik moes
studeer, maar dat sy orals saam met
haar pa deur die hoewegebiede
rondgery het tot hulle plot 39 in
Shere ver buite die stad gekry het.
Teen dié tyd was hulle vier kinders:
Bärbel, Friedel, Gitte en Georg.
Die wêreld was oop en kaal.
Blykbaar was dit nog deel van die
eiendomsagent se werk om van die
plakkers, wat die hele Shere vol
gebly het, ontslae te raak. Dié
plakkers het alle bome in die gebied
uitgeroei vir vuurmaakhout. Dit is
eers later dat die Hofmann gesin in
groot verwondering gesien het hoe ’n stamvrugboom voor hulle huis
aan die voet van die Bronberg
opkom.

Oom Hoffie bou self die huis met Friedel wat hand gee
. |

Die voltooide Hofmann-huis met die Bronberg regs in ongeveer 1963 |

Die Hofmann-huis vandag
. .
.
|
Mense
Toe hy begin bou het, het daar bykans
geen mense gebly nie, sê oom
Hoffie. Hy onthou die Van der
Walts, wat boekuitgewers was, en
later die Pretoriusse. Vandag is daar
omtrent net drie gesinne oor wat hy
van lankal af onthou; die res is almal
weg of dood.
Oom Hoffie het sy huis van 1960 tot
1963 gebou. Eers het hy die pomphuis,
toe ’n dam, ’n rondawel en
daarna die kliphuis gebou. Hy kon
net naweke daaraan werk en het
maar gebou soos wat geld beskikbaar
was vir boumateriaal. Groot
dele van dié huis is met klip gebou
wat deel van ’n vervalle ou beeskraal
op die plot was.
Daar was verskriklik baie kobras,
ook groot brulpaddas, ’n aardvark,’n verskeidenheid bokkies en ’n
bruin hiëna.
Later was die Hofmanns se naaste
winkel en ook hul poskantoor by
Alkantrant. Oom Hoffie onthou nie
eintlik die winkels nie; sy vrou het
altyd die aankope gedoen. Sy is 14
jaar gelede oorlede en Oom Hoffie
bly in ’n oupa-huisie wat langs sy
oorspronklike huis vir hom gebou is.
Sy seun Friedel en skoondogter
Monika woon in die hoofhuis.

Oom Hoffie met sy boek
Lang lewe
Dit is in dié oupa-huisie waar Oom
Hoffie se ateljee is, sy skilderye teen
die mure pronk, sy boekrakke vol
foto-albums lê en ook ’n ongewone
boek pronk – “Skizze eines lange
Lebens” (sketse uit ’n lang lewe)
deur Georg Hofmann.
“My pa het die boek
gepraat, en ek het dit met
twee vingers getik,” sê
Bärbel. Die boek strek van
sy grootwordjare in Neurenberg,
Duitsland, dek ook sy
staptoere deur Italië, en vertel
van nog ’n stokperdjie –
hy is elke vakansie met bote
uit op die see, selfs Marioneiland
toe, om watertoetsing
te doen.
Op die boek se omslag is
een van Oom Hoffie se vele
pensketse van bome. “Deesdae
skilder ek maar meestal
blomme omdat ek nie meer
so baie uitkom nie,” sê hy.
Op die tafel in sy ateljee
staan daar juis ’n vaas
sonneblomme en ’n bykans
voltooide skildery daarvan.
Bärbel sê dat sy dié blomme
knap die vorige dag gebring
het.
Is dit skilder wat oom so lank laat
lewe, vra ons. “Dis pyprook,” spot
hy. “Nee, sê tog vir die mense dis
ook danksy hard werk en ’n
vertroue in God.”
Die kombinasie van so ’n vertroue
en inspring-en-doen benadering het
oom Hoffie en sy pyp dwarsdeur ’n
interneringskamp en anderkant uit
sonder om ooit die vonkel in sy oog
te verloor. Dit is vandag nog daar;
kaats terug in sy glasstuk-blinkgeskaafde
viool en skyn uit die hartjie
van elke blom op sy verfdoek.
 Oom Hoffie in sy Shere ateljee
|