Print E-mail
News - Toeka se dae
Monday, 12 December 2016 15:35
Untitled Document

Alet Maritz van Willow Park Manor het twee geskiedkundige foto’s wat sy dekades lank bewaar het vir die Bronnie gestuur. Alet is in haar tagtigs en haar kinders het altyd gevra hoekom sy dié foto’s gehou het. Sy sê sy het geweet dat iemand eendag iets daaroor sal skryf.

Die foto’s is van die Britse koninklike besoek aan Suid-Afrika. Alet sê sy het drie foto’s gehad, maar die mooiste een het tussen neus en oë verdwyn – dit was waar die hele koninklike familie saam met Ouma Isie en generaal Smuts op Doornkloof tee drink.

Ná Alet in Die Bronberger oor dié teedrinkery gelees het, het sy besluit om haar oorblywende twee foto’s vir die Bronnie te gee. Sy sê dat sy mal is oor die geskiedenisstories in die Bronnie.

In die artikel oor ouma Isie het ons geskryf dat dit ongekunstelde Isie se idee was dat die Britse koningsgesin eerder in die Smutse se hout-en-sinkhuis op Doornkloof onthaal moes word, in plaas van die deftige ampswoning, Libertas, in Pretoria.

Isie is as ’n kalm mens met vrede in haar siel beskryf en haar optrede was altyd natuurlik, dit maak nie saak wie kom kuier het nie. Met koning George VI en sy familie se 1947 besoek aan Doornkloof het Isie met hulle gepraat asof sy hulle al jare lank geken het. Die koningin het aan Isie geskryf as “My dear Ouma Smuts”.


Alet Maritz sê sy dink dit is JGN (Koos) Strauss en sy vrou saam met prinses Elizabeth

Name
Alet sê sy weet nie wie al die mense op die twee foto’s wat sy vir die Bronnie gestuur het, is nie. Sy meen dat hulle met die koninklike besoek aan Suid-Afrika geneem is. Sy herken die koninklikes en Jan Smuts op die foto’s, maar weet nie wie die dogtertjie is wat die geskenk oorhandig nie.

Op die tweede foto dink sy die man is die Strauss wat Jan Smuts as leier van die Verenigde Party opgevolg het en dat die vrou sy eggenote is. JGN (Koos) Strauss het Jan Smuts in 1950 as leier van die Verenigde Party opgevolg. Op sy beurt is hy in 1956 deur Sir De Villiers Graaf, wat die leier tot in 1977 was, opgevolg.

Koning George VI en koningin Elizabeth (later bekend as die ‘Queen Mother’) het Suid-Afrika saam met prinsesse Elizabeth en Margaret besoek. Op 21 April 1947 het prinses Elizabeth haar 21ste verjaardag in Kaapstad gevier. Haar verjaardagtoespraak is wêreldwyd vanaf Kaapstad uitgesaai.


Prinsesse Elizabeth en Margaret, voor, ontvang ‘n geskenk van ‘n onbekende dogtertjie met hulle 1947 besoek aan Suid-Afrika. Jan Smuts en die koningin kan in die agtergrond gesien word

Kerkplein
Alet Maritz vertel hoe sy die foto’s in die hande gekry het. Sy sê dit was iewers vroeg in die 1950’s en die hele Kerkplein was opgemaak. Sy dink dit was vir die kroning van prinses Elizabeth. Daar was ‘n kraampie op die plein wat foto’s verkoop het. Op pad werk toe het Alet die foto’s vir vyf sjielings gekoop.

Koningin Elizabeth II was maar net 25 jaar oud toe sy op 2 Junie 1953 gekroon is. Haar pa, koning George VI, is op 6 Februarie 1952 oorlede. Om ‘n routydperk toe te laat, was die kroning eers meer as ‘n jaar ná sy dood. Dit was die eerste Britse kroning wat op televisie uitgesaai is.

 

© 2024 Die/The Bronberger