Lesers onthou spesiale vakansies uit kindertyd PDF Print E-mail
News - Ons Mense
Monday, 12 December 2016 13:38
Untitled Document

Watter is die eerste somervakansie(s) wat jy uit jou kinderdae, jeugjare onthou, of wat as spesiaal vir jou uitstaan? Dit is die vraag wat ons op die vooraand van die lang somervakansie aan ‘n aantal Bronbergers gevra het. Hulle deel hulle nostalgie hier met ons.

Hennie Malan van Rayton dink terug aan sy kindertydse vakansie op sy Oupa Jan se plaas naby Middelburg. In Hennie se eie woorde:

Kan jy jou indink? Vrydag sluit die skool en wanneer jy om die hoek kom op pad huis toe staan daar ’n swart kar voor die deur. Soos ek nader kom herken ek Oupa Jan se Willis. Opgewonde storm ek die huis in, maar is teleurgesteld, want Oupa is nie daar nie – maar nie vir lank nie. Oupa het vir Daught gestuur om my te kom haal vir die vakansie. Nou kan ek nie wag dat ons ry en op die plaas kom nie.
Op die plaas is baie vrugte reeds bekwaam en word ek as eregas deur oupa in die boord ingelei om te eet en geniet na hartelus.


Hennie Malan

Een middag rus oupa en dis toe my kans om weg te glip na die pan in die agterste kamp. Daar speel ek en my swart maatjie tog te lekker en geniet al die watervoëls se manewales om hulle nes en kleintjies te beskerm. Maar o wee, die geplas in die panwater om af te koel was so lekker dat ons nie bewus was van die tyd wat aanstap nie en toe ons weer sien is oupa op ons. Ag, julle weet seker almal wat toe gevolg het.

Neef Piet sluit later by ons aan op die plaas en nou word ons in die skietkuns ingelyf. Netjiese punt twee-twee maar niks om te jag nie want oupa is al oud en loop nie meer ver nie. Die enigste wild wat ons kon identifiseer is toe een van ouma se broeihenne. Natuurlik ’n doodskoot.


Die jagters en oupa Jan voor die opstal op die plaas naby Middelburg. Hennie staan regs op die foto

Hoe rapporteer ons die skade aan ouma? Oupa kom tot ons redding en laat die hen verdwyn. Die aand aan tafel hoor ons hoe oupa vir ouma vertel dat hy vermoed ’n jakkals het die hen gevang, want hy het die karkas in die veld, nie ver van die huis af nie, gekry.

Nou sal julle my seker tot leuenaar maak, maar ek het met my eie oë gesien hoe ouma van hoendervere melkkos maak.

~*~*~*~

’n Somervakansie wat hy goed onthou was toe hy in standerd vier in Brentwood Park Laerskool tussen Kemptonpark en Benoni was, vertel Pieter Boshoff.

Daar was ander vakansies ook, maar dit was sy ouers se vakansie, waar hy net saamgegaan het.
Dit was in 1954 en na ’n lang gewag en die vooruitsig om in skooltyd op sy eie na die Kruger Wildtuin saam met die skoolgroep te gaan, het uiteindelik aangebreek. Dit was net ’n gewone bus met twee onderwysers en twee onderwyseresse. Ander skole het ook met aparte busse saamgegaan na dieselfde eindbestemming.


Pieter Boshoff

Pieter se kinderhartedief, met haar pragtige lang vlegsels, sou ook op die bus wees.
Dit was heerlik warm en hulle het in tente geslaap. Een dag was daar ’n groot konsternasie toe hulle wakker word en een van die meisiekinders se klere en onderklere lê oor die hele kampterrein verstrooi. Later het ons gehoor dat dit waarskynlik ’n hiëna was. Die tente is daarna snags deur ’n nagwag opgepas.

“Ek het nie veel van my kinderliefde gesien nie en het oplaas met een van die meisies van ‘n ander skool maats gemaak en adresse uitgeruil,” vertel Pieter.

Hy was baie opgewonde toe sy vakansiemeisie later vir hom skryf, maar tot sy groot vernedering is die briefie uit sy hande gepluk en hardop in die klas voorgelees. Dit was die laaste keer dat hy sy kinderliefde in die oë kon kyk.

~*~*~*~

Eiendomsagent, Mari Botha, sê sy was agt jaar oud toe haar pa vir die gesin ‘n vakansiewoonstelletjie reg teen die strand van Umtentweni vir ‘n skamele R20 000 gekoop het.

Daarna is hulle eenmaal per jaar vir ’n skoolvakansie kus toe. Mari onthou vandag nog die bruin- en roomkleurige blokkiessitkamerstel wat klam teen jou vel gekleef het wanneer jy die eerste keer daardie jaar daarop neerplons.


Mari Botha

Sy onthou die litchis wat hulle in ‘Checkers-sakke’ by Oubaas John onder die boom aangekoop het en die lagoon wat jou partymaal op jou ‘boogie bord’ in die see uitgespoeg het. 

Vandag verlang haar hart nie noodwendig na die suidkus nie, maar na daardie woonstelblok wat soveel maatjies en vreugde na haar kinderjare gebring het. 


Die woonstelle by Umtentweni

As eiendomsagent kan sy nie help om te wonder waarvoor die woonstelletjies vandag sou verkoop nie, sê Mari.

~*~*~*~

Adele Loocke van Deventer van die Mooikloofgebied se eerste herinneringe wat opduik van haar jeugjare se seevakansies is die vakansies saam met die familie elke jaar by Hartenbos.

Wat ’n fees vir kinders was daardie strand nie. Daardie jare het hulle vry gevoel, dit was veilig om as ’n lekker groep maats, wat ons jaar na jaar gemaak het, daar rond te loop, sê Adele.

Die rolskaatsbaan en die sokkies was hoogtepunte, die strandverhoog met verskeie kompetisies en speletjies vir oud en jonk was vet pret. Dit was ’n regte gesinstrand.


Adele Loocke van Deventer

Die waterwurm amper reg op die strand, die dans by die Lagoon Hotel en die ATKV-konserte sal sy altyd onthou. En op Kersdag kom almal by die opelug amfiteater byeen. Ja, hierdie vakansies sal sy sowaar nooit vergeet nie, sê Adele.

Wat vir haar in ‘n mate hartseer is, is dat alles daar nou ’n bietjie meer gekommersialiseer is, maar sy hou steeds van die strand.

“Hierdie jaar vat ons die kinders soontoe. Ek kan nie wag nie!”

~*~*~*~

Hy is een van daai gelukkige mense wat goed kan onthou van selfs toe hy bitter jonk was, sê Ben Geldenhuys van Kleinfontein.

Hy was ‘n kleuter toe hulle op die eerste vakansie was wat hy kan onthou. Die gesin was Lourenço Marques (deesdae Maputo) toe.


Ben Geldenhuys

Dit was die kleine Ben se eerste seevakansie en sy pa het hom vooraf vertel dat daar branders in die see is. Gevolglik was Ben vreeslik bang vir die see toe hy vir die eerste keer op die strand kom, omdat hy vas geglo het die ‘branders’ gaan hom brand.

Dit was hulle enigste en laaste vakansie daar, want kort daarna het die sogenaamde onafhanklikheid in Mosambiek plaasgevind.

~*~*~*~

Haar eerste somervakansie was in die Kruger Wildtuin saam met haar ouers en dit was van begin tot einde ‘n groot en baie spesiale ervaring, sê Louisa Pretorius van Mooiplaats.

Sy kan onthou hoe opwindend dit was om vir die eerste keer al die wilde diere te sien en hulle te leer ken. Die tente waarin hulle geslaap het en die groot vure wat gemaak is om kos op voor te berei, was ook ‘n wonderlike nuwe ervaring.

Om die vuur is snags groot gekuier en stories uitgeruil oor die diere wat die dag gesien is. Dit was soos een groot familie wat saam gekuier het, sê Louisa. Die tamaaie swart waterketels met krane aan waar vuur onder gemaak is vir warm water, sal haar altyd bybly.


Louisa Pretorius

‘n Voorval wat sy goed kan onthou was toe die gesinsmotor êrens waar hulle die dag gery het, onklaar geraak het. Haar pa het eers self probeer om die fout op te spoor maar het ná ‘n ruk besluit om maar in die pad te val om hulp te gaan soek.

Die res van die gesin het benoud in die motor bly wag. Dit was baie warm en haar jongste boetie, wat nog ‘n baba was, het hulle ore van hulle koppe af geskree, sê Louisa. Gelukkig het iemand haar pa langs die pad gekry en hom na die naaste kamp geneem, waar hy by die AA-kantoor kon gaan aanklop vir hulp.

Louisa sal haar pa altyd dankbaar bly daarvoor dat hy hulle daardie somervakansie aan die wildtuin voorgestel het. Sy en haar huisgesin en aangetroude kinders is vandag nog net so lief vir die wildtuin en dit bly altyd hulle eerste keuse vir vakansie.

 

© 2019 Die/The Bronberger