Beskerm jouself só teen vloedskade PDF Print E-mail
News - Artikels
Monday, 12 December 2016 13:32
Untitled Document

’n Tornado, wolkbreuke, skielike vloede wat huise oorstroom en paaie onbegaanbaar maak, haelstorms – dié is weerverskynsels wat mens en dier in die Bronberg-gebied die laaste paar maande geteister het. Ons het by versekeringsmaatskappye gaan aanklop vir raad om eiendom te beskerm.

As jy in ‘n haelstorm op die pad gevang word, trek onder ‘n brug af of by ‘n vulstasie. Moenie onder bome parkeer nie omdat daar ‘n gevaar is dat takke op jou voertuig sal val of die boom deur weerlig raakgeslaan kan word. Hou ‘n swaar kombers in jou kar en gooi dit oor jou enjinkap as jy jouself sonder onderdak-beskerming in ‘n haelstorm bevind.

Pad
Bewegende water van slegs 15 cm diep kan jou van jou voete af stamp. Water van net 60 cm diep kan jou voertuig laat wegdryf. Moenie deur vloedwater ry wat dieper is as die onderkant van jou motor se deure nie. As jy in vloedwater gestrand is, moet jy eerder jou voertuig verlaat en na hoër grond beweeg.

Vermy brûe en paaie langs spruite en riviere as daar vloedwaarskuwings is. Wanneer jy ‘n stormwaterdrein wat in vloed is teen ‘n hoë spoed nader is dit raadsaam om jou voet van die petrolpedaal af te haal en jou voertuig geleidelik te laat spoed verloor. Moenie skielik remtrap nie, omdat dit jou voertuig kan laat gly.


November-oorstromings in die Silver Lakes-gebied

Skuif
Ten tye van vloedwaarskuwings, skuif waardevolle items en elektriese toebehore na ‘n hoër vlak of op ‘n rak. Lig gordyne, dekens en beddegoed op. Ontkoppel die krag en die gas by die hooftoevoer en prop alle elektroniese toestelle uit om kortsluitings te verhoed.

‘n Paar alledaagse onderhoud-takies kan vloedskade verminder. Maak seker dat jy jou geute skoonhou. Sny dooie en verrotte takke gereeld af en stoor buitenshuise meubels binnenshuis of maak hulle stewig vas.

Sandsakke
Dit is goeie raad om sandsakke aan te skaf en oor vloerafvoerpype en dreine te plaas (soos in ‘n waskamer, stort en bad) om die terugspoel van gryswater te voorkom. Sandsakke moet ook voor deuropeninge, roldeure en steenventilasie gebruik word. Dit verminder die hoeveelheid water wat jou huis sal instroom.

Lê ʼn stuk plastiekvel neer om ‘n waterbestande membraan te vorm. Lê die sandsakke soos stene bo-op die plastiekvel.

Ventilasieholtes tussen steenwerk mag ook sandsakke vereis, alhoewel klein holtes met plastiek of waterbestande kleefband toegemaak kan word.

Sandsakke wat aan vloedwater blootgestel was, moet weggegooi word. Dra sterk handskoene wanneer nat sandsakke hanteer word, omdat vloedwater skadelike afval, chemikalieë en besmetlike stowwe kan bevat.

Sandsakke moet nie hergebruik word ná dit in kontak met vloedwater was nie.

 

© 2016 Die/The Bronberger
Powered and hosted by Bronberg Online